Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATTEUS 6: 5 – 8 Beskou asb hierdie as die inleiding tot die Pinkster reeks wat volgende Sondag begin. Keer opkeer kyk ek na die Ons Vader gebed. En ek hoor wat mense sê: Dit is die perfekte gebed. En nee dit is nie die enigste gebed nie. Dit is die gebed vir dissipels, want veral die eerste drie bedes is waaroor ‘n dissipel graag bid. Elke keer as ek na die deel kyk as moontlike teks vir ‘n preek, dan voel ek, maar die mense wat kom, kan bid. Hulle het heel waarskynlik baie boeke gelees hieroor, kursusse gedoen en bid dit self reeds. En tog bly die Here my hiereen terug bring. Wat ek vra is ‘n oop gemoed. Oop vir die Here om ons deur hierdie gebed te vorm. En met oop gemoed bedoel ek ook ‘n bereidheid om te verander. Bring asb ‘n skryfding saam. Daar sal DV invul stukke wees om ons te help volg. En ook praktiese werk. Wat jy nie moet doen nie is om te dink ek weet alles so ek gaan hierdie reeks mis. Dit gaan ‘n fout wees. ‘n Fout omdat jy God met daardie gedagtes klaar uitgesluit het. Wees hier en beleef wat God wil doen in die komende weke. Waarskuwing: Ek gaan ons nie leer om te kry in gebed wat ons wil hê nie. Dit gaan nie ‘n sewe stap proses tot beter gebedsverhoring wees nie. Ons gaan by God sit om opnuut gevorm te word. Deur God se genade gaan dit ons lewens verander. LEES MATTEUS 6: 5 - 8 “Verder, as julle bid ...” so begin Jesus Sy les oor gebed. Dadelik tref twee dinge jou: 1. Nie soos (3x). Jesus sê dit driemaal 2. Dit gaan nie oor jou nie. Kom ons begin by die “nie soos”. 1. Nie soos. Drie maal kom die frase voor in hierdie paar verse. Op die oog af plaas Jesus ons teenoor ‘n sekere manier van wees. Teenoor die skynheiliges. Teenoor die heidene. En teenoor “hulle”. Die hulle is waarskynlik die heidene of dalk selfs ook die skynheiliges. Ons hou hiervan. Ons hou daarvan om teenoor iets te staan. Sedert die Reformasie is dit baie mense se identiteit. Ons is teenoor die Arianisme. Teenoor die liberalis. Teenoor die radikales. Ons hele identiteit is een van teenstand en van teenoor iets of iemand wees. En dit skep in ons hierdie ding dat ons eerste reaksie op alles is om onsself af te vra of ek vir of teen dit is. Of ek van hierdie mens hou of nie. Ons vra nie wat God wil hê nie maar is ek vir dit of teen dit. En dan regverdig ons ons houding en dade in die lig van of ons teen oor dit staan. Want ek is nie soos hulle nie. Jesus stel ons nie teenoor mense nie. Maar teenoor die oppervlakkigheid in ons self. Teenoor die geneigdheid in elke mens wat erkenning soek, gesien wil wees, ‘n indruk op ander wil laat. Die maklikste manier om dit uit te wys is om na die voorbeelde van Sy tyd te verwys. Mense wat dinge so beplan het dat hulle op die vasgestelde gebedstye op straat is, en dan sommer net daar staan en bid. Sodat mense hulle kan sien. Kyk dieper: wat lê in so ‘n mens se hart? Wat sit agter die aksie? ‘n Begeerte om gesien en geprys te word vir hulle “vroomheid.” So ook met die stortvloed van woorde. En in die deel vooraf is dit ook so met die hulp aan armes. En in die leringe na die ons Vader gebed is dit dieselfde: as julle vas ... nie soos ... nie soos die skynheiliges wat met lang gesigte rondloop nie. God wil nie hê dat ons gebed oor ons self moet maak nie. Richard Rohr vertel dat rooi ligte moet opgaan as jy terwyl jy vir ‘n sieke bid benoud raak oor sê nou maar net God genees nie die persoon nie. Dan is dit reeds oor jou en nie oor God nie. Of as jy in die gemeente hardop bid en jy vang jouself hoe jy luister of jy self mooi bid. Dan het ‘n skuif reeds plaas gevind. Weg van God af. Nie soos nie. Maar wel soos Jesus. Ek weet dit staan nie so in die deel nie maar oral lees jy hoe Hy eenkant gegaan het om te gaan bid. Selfs onttrek het van die skare af om te bid. Gebed is nie altyd ‘n binnekamer ding nie. Jesus self het per geleentheid voor mense gebid. So ook ons. In gebedsgroepe, in eredienste of by siekes of iemand in krisis. Maar dan gaan dit oor God. Nie oor ons nie. Jesus leer ons juis dit: Laat dit oor God en ander gaan, nie oor jou nie. 2. Dit gaan nie oor jou nie. Op die een of ander manier kry ons dit altyd reg om alles om ons te laat draai. Ons maak van gebed iets wat dit nie is nie. Gebed is om intens gefokus met jou volle aandag by God te wees. Gebed is ek en