Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Psalm 119: 39 en 40: 39 Die venyn van mense, daarvoor is ek bang, moenie dat dit my tref nie. Maar u bepalings, dié is goed. 40 Ek wil u bevele nakom. Hou my in die lewe, want U is getrou. 'n Mens sien in die media hoe afbrekend mense mekaar kan hanteer. Met venyn! En jy sien dit in die normale gang van die lewe. Mense is dikwels uiters onaangenaam en afbrekend. Darem nie almal nie. Die digter gee ons raad hiermee. Hy leer ons om te bid oor juis dit. En dalk, so tussen die lyne om self nie ander so te hanteer nie. Veral as jy verder lees. Ons vind dit ook in Psalm 27.: "12 Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan. 13 As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...! 14 Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here! Psalms 27:12-14 Baie van die seer in Suid-Afrika het te doen met woorde en houdings. Venyn. Dit spoel oor in geweld waar mense skynbaar uitgaan om ander so seer moontlik te maak. Dis nie net huisbraak nie, nee, dit gaan gepaard met gruwelike geweld. Kom ons bid hierdie week hieroor. Bid vir vergifnis en vrede tussen mense van alle rasse, onderling en oor rasgrense heen. Bid vir herstel en heropbou. 'n ekonomiese beleid wat ruimte skep en dit maklik maak vir mense om besighede te begin en mense te huur en te laat gaan sodat daar meer werksgeleenthede kan kom. Bid vir besighede wat sukkel om te oorleef. Bid teen al die geweld (fisies en woorde) in hierdie land. Teen misdaad, korrupsie. Bid vir reen oor veral die dele waar dit steeds so bitter droog is en damme leeg is. Bid vir die kerk van Jesus om onderling verdraagsaam te wees en vir Christene om nie so vernynig op mekaar te reageer nie. Die komentaar van sg gelowiges in die media is dikwels uiters afbrekend en liefdeloos. Bid vir gemeentes om ekonomies te oorleef en werklik te werk aan die uitdra en uitleef van die evangelie. Bid dat ons almal getrou aan God sal bly. Bid vir die siekes. Bid teen covid en wat dit aan families doen. Sterftes. Bid vir die personeel en medici wat die siekes moet help. Dankie Here vir sulke gestuurdes van U. Bid vir mekaar en sê elke dag dankie vir die gesondheid wat jy het.