Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
So vorder ons lockdown periode. En ek hoop dat al ons goeie voornemens om geestelik te verdiep en meer te bid in plek val. Mag ek vra: Waarvoor bid ons? Eintlik wonder ek of ons meer ingestel is op die vra van dinge (gesondheid, kuur vir covid-19 ens) en of dit ten diepste oor God gaan? Iemand, dalk was dit Stephan (ek kan nie meer onthou nie) het opgemerk dat ons gebede dikwels lyk asof ons God in 'n raadgewende hoedanigheid dien. Ons is nogals spesifiek in wat God moet doen wanneer ons bid. Paul Yongi Cho het weer iewers geskryf dat as jy bid moet jy baie spesifiek wees in wat jy vra. Hy het bv 'n fiets gesoek om sy werk mee te kon doen. Hy wou 'n Amerikaans geboude fiets gehad het want hy was van mening dis sterker fietse. En hy het 'n tweedehandse een ontvang. Albei standpunte het meriete. Maar wat van as ons by God gaan sit en alles sê wat ons op die hart het, sonder om opdragte of raad aan God te gee? Ons is tog so beperk in ons visie. God hierteen oor sien 'n baie baie groter prentjie. Ons almal was sekerlik al dankbaar dat die Here ons nie alles gegee het waarvoor ons al gevra het nie want ons lewens sou dalkies dan net in 'n gemors verander het. So kom ons vertel vir die Here ons vrese oor Covid-19.Die impak wat dit op die armstes het en op die broses (bejaardes veral). Kom ons vertel die Here dat ons regtig nie weet wat wag as ons weer begin werk nie. Gaan daar nog 'n werk wees?; Gaan my besigheid die afgraderings en die 21 dae se geen inkomste oorleef? Vertel Hom van jou vrese oor jou huis-paaiement en van jou pensioen wat so krimp. Jou kleinkinders. En vra dan ... En vra dan dat die Here se wil geskied. Dat die Here doen soos Hy weet die beste is. Vra Hom om jou te help om binne Sy wil te bid. Hier is bekommernisse wat ek graag sal wil jy saam met my by die Here moet aanroer: 1. Sy koninkryk meer sigbaar mag word in ons land. 2. Sy wil geleef. 3. Hierdie ramp wat ons Covid-19 noem met al sy newe effekte. Mense wat nie kos het nie, nie kan werk om kos op die tafel te sit nie, werk verloor het dalk. Dit is maklik vir ekonome om te sê 6 maande of meer voor die ekonomie sal lig (wêreldwyd) maar wat van jou en my en wat van veral die armes vir wie se ekonomie nooit lig nie. 4. Die kanker lyers. Die met beroertes en osteoperose en lupis en en en. 5. Reën 6. Finansies van ons as gemeente. 7. Ons eie-ek en oprukkerigheid wat so probleme maak tussen mense. 8. Vrede. Vrede en nog vrede. 9. Die uitdra en uitleef van God se woord. Dankie vir jou gebede. Mag die Here jou laat ervaar dat Hy by jou is.