Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 10b U wil geskied Hierdie plantjie is besig om God se wil te doen. Hoekom dink u sê ek so? Rede: Die plantjie is besig om presies te doen waarvoor God dit geskep het. God het elke plantjie, elke molekule, alles geskep met ‘n eie unieke doel of funksie. Hierdie plantjie is besig om te done presies waarvoor dit geskep is. God het jou geskep uniek anders as enige iemand anders in die wêreld met ‘n sekere doel wat net jy met jou unieke samestelling kan vermag. Daar is meer aan hierdie lewe, aan jou lewe, as wat die meeste mense wil erken. Ons durf die wil van God nie beperk tot ‘n stel moets en moenies wat ons moet nakom nie. Dit kan slegs vanuit ons verhouding met God volbring word. Biddend afhanklik al agter Jesus aan is hoe jy dit doen. Hoekom is hierdie bede so belangrik? Toe ons geleef het soos ons wil het ons lewens vas gedraai. Ons het sonde gedoen en was van God verlate. God het ons in Sy groot genade gered en Syne gemaak. Ek vra myself, wil ek regtig die genade ongedaan maak? Ons het geleer dat Jesus beter as ons weet hoe ons ons eie lewens moet leef. En ons het tot die besef gekom dat God se manier vrede en liefde en ander positiewe vrugte in ons lewens bring. Ons wil hierdie bede bid want in Jesus is lewe en dit in oorvoed (Joh 10) en as ons in Jesus bly, soos ‘n loot in ‘n wingerdstok, dan sal ons lewens vrugte dra wat vir ewig sal hou. En hoe ons in Jesus bly, volgens Johannes 15 is deur Jesus se gebooie te onderhou. Wat presies dieselfde is as God se gebooie. En omdat Jesus gesê het: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” (Mark 3: 35). En laastens bid ons hierdie bede ook vir almal in ons gemeenskap omdat ons hulle lief genoeg het om te wil hê dat hulle ook in die wonder van dit wat God gee en is te lewe. Laat. Die woordjie “laat” net weer. In die Grieks is dit in die aoristus imperatiewe vorm. Maw Die vorm van die woordjie laat dra ‘n dringendheid. In die Grieks los dit jou met die gevoel dus uiters dringend noodsaaklik. Omdat jy God lief het sal jy verstaan: Daar is die frustrasie omdat ons dit nie regkry om God se wil te lewe nie. Wat nog van op die vlak van soos in die hemel. Maar ook begeer jy met alles in jou om God so perfek te kan liefhê dat jy Sy wil volledig kan leef. Dit maak hierdie gebed ongelooflik kosbaar en nodig. “Laat” sê ook dat ons nie vanuit ons dit kan reg kry nie maar dat dit iets is wat ons van God vra. Dit is iets wat God laat gebeur in ons. Ek kyk hier ook na wat Paulus skryf in Efesiërs 4: 23, 24: “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” As God jou vernuwe en jou gees en gedagtes verander dan word dit moontlik om te leef soos God wil. Romeine 12 sê dieselfde. Net daar word gesê dan sal ons kan onderskei wat die wil van God is. Dis nou as God ons gedagtes vernuwe. Ons kla so oor die dinge wat in die land aangaan. Ek glo ons weet almal dat dit wat gebeur nie die wil van God is nie. Kom ons bid dat God so in mense sal werk dat hierdie ganse land sal verander. Dat Deneysville se mense sal verander. Dat God se wil hier geleef sal word netsoos in die hemel. Sal dit nie wonderlik wees nie. Maar dan ook ons: mag ook ons God se wil so laat geskied. Soos. Iewers het ek gelees dat iemand geskryf het dat ons as mense gesukkel het om te verstaan presies hoe God wil hê ons moet lewe. Toe word Jesus mens en ons kon sien: Hier is die maatstaf. Dit is die lewe wat God van mense vra. Vandag lees ons van so ‘n maatstaf. ‘n “Benchmark”. Of dan ons kry ‘n kans om die doelpale te sien. “laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” “Net soos in die hemel” is ons maatstaf. Niks minder as dit is waarvoor ons bid nie. En kan ek weer uitwys? Die eerste bedes begin almal met "laat". Dit is iets wat net God in ons kan uitwerk. Daarvoor het die Heilige Gees gekom. Dit sê vir my ook dat ek kan nie maar tevrede wees met waar ek in my geloofslewe is nie. Ek moet verander. Ek moet bly groei in my vertroue op God. Ek moet bly oefen om God beter te hoor en te verstaan hoe Sy hart klop sodat ek Sy wil kan lewe hier op aarde netsoos in die hemel. Dit is baie gevra. Baie wat ons van God af wil hê. Ons moet besef dit is nie nog iets wat ons in ons besige lewens gaan moet inpas nie. Ons gaan nie nog tyd moet vind om God se wil te doen ook nie. In teendeel: Elke ding wat ek doen, elke woord, elke gesindheid word nou ingestel op God. Dit wat reeds in jou program is word gesuiwer en getransformeer sodat ook dit tot eer van God geleef kan word. Dit is logies dat dit net sal kan as ek kan bewus bly van God se teenwoordigheid by my elke oomblik van die dag. As ons kan onthou God is nie ver nie. God is hier. U wil . Kom ons maak dit minder vaag. God se wil is hier te verstaan as dit wat God alreeds bekend gemaak het. Die 10 gebooie. Die liefdes gebod. Dit wat ek by Jesus leer in my stiltetye. Dat ons in Sy seun Jesus sal glo. En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. (1 Joh 3: 19) Of ons daarvan hou of nie, daar is baie mense om ons, selfs in die gemeente wat ons moet gaan begin liefhê. Liefhê sonder maar’s. Dit is sekerlik nie nodig om uit te spel al die tekste oor jou naaste lief hê nie. En in Johannes 15 sê Jesus herhaaldelik ons moet mekaar liefhê soos wat Jesus ons liefhê. Opofferend liefhê. Lewe neerlê lief hê. Besef dit asb. Hier is waar ons uit die bus uit val. Hier en by vergewe. En kom ons sê dit vir mekaar: ons kry nie reg om mekaar werklik diepgaande na behore lief te hê nie. Die naaste wat ons kom is dalk om mekaar in liefde te verdra soos Paulus vra in Efesiers 4. Maar nie naastenby soos Jesus beveel in Johannes 13 en 15 nie. Ons moet bid. Dit kan nie so aangaan nie. Want in gebed word ons verander meer en meer sodat ons kan liefhê; sodat ons kan vergewe; sodat ons volgens die wil van God kan leef. En nee. Ek is nie bewus van partyskappe of dat mense mekaar haat nie. Persoonlik dink ek ons maak verskonings oor ons eie issues. Nietemin, die maatstaf is “soos in die hemel. Wat van wat God aan iemand spesifiek sou opdra? Bv doen dit of dat. Dit is moeilik. Dink maar aan Abraham wat sy goedjies moes pak en trek na ‘n land wat God hom nog sou wys. Noag wat ‘n ark moes bou. Blackabe en King in hul boek Beleef God skryf dat elke karakter in die Bybel wat voor iets groots te staan gekom het het hulle altyd geweet dat dit God is wat dit aan hulle opdra en presies wat hulle moes doen. Moeni e slaaplose nagte hieroor verloor nie. As daar iets is sal jy weet. Doen dit dan biddend. Tot dan. Fokus op wat jy weet. Bid dat God jou dieper sal lei in Sy doel met jou lewe.