Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Lees Lukas 10: 25 - 37 Die vraag na die grootste gebod. Jesus antwoord deur twee bekende Ou Testament dele by mekaar te voeg. Jy moet God lief hê (Deutr 6) en jy moet jou naaste liefhê (Lev 19). Die wetsgeleerde wou toe tipies van 'n wetsmens weet, maar wie is my naaste? Dit is die tipe vraag wat wil weet waarmee kan ek weg kom en waarmee nie. Wat is toelaatbaar en wat nie? Die vraag suggereer alreeds twee dinge: 1) Hy is onseker van God se liefde vir hom. Hy weet nie dat daar niks is wat hy hoef te doen om deur God lief gehê te word nie. 2) Hy het nie liefde vir alle mense nie. Jesus vertel toe die storie van 'n Samaritaan wat vir 'n Jood doen wat die priester en leviet nie vir hulle eie volksgenoot wou doen nie. Samaritane was gehaat deur die Jode. Dit daar gelaat. Ek haal die storie op om vir iets anders te kan bid. Om met die vraag te worstel oor my liefde vir ander. Het ek die mense wat God om my geplaas het, vandag werklik liefgehad? Kon hulle dit beleef / ervaar dat ek hulle liefhet? Die Jood wat stukkend geslaan en rot en kaal besteel is het tog die Samaritaan se liefde ervaar. Die ander twee het hom dalk ook liefgehad, maar hulle liefde het niks gedoen aan sy nood nie. Hulle het dit dalk in hulle harte gevoel, maar nie gesê nie en definitief nie gedoen nie. Kom ons maak dan ons gebed vandag 'n daad: Ons gaan doen goed aan iemand ongevraagd as 'n gebed van dank aan God vir Sy liefde. Ons doen dit omdat ons reeds intens bewus is van God se liefde vir ons. En more doen ons dit weer. Uit liefde vir God. En jyself sal Sy liefde ervaar, dit sal jou vul. En saam met dit bid ons vir ander ook. Ons bid vir die volgende siekes: Annatjie, Letiti, Oba, Annette, Skattie, Willie, Rita, Marie en enig ander waaraan jy kan dink. Ons bid vir die mense om ons. Die Here het ons met 'n doel tussen hulle geplaas. En ons vir hulle gegee. Bid asb ook vir die erediens Sondag. Vir die Heilige Gees om in die prediker te werk in die week reeds en dan veral weer op Sondag. Vir God se teenwoordigheid. Vir voorbereide harte en lewens. Bid vir reen in die Kaap en ander droogte geteisterde dele. Bid vir almal wat deur die brande en erge storms geraak is. (Knysna, Plett, Kaap.) Bid dat die Here se liefde ons sal vul.