Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 1: 1 – 14 Lukas begin sy boek Handelinge met: 1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2 tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. Die evangelie van Lukas gaan oor Jesus se geboorte tot by die hemelvaart. Handelinge begin by die hemelvaart en vertel dan hoe die Gees met krag in die wêreld gewerk het. Handelinge is meer as net die geskiedenis van die vroee kerk. Dit is die beskrywing van hoe God werk deur Sy gelowiges. ‘n Mens wil daarom sê dat Handelinge behoort eintlik opvolg boeke te hê. Opvolg boeke wat die storie van God se werk in en deur mense tot op ons dag vertel. Vandag vier ons hemelvaart. En ek wil begin by die woordjie “daarna” in vers 12. Wat het na Jesus se hemelvaart gebeur. Wel, die dissipels is terug na Jerusalem om daar te gaan wag soos Jesus hulle beveel het. Hulle het nie uitgespring en gesê ons het ‘n opdrag kom ons begin nie. Hulle het gewag op God.(vers 4). Hulle wag op God was gevul met gebed. Hulle het van die Olyfberg terug gestap tot in Jerusalem na hul by mekaar kom plek om te bid. Kom ek stel bietjie anders: Hemelvaart. Jesus se werk op aarde was vir eers klaar. Hy is na die Vader toe. Die “spasie” wat Jesus volgestaan het word nou leeg ... ontruim deur Hom met die opdrag ... kom vul julle nou die “spasie”. Gaan julle nou en doen die werk van ons Vader. Met die belofte (Johannes 14) dat ons dieselfde dinge as Hy sal doen. Die storie van die “daarna” is een van mense wat Jesus gevolg het en gehoorsaam gedoen het soos Hy gesê het. En Jesus het woord gehou en hulle het krag ontvang toe die Heilige Gees 10 dae later oor hul gekom het. En soos Jesus uit gebed geleef het, netso kry jy die dissipels besig om te bid. Die wag, die 10 dae wat hulle gewag het vanaf hemelvaart tot die uitstorting van die Heilige Gees, is gevul met gebed. En eers daarna het hulle werklik met die opdrag begin. Toe preek Petrus. Toe gaan die disspels verder. Toe begin die gemeente naam maak deur hulle omgee en diens. Nie eers teenkanting en kritiek en vervolging het hulle gekeer nie. Daar is nie verskonings gemaak nie, Jesus is geleef! Toe hulle moes vlug uit Jerusalem omdat die Jode hulle wou dood maak het hulle sover hulle gevlug het as getuies van Jesus opgetreë. Die vreemde is voorberei vir die stig van nuwe gemeentes. Saulus is omgedop vanaf iemand wat Jesus en Jesus se kerk gehaat het en vervolg het, na iemand wat passievol lief was vir Jesus. En sy lewe van daar af toegewei het aan die uitdra van Jesus se liefde. Ek kan net een ding sê van Handelinge: God het met krag gewerk. God se kerk het met krag gegroei. Mense is aangegryp met dit wat in gemeentes gebeur het: hulle omgee vir mekaar, hulle toeweiding aan Jesus. ‘n Mens vra: Hoekom sien ons dit nie meer vandag nie? Ek gee ‘n paar redes. En ek gee dit baie beskeie en nederig. En ek fokus op vandag. 1. Ons het die groot opdrag vir sending en getuienis kommissies begin los. Getuie wees was iets wat ander moes doen. Ons ken die tekste. Ons moes dit in sondagskool uit ons kop uit leer. En daar stop dit: in ons koppe. 2. Ons het gedink, of begin dink dat ek uit eie krag dit moes doen. Ons het God subtiel uitgeskuif. Die fokus is weg van die krag van die Heilige Gees na ‘n gedagte, of ‘n benoudheid wat sê “ek kan nie.” Ek het nie die persoonlikheid nie. Ek het dit ook nie. Ek is meer introvert en mens sku as wat ek wil toegee. En ek het ‘n effense spraakgebrek. Maar ek moes kies: Kyk ek vas in my onvermoeens en swakhede, of glo ek God? En ja, voor preekgeleenthede slaap ek sleg want ek weet ek kan nie. Maar ek weet ook dat God kan so ek daag op. En God doen wat God doen. En so moet ook jy daardie besluit neem. Ook