Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? vra die Koragiete (2x) in Psalm 42. En in Psalm 43: 5 word dieselfde vraag gevra.Dieselfde antwoord word gegee wat maak dat geleerdes wonder of psalms 42, 43 nie dalk een psalm op 'n tyd was nie. Die antwoord is: "Vertrou op God! Ja ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. hy is my helper en my God." In die moeilike tye waarin ons leef met stygende kostes, swak regering, korrupsie, staatkaping en misdaad en nogeens wrede misdaad is dit maklik om perspektief te verloor. En al manier om dit te behou is om die aandag op God te fokus. En om biddend voor God te bly. So kom ons bid: 1. Laat U Naam geheilig word. En terwyl ons dit bid leef onss soos mense wat God se Naam heilig ag. 2. Laat U koninkryk kom. En ons leef elke dag as koninkryksmense terwyl ons nooit vergeet dat ons koninkryksmense is slegs deur die genade van Jesus Christus heen. 3. En ons bid laat U wil geskied, netsoos in die hemel so ook op aarde en so ook deur ons selwers. Hierdie drie bedes van die onse Vader gebed is die grootste evangelisasie toerusting wat ons het en dit is ook die grootste lewensverandering wat dit bring in 'n bidder se lewe. Bid dit soos 'n klein kindjie wat weet ons is totaal afhanklik van ons Vader vir dit. Bid dit vir die gemeente en vir die gemeenskap van Deneysville en Vaalmarina. En bid dit vir ons streek en land. Kom ons deurdrenk hierdie areas met hierdie gebed. Bid vir Saterdag se vrouedag. Bid vir die spreker Tania Strauss en vir die hoorders, vir die reelings en gebeure. Bid dat God se wil met hierdie geleentheid mag geskied. Bid vir die eredienste en berei voor vir die dienste deur skuldbelydenis en gebed en ook in stilte na God luister. Bid vir ons as gemeentes se offerbereidheid. Dat ons God ten volle sal vertrou met ons lewens, so sal vertrou dat ons elke area oorgee aan Hom. Ook ons geld en ons besit. Bid vir die siekes. Bid vir reën en vra vir 'n goeie reënseisoen en landboujaar. Bid vir vrede en die wegwas van al die haat wat tussen mense lê. Haat is nie God se wil nie. Vrede en liefde is en so ook geduld met mekaar. Bid vir die grondhervormingsdebatte en ander politieke speelballe van ons tyd. Bid vir werkskepping en groei. Bid teen misdaad. Bid vir misdadigers om tot bekering te kom. Bid vir die SAP en Korrektiewe beamptes. Ten laaste bid vir mekaar.