Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Vrydag Mattus 14: 13 - 21 Hierdie week is ons herinner daaraan dat Jesus al hoemeer gestalte in ons lewens moet kry. En dat ons gees en gedagtes vernuwe moet word. Ons het tot die besef gekom hoe vêr ons wil van God se wil af kan wees en ons het stil geword. In verlede jaar het ons periodiek stilgestaan by een van die 144 tekste in die Nuwe Testament waarin die woord “mekaar” voorkom. So ek gaan probeer om agter Jesus se omgee “in te kyk.” Vanmiddag gaan oor vers 14. Jesus se gesindheid: Sien die nood en kry innig jammer. Agter hierdie gesindheid, agter alles wat Jesus is, gedoen het en steeds doen, lê die liefde. Johannes 3: 16 en verder is tog baie duidelik daaroor, God se Seun het mens geword omdat God die wêreld so lief het. Ek weet nie of ons aldag besef hoe belangrik dit is dat ons sal liefhê nie. En nie net ons fmilie en vriende nie, maar almal wat deur God oor ons pad gestuur word. Dit gaan oor meer as net ‘n positeiewe gevoel jeens ander. Kyk maar as Jesus praat oor die eindtye daar in Matteus 24 en verder. Dan praat Hy oor die skape wat van die bokke geskei sal word. En hoe die Vader dan vir die aan Sy regterkant sal sê: Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet. Ek was dors ... Ek was dors en jy het my liefgenoeg gehad om vir my water te gee ... kan ek dit so sê? Ons volg Jesus. Ons werk hierdie week aan ons oorgawe sodat Jesus al hoe meer gestalte in ons kan kry. Vandag dan: Sien die nood en kry innig jammer. En soos Jesus, doen iets daar om trent. Selfs ten koste van jouself soos toe Jesus die nuus gekry het van Johannes die Doper se dood. Toe wou Hy Hom van die mense onttrek na ‘n stil plek om alleen te wees. Net om te ontdek toe Hy uit die boot klim dat ‘n groot skare reeds daar wag. Hy het hulle nie weg gestuur nie. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. En dit opgevolg met die vermeerdering van die brood en vissies. Wat ons miskyk is dat Jesus self niks gehad het nie. Die dissipels het volgens Matteus se weergawe vyf brode en twee vissies gehad. Wat hulle dalk by ‘n seuntjie gekry het? Nie genoeg vir die grootheid van die behoefte nie. Jesus het God vertrou. Ons is gou met ek kan nie. En gou om moedeloos te raak met hoe groot die nood is. En soms dink ons as ons iets iewers aangemeld het sodat iemand ander dit moet hanteer dan het ons ons deel gedoen. Dan kan ons net terugsit en kritiseer. Dit is nie liefde nie. Gaan sit met 1 Johannes 4: 7 en verder en lees dit oor en oor en word dan stil. God is liefde. En God se liefde raak hoe ons met ander leef. Dit raak ons hele belydenis oor God. Moet my nie afskryf vandag nie. Moenie hierdie woorde ignoreer nie. Praat met die Here hieroor. Vra Hom om ons gees en gedagtes nuut te maak sodat mense Sy liefde in ons en by ons kan beleef. Soos iemand geskryf het “I live a simple life so that others may simply live.” “Leef eenvoudiger sodat ander eenvoudig net kan leef. Geleentheid vir gebed.