Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
As ons ons net aan Eksodus 20 sou meet, loop ons die risiko om ons eie vroomheid hopeloos te oorskat. Want ons pleeg nie moord nie, ons steel nie, ons begeer nie ons medemens se vrou of man nie en ons het glo in God. Ons sal vir jou vinnig sê God is eerste in ons lewens. Maar wat daarvan as ek na die hart van die 10 gebooie sny, die belangrikste gebod uitlig en dit gebruik as evaluering? Het ek God dan liewer as enigiets anders in my lewe? Ja sê baie totdat jy oor hul dankoffers praat. Het ek my medemens so lief soos ek myself het? En ten hierdie tyd weet ons ons word net uit genade alleen gered. Dit is net God se aangrypende groot liefde wat tussen ons en die verdoemenis staan. Dit maak sin om dan te bly bid vir die volgende weke dat God se liefde al hoe meer gestalte in ons lewens moet kry. Dit is tog die kern van die wet, volgens Jesus. Dit is tog wat ons moet leef en waarin ons tegelykertyd so misrabel erg in faal. Kom ons bid dat die Here deur Sy groot liefde ons so sal aangryp dat ons nie anders sal wil as om Sy liefde uit te leef. Bid steeds dat elke gemeentelid die wortels van hul lewens al hoe dieper sal insteek in God se liefde in. So baie gelowiges se lewens sien presies dieselfde uit as enige ordentlike ongelowige s'n. Daar is niks wat ons laat uitstaan nie. Trouens baie skinder, maak seer, steek rugge toe soos enige ander ongelowige. Hulle het net die lief wat vir hulle lief is. Jesus het tog duidelik gesê dan is ons mos niks anders as die tollenaars nie. Hulle maak ook net so. Bly dan bid vir die liefde om tot sy reg te kom in ons lewens in Deneysville. Bid dat enig een wat ter eniger tyd op die kerklike terrein in Main str 28 kom, liefde sal aanvoel en beleef. Bid dat enige mens wat ons raakloop in die week sal mag ervaar in ons gedrag en woorde dat God liefde is. Dit is 'n grootse wonderwerk wat ons hiervoor bid. Maar bid asb ... want God spesialiseer in wonderwerke.