jy, leerlinge van Jesus, wat kom vra hoe moet ons maak? Hoe moet ons dinge hanteer? Hoe wil U dinge gedoen hê Here? Hoe word hierdie probleem in U koninkryk hanteer? Maar gebed is nie net om te kom goed vra nie. Ook nie om aankondigings by God te kom maak nie. Gebed is nie om my sin te probeer kry nie. Gebed is nie om harder te glo, of maniere of tegnieke aan te leer hoe om te kry wat Jesus belowe het bv Johannes 14: 13, 14: “Wat julle ook al in My Naam vra, sal Ek doen dat, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Dit is wonderlike beloftes. En baie vat dit vir wat dit op die oog af sê. En word dan negatief oor gebed want hulle ontvang nie wat hulle wou hê nie. Maar wat as ek dit lees vanuit die gesigshoek dat dit nie oor ons gaan nie maar oor wat Jesus wil? En wat as ons nie vra wat ons wil sien gebeur in die gemeente nie, of net bid vir dit wat ONS mee besig is in die gemeente nie, maar eerder fokus vir dit wat vir Jesus belangrik is. Dit wat Jesus wil sien gebeur. Dit is wat Jesus ons leer bid. In Sy Naam vra is juis dit: dit wat Jesus sou gevra het as Hy in ons skoene was. Kan ek voorstel dat ons almal begin anders dink? God sien in verborgenheid in. God sien dit wat weg gesteek is. God sien dit wat ander nie sien nie en ons dalk self in ons miskyk. God sien die diepte van jou hart. Vertrou Hom met daardie dinge en bid eerder in hoofsaak oor wat vir God saak maak. Dit gaan in ons lewens oor God. Elke ding wat ons doen is tog ter ere van God. Elke sent wat ons maak is ter ere van God. Daarom gee ons ruim dankoffers. Elke woord en gesindheid wil iets van God wys. Ons smag daarna om soos Paulus te kan sê ons lewe tot eer van die Here en as ons sterwe dan sterwe ons tot eer van die Here. Ons behoort aan die Here (Rom 14: 8). Laat ons gebede dan ook so wees. En dit kan dit net as ek weet God sien my. God weet wat ek nodig het nog voor ek daarom vra (Matteus 6: 8,32). 8 Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. Laat dit insink. Aanvaar Jesus weet wat Hy hier sê en Hy bedoel dit. Hoekom raak ons dan angstig? Hoekom wil ons dinge om ons laat draai? Ons is vry gemaak om vir God te lewe en God weet wat ons nodig het en God weet wat die beste vir ons is. Glo jy dit? Een van die kragtigste maniere van bid is die gebed van stilte. Waar jy net luister en . Dit is kragtig nie omdat dit gee wat jy wil hê nie maar omdat dit jou verander in dit wat God wil hê. 3. Ons Vader wat sien. Jesus leer ons iets belangriks oor ons Vader. 6 Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Jy en ek kan nie vir God sien nie. Maar ek en jy word deur God gesien. God se sien in hierdie deel is positief. God sien en God beloon. In 6: 23 weet God wat ons nodig het nog voor ons Hom daarvoor vra en Hy gee ons die dinge wat ons nodig het. God sien en beloon. Jesus moedig ons aan om in God ‘n Vader te sien wat ons oneindig lief het en vir ons sorg. ‘n Vader wat altyd hier is. En altyd goed weet wat jou nood is en iets daarom kan doen. Maar dit is ook ‘n Vader wat weet dat die heelal nie om jou en my draai nie. Dat ons maar klein ratjies is in ‘n groot groot wêreld. Gebed leer ons en verander ons in mense wat eintlik net een ding begeer en dit is om by God te wees. God beloon nie altyd nie. Wanneer mense gesien wil word, of wanneer mense begaan is oor hoe mooi of nie hul gebede vir ander klink of selfs benoud is oor hoe hulle gaan lyk as God nie hul gebed verhoor nie ... Dan beloon God jou nie. Want mense het jou gesien en mense het jou gehoor en jy sal deur hulle geeer word. So, toe, daar is jou loon reeds. “... jou Vader wat jy nie kan sien nie.” Die bedoeling wat ons moet sien hier, is die feit dat ek nie God kan sien nie maak Hom nie ver of afwesig nie. God is hier. God sien. God is daar in jou kamer. God is hier waar ons saam is. God is. En God is altyd hier. Waar jy ookal mag wees. In die woorde van psalm 139 God is orals. Waar jy is is God reeds. Dit is belangrik. Ons kan God nie sien nie maar God sien ons en God sien ook dit wat verborge is. En Hy beloon. As ek kan saamvat: Kyk anders na jouself en anders na God. Sien God as die Een om Wie alles draai en jy as ‘n klein kosbare deeltjie wat om God draai. En vra Jesus om ook jou en my te leer in die volgende weke om so te bid dat God se wil in Deneysville en Vaalmarina helderder kan deurbreek.