Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Die corona virus. Dit is op elke voorblad en op baie se gedagte. Mense raak beangst. Vannag begin die 21 dae lockdown. Voorwaar 'n vreemde tyd vir ons almal. Ons ken dit nie. Ons anker is God. Ons vertroue en ons hoop is in God. Hy is ons Vader. Bid vir rustigheid wat net kan kom met die besef dat God in beheer is. Nog niks het verander nie. God is steeds in beheer. Die virus gaan as dit versprei die hospitale se vermoeens erg toets. Bid vir hospitaal personeel en vir die voorsiening van medisyne. Meer belangrik is om te bid dat die virus hier in Afrika 'n vroee en vinnige dood sterf.En daarna ook in die res van die wêreld. Ek dink nie een van ons verstaan regtig die rykwydte of impak wat hierdie virus op ons lewens gaan hê nie. Niks gaan weer dieselfde wees nie. Tog leer ons om nie oor more te bekommer nie maar op Christus te bly fokus. Hy sal voorsien. Al wat ek en jy het is die hier en die nou en ons het dit saam met Christus se teenwoordigheid. Bid dat Hy ons aandag by Hom sal hou en ons bewus sal hou van die feit dat Hy ten alle tye by ons is. Bid ook vir die adner newe effekte soos werksverliese, finansiele hou wat ons almal gaan voel, moontlik verlies van geliefdes, en bid. Bid. Bid. Naas by die huis bly is dit die belangrikste ding om te doen. Fokus op God en praat met Hom. Jy mag. Die Here het vir jou die vrye toegang tot die Almagtige verdien juis oa vir dae soos hierdie (Hebr 10). Bid dat God se koninkryk sal kom en Sy wil sal geskied in en deur ons elkeen. God kan dit gee. Vra dit by Hom. As ek mag draai na my en jou, ons wat deel vorm van Christus se gemeente hier op aarde, deel van Sy liggaam. Bid vir die gemeentes regoor die wêreld. Ook vir ons hier in Deneysville. Bid vir geestelike verdieping in, groei in ons verhouding met ons Vader. Bid vir die gemeente se finansies. En die gemeentelede se finansies ook. Ons kort 'n wonderwerk. Bid vir ons om nuwe maniere (vir ons dalk nuut) te vind om die evangelie by almal uit te kry. Bid vir die kerkraad wat moet kontak hou met ons bejaardes dat ons hulle waar nodig kan help deur dra. Bid asb steeds die onse Vader. Jy besef seker ook dat hierdie drie dinge deel is van die deel van die gebed wat oor God gaan. As ek Matteus 6: 33 lees waar Jesus ons aanmoedig om eerder die koninkryk van God te soek met die wete God sal al die ander dinge toevoeg, dan is dit wat ek vandag doen: Ek soek die koninkryk van God eerste. Hier is die drie sake: 1. Laat U Naam geheilig word. Ons wil in hierdie gemeente so leef en so wees, dat dit nie oneer aan God se heilige Naam bring nie. Ons bid daarom dat elke daad en woord en gesindheid sal kom uit 'n plek wat die aller heiligste respek en agting vir God het. Bid asb dat dit so sal wees vir ons. 2. Laat U koninkryk kom. Ek het hierdie versugting, hierdie verlange dat hier in Deneysville en omstreke mense iets van die wonder van God se koninkryk mag beleef, 'n Koninkryk is natuurlik daar waar dinge gebeur soos en hoe en wanneer die koning dit wil. Bid asb dat in hierdie gemeente, en dus elke lidmaat se lewe, ook jou en my lewe, alles sal gebeur presies soos God dit wil hê. Hierdie is natuurlik 'n dissipelsgebed. 'n Dissipel begeer dat God se ryk mag kom en mag uitbrei en groei. 3. Laat U wil geskied. Wat ek vra jy voor moet bid is: a) Dat jy elke dag jou keuses sal maak, jou dinge sal beplan, 100% volgens God se plan en wil. Dat jy / ons dit wat God wil sien gebeur net so presies en volledige ne noukeurig sal doen soos wat dit in die hemel gebeur. ek dink jy besef hoe baie ons hieroor moet bid. Dit is nie vir vinnig opsê en aanbeweeg na ons daaglikse behoeftes toe nie. b) Bid nou dieselfde vir elkeen in hierdie gemeente. Ons dra mekaar hierin. Ek droom steeds dat elke lidmaat van Deneysville gemeente so passie vol en lief sal wees vir God, gevul met die Heilige Gees dat ons almal God 100% sal dien soos God dit wil. Dat niks teveel gevra of teveel moeite sal wees as dit oor die Here gaan en oor Sy werk. Kan ek jou uitnooi om deel te wees van hierdie droom ook. Ons bid ook vir: Reën. Opvolg reën en vol damme en nat lande en veld. Goeie oesjaar vir die boere. Dis ons kos van more wat ons hieroor bid. Veiligheid op die plase. Veiligheid orals in die land. Vir misdadigers en korruptes en bose mense om tot bekering te kom. Vir werksgeleenthede. Dat die land sal groei ekonomie gewys na die virus deur God vernietig is. Bid vir klein sake manne wat swaar trek onder die lockdown, reeds swak ekonomie en loadshedding en arbeidswetgewing. Bid vir vrede in die land. Skole en onderwys. Siekes: LC; Oba; JanSerf; AttieB; SuMari. Annemarie dB; Mione; RitadJ; Bid ook vir vertroosting vir Saralene Botha wie se suster verlede week oorlede is.