Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Woensdag Wees iemand wat ander se dos les. Esechiel 47: 1 – 12 Lees ook Esechiel 43: 1 – 5, Johannes 7: 38 Dit is ‘n pragtige prent van heel word. Dit herinner my aan die omkeer in die natuur wat ons met die reen saam beleef het. So die beeld behoort maklik tot ons te spreek. Dink 2017. Dink ... God wat alles nuutmaak. Van woestyn na lushof vol bome en groei en lewe. Ek wil die grootwoord van Johannes 3 gebruik: ‘n wedergeboorte. Jy weet nie waar dit vandaan kom of hoe dit werk nie. Jy weet net dit gebeur. Dit gebeur by God. Waar God is. Esechiel sien in die visioen hoe die Dooie See omgekeer word in ‘n vars water meer, vol vis. ‘n Mens moet die oorvloed van die beeld raaksien. Baie vis. Net die kuile en fonteine om die Dooie See sal sout bly soos dit tans die geval is. Maar waar die water vloei kom daar lewe. Bome, groot bome. Vrugtebome wat dra en dra. Blare wat gesondmaak. Kom ons praat vir ‘n oomblik oor die water. In 36: 24 is dit reinigingswater. In 47 is dit water waardeur God alles vernuwe. In Johannes is die strome water waarvan Jesus praat die Heilige Gees waardeur God ons wedergebore maak. Wat jy ook vandag moet raaksien is dat God net teenwoordig hoef te wees vir al die dinge om te gebeur. Kom ek stel dit beter: God is die Bron van waar die water kom. God is die een wat die lewe gee. Waar God is, daar gebeur amazing dinge. Waar God is, is lewe in oorvloed! Wil jy regtig elders wees? In Esechiel 43 is God in die tempel. Vol mag en glorie. Selfs net die visioen van God se verskyning het so ‘n effek op die profeet gehad dat hy plat neergeval het. So groot en oorweldigend is God. Soos die visioen verder ontvou sien hy die water wat onder die tempel se drumpel uitsyfer. En water syfer onder die Oospoort uit. En dan lees jy van water wat meer en meer word. Enkeldiepte. Kniediep. Halflyf en dan hopeloos te diep. Sover hierdie water gaan ... word alles heel en nuut. God laat groot hoëbome staan. Allerlei vrugtebome. Die vrugtebome se blare verlep nie en hulle vrugte raak net nie op nie. Die blare bring genesing. In Openbaring 22:2 lees ons ook van so ‘n boom en van ‘n vol rivier. “1 Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. 2 Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies” Tussen Esechiel en Openbaring staan Jesus Christus. In Hom, so leer ons by Johannes, in Hom is die Lewe. Lewe in oorvloed (Joh 10). In Jesus se woorde is God die Boer, Jesus self die wingerdstok en ons die lote wat moet vrug dra. In Johannes 4: 11 is Jesus die lewende water. As jy die lewende water drink sal jy nooit weer dors kry nie. In Johannes 7: 38 sê Jesus dat as ons in Hom glo dan laat Hy Strome lewende water uit ons vloei. Hou in gedagte dat Hy Sy Heilige Gees, ... die Gees van God in ons laat bly en ons liggame tot tempel van God maak. Sy lewende water sal uit ons vloei. Sien vir ‘n oomblik in jou geestesoog hoe die lewende water jou bereik ... die stroom tot by jou vloei en jou lewe omskep in ‘n lushof vir God en jouself. Sien nou hoe die stroom wat van God af na jou gevloei het, nou ... vanaf jou vloei ... oostroom oor die kante van jou lewe... na die mense om jou ... die met wie jy te doen het .... Na wie toe vloei dit? Gaan wees die lewende water vir hulle. Laat God se liefde deur jou na hulle toe vloei. Kom ons bid dat: Stilgebed 1. Die Here dit so sal laat wees opnuut weer vir ons. 2. Dat die Here Sy goedheid oor die kante van ons lewens sal laat stroom na ander 3. Die Here ons sal bewus maak na wie toe Hy Sy lewende waters wil laat stroom. Geleetheid om voor te gaan in gebed. Laat die Heiige Gees jou lei in gebed. Vra Hom om jou die woorde te gee waarmee ons kan bid sodat kan vogens die wi van ons Vader. Gebed.