Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Ons sê dankie vir die reën. Die Here is goed vir ons, kom ons loof en prys Hom nie net vir die reën nie maar vir al die ander genade en guns wat Hy gee. Lees asb Kol 1: 9 - 14 "Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes." Boekmerk asb hierdie deel in jou Bybel en kom ons lees dit elke dag vir die volgende week of drie. Selfs meer as een keer per dag. En met elke lees bid jy oor dit wat vir jou uitstaan. En later bid jy elke vers vir die gemeente. Bid ons dankbaar vir mekaar, bid ons vir groei en toename in goeie werke en in ons kennis van God. bid ons dat God met Sy krag ons die sterkte sal gee om geduldig te volhard. En en enso aan. Dit is die tipe gebede wat jou gebedslewe gaan verdiep en God se gemeentes hier in Deneysville gaan verander. Dankie dat ek op jou kan staat maak vir bg. Bid vir die ekonomie. Vir werksgeleenthede. Bid vir die regering (dis ons Bybelse plig). Bid vir onderwys en onderwysers. En bid vir die ouers. Bid VERAL oor die seksopvoeding wat die onderwys departement so stil stil probeer inglip. Bid teen die beoogde wetgewing vir grondgrype. Vir die gemeente: (Hou asb aan met hierdie sake. Dit is maak en breek belangrik vir ons as gemeente) 1. Bid dat ons Jesus sal volg in alles. Elke lidmaat gefokus agter Jesus aan sal leef soos Hy ons elkeen lei in ons eie lewens. 2. Bid dat ons nie meer sal leef nie maar Jesus in ons sal leef. 3. Bid dat ons werklik die pad van sefverloëning sal stap. Matteus 16: 24 los jou met die keuse: wil jy of wil jy nie? As jy wil, DAN moet jy jouself verloën. Christenskap sonder selfverloëning kan tog nie. As jy saam met Jesus wil leef dan moet jy jou kruis optel en Hom VOLG. Bid dat ons hierdie besluit duidelik voor oë sal kry en dit neem! 4. Daarmee bid ons dan dat ons in Jesus se gemeente hier ter plaatse, Hom sal volg, en onsself sal verloën twv Hom. Dit is ongelooflik belangrik: Bid asb hiervoor sonder ophou. 5. Bid dus dat ons soos God sal liefhê en soos God sal vergewe. Sondag is nagmaal op Deneysville. Bid asb dat ons harte voorbereid sal wees en ons onsself wel deeglik voor die Here verootmoedig het en gebreek het met ons sondes. Mag die Here Sy doel met die nagmaal volledig in ons kan bereik. Siekes: Oba; Annemarie; Attie; Anette P; Richard; Andre en Cindy; KoosvZ; Neville; Louis C; Susan C; Pieter dP; Lily G (sy is prematuur gebore); Michelle G; Piet H; Marietha B; Annatjie; Hester E; Flippie; Daan. Met Lily gaan dit goed onder omstandighede, sy is af van suurstof af. Ons vorder. Met Pieter dP gaan dit ook aansienlik beter. Annemarie moet die skade van die bestraling omgekeer word. Een van ons mede-lidmate is betrokke by 'n sendeling. Lg beleef aanvegtinge van die Bose af en is onder druk (hy en sy gesin). Kom ons bid vir hierdie man en sy gesin en vir sy bedieningswerk. Baie dankie vir u liefde en trou aan die Here. Ek bid dat die Here by jou sal wees en dat jy daarvan bewus sal bly en geseën sal wees deur die Almagtige se teenwoordigheid in jou en om jou.