ons het die Heilige Gees ontvang. Dit is ons almal se opdrag om te praat oor dit wat Jesus in jou lewe doen. Om te praat oor die hoop en liefde wat Jesus jou gee. Mense wat getuig het ‘n paar goed in gemeen: hule is bang en hulle bid en vertrou dat God sal werk. 3. Gesamentlike gebed. Ek wil sover gaan om te sê dat die basiese reaksie op alles was om saam te bid. Hulle het elke dag by mekaar gekom. Hulle het gebid en die Heilige Gees is uitgestort. Hulle het gebid toe vervolging losgebreek het: 24 Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 25 En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? 26 Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28 en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. 29 “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. 30 Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” En weet u wat. Kyk hoe het God op hulle gebede gereageer: 31 Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig. Alles in hulle lewens het om God gedraai. Hulle het hulle verskille en persoonlikhede tweede gestel en alles om Jesus laat draai. Hulle was eensgesind. Asof hulle almal saam een hart gedeel het. Daar was nie mags speletjies nie. Hulle het mekaar net gedien in Christus. Later in Paulus se briewe lees jy van magspeletjies en eie ekke wat probleme veroorsaak het. Gaan kyk gerus die rol van gebed in die vroee kerk. Saulus, reeds blind, het gebid. Hy was besig om te bid toe die Here Ananias roep en stuur na hom. Cornelius en Petrus. Gebed orals. Dit is nogal opmerklik dat die Engele praat van “hierdie Jesus”. Dit gaan vir hulle oor niemand anders as dieselfde Jesus vir Wie die dissipels so lief was en geken het. Dieselfde Jesus oor Wie Lukas in sy eerste boek geskryf het. En Wie nou in Lukas se tweede boek ‘n opdrag gee. Ek dink ons almal stem saam: Jesus is gister vandag en more dieselfde. Jesus slaan nie ‘n ander koers in of laat weet ek is verkeerd aangehaal of dit was ‘n fout nie. Sy woorde staan vas en so ook Sy opdragte. Kom ons hoor net weer: 7 Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Die evangelie het tot in hierdie uithoekie van Afrika, van die wêreld gekom. Die vraag is nou hoe gaan die evangelie van hier af verder? Hoe gaan dit weer terug in Europa in. Terug in ons huise en skole in? Terug na ons bure en ander “gelowiges” wat koud geword het of net vol verskonings. En nee, dit is nie iets vir ‘n vinnige antwoord nie. Die Here is die hoof van Sy kerk. Ons moet in gebed bly vra, elke dag vra, wat is die Here se agenda vir die dag. Die Here moes Sy kerk self lei. En ons, ons kan soos die eerste gelowiges nederig raak en soos hulle en ek haal aan, “Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.” (Vers 14). Eensgesind. Volhard in gebed. Aanhou bid. Kom ons stap net weer deur die toneeltjie. Olyfberg. Jesus vaar op. Engele sê hierdie selfde Jesus gaan terugkom. Die dissipels, hulle het hierdie opdrag. Maar hulle gaan terug om eers daaroor te bid. Nie elkeen op sy eie nie. Maar saam het hulle volhard in gebed. Ek vermoed hulle het gedoen soos Jesus sou gedoen het. Jesus het tog voor elke groot uitdaging Hom in gebed gaan afsonder. Trouens Jesus se lewe is geleef vanuit gebed. Die dissipels het dit gesien en nou doen hulle dit ook. Laat ons dit ook leer. Pinster Sondag is oppad. Dan vier ons die dag waarop die Heilige Gees oor gelowiges uitgestort is. As u wil, ons vier die era van die Heilige Gees. Wat ons ook vier is die Heilige Gees wat in ons woon. Dieselfde Heilige Gees as die pinksterdag gebeure. Kom ons begin bid vir die volgende week se preke en veral ook vir pinksterfees. Kom ons bid dat die Heilige Gees ons lewens van hieraf sal omdop en van ons getuies sal maak.