Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Die nuwe jaar is aan die gang. Die dae rol die een na die ander verby. Ons kan dit nie keer of stop nie. so ook die probleme wat opduik: ons kan dit nie wegwens nie. Jesus het duidelik gesê elke nuwe dag bring sy eie probleme (Matt 6). Daarom is die ding om te doen, die een aanpassing wat jou lewe gaan verander en die nuwe jaar voller en mooier en kosbaarder maak, is om meer tyd met God deur te bring. Meer tyd met God. Ek praat hier van seker te maak dat ek elke oggend rustig met God kan praat en vanaand vir die Here weer sê hoe was my dag gewees. Ek praat van oomblikke net in stilte by God te sit, sonder woorde en te kan weet ook dit is kosbaar. Meer tyd met God beteken ook meer tyd saam met ander gelowiges in die erediens en bidure. En meer tyd met God beteken ook meer verdieping in God se Woord. Bid asb dat ons almal meer sal fokus op ons verhouding met God. Bid dat ons God nog liewer sal hê, en in Sy liefde sal toeneem. Bid dat ons leër aan onsself sal word en Jesus meer in ons kan wees. Dit beteken dat ek/ons alles wat plek inneem in ons lewens wat Jesus toekom moet verwyder sodat ons Verlosser ten volle in ons kan leef. Bid dat God se wil in ons lewens geskied en dat ook ons Sy wil sal uitleef. Bid dat God se koninkryk sal groei in ons en om ons. Bid vir die siekes: Marius; Almien; Sumari; Oba; Annemari; Dasch; LC; Attie; en die ander siekes. Bid vir die eredienste: ons wil Skrifgetrou preek, sonder verdraaings, getrou aan die leiding van die Heilige Gees. Ons wil groei. Ons wil uit die hart uit God kan loof en prys. En ons wil onder Sy Woord en Heilige Gees in Sy samekomste breek met ons verkeerde idees en ingesteldhede. Bid dat ons sal toeneem in die oorgee van die beheer van ons lewens aan die Heilige Gees. Bid asb deurlopend bg vir ons almal. Vir die land: Waar begin 'n mens? By bekering. Dat die politici tot bekering en insig sal kom. Dat ons 'n land sal wees wat die Here dien. Bid teen misdaard, korrupsie en al die geweld, haat en lelikheid. Bid vir ekonomiese groei en omswaai selfs ten spyte van die huidige regering se onvermoeës. Bid vir die onderwys. En vir onderwysers en kinders en beleidmakers. Bid teen die NHI (gesondheid) en dat hulle eerder die huidige hospitale en mediese dienste sal ophef tot die vlak van die privaat hospitale. Aan die einde van dit alles, en bg is definitief nie alles nie hou aan met bid. Moet nie moedeloos word nie, hou aan met bid.