Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 7:11-17 1. Ek gaan vandag, met u toestemming natuurlik, dinge so bietjie andersom doen. Ons gaan ons Skriflesing in die middel van die diens doen om in te pas by die vloei daarvan. 2. Almal van ons het een van hierdie! Of so hoop ek! Mens noem dit ‘n testament. En dit word opgestel terwyl ons nog leef natuurlik. Maar hierdie testament tree eers in werking wanneer die eienaar daarvan te sterwe kom. Die ouer mense het altyd gese daar is 2 dinge in die lewe waarvan ons verseker kan wees: belasting betaal en doodgaan. 3. En vandag wil ek he ons moet graag luister wat God vir ons wil se rondom die een. En dis beslis nie die betaal van belasting nie. Nee. Vandag gaan ons oor die dood praat. Want dit is een van die dinge in die lewe waarvan ons werklik verseker kan wees. Dat ons almal een of ander tyd ons sterfdag sal bereik. En indien u nou wonder waarom ons oor iets so morbied gesels vandag wil ek u verseker dat dit allermins ‘n morbiede boodskap is hierdie. 4. Miskien moet ons eers ’n vinnige blik kry op wat die gemiddelde mens in die 21ste eeu glo rondom die hemel, hel en die dood. Volgens navorsing wat gedoen is deur die Barna groep in die VSA oor Amerikaners se siening oor die lewe na die dood, is die volgende gevind: 81% van die respondente glo dat daar die een of ander vorm van lewe na die dood is, 76% glo daar is ‘n hemel, 39% glo dat die hel bloot die afwesigheid van God beteken, Slegs 0,5% glo dat hulle hel toe sal gaan – baie duidelik wag daar ‘n helse surprise op ‘n helse klomp Amerikaners, 64% glo dat hulle hemel toe gaan terwyl 5% glo dat hulle in die een of ander vorm sal terugkom aarde toe, 15% van die wat glo dat hulle hemel toe gaan glo dit is omdat hulle gedoen het wat die 10 gebooie se, terwyl nog 15% glo dit is omdat hulle basies goeie mense is, Interessant is die feit dat dit blyk hoe meer opleiding mense het en hoe groter hulle inkomste is, hoe minder glo hulle aan die bestaan van ‘n hemel of hel, Selfs die ongelowiges is verward oor wat na die dood gebeur. Die helfte van Amerikaanse ateiste glo in die bestaan van die hemel en die hel. Een uit 8 Amerikaanse ateiste glo dat mens lewe na die dood kan verkry deur in Jesus te glo. Die ontstellendste feit is egter dat miljoene Amerikaners aangedui het dat hulle glo dat God mense so graag wil red dat Hy selfs bereid is om sy eie beginsels aan te pas!!! Duidelik is mense uiters verward oor die lewe na die dood. En dan is dit die plek waar hulle die ewigheid gaan deurbring? 5. U sien, die dood is ‘n aspek waaroor die Bybel baie te se het. In die OT het die gelowiges ‘n baie negatiewe beeld van die dood gehad. Hulle was oortuig dat die dood die einde van alles was. Dawid het in Psalm 6:6 aangevoer dat iemand wat dood is nie God se naam kan bely nie, en dat iemand in die doderyk God nie kan prys nie. 6. Waar die dood vir mense in die OT ‘n verskrikking was, vind ons weer die teendeel in die NT. Paulus was die een wat gese het dat hy daarna verlang om heen te gaan en met Christus te wees. In die NT het die gelowiges reeds verstaan dat daar iets anderkant die graf is. Hulle het verstaan dat die dood vir gelowiges slegs ‘n oorgangsfase is na iets baie meer besonders, baie groter en meer werklik as enigiets wat ons hier op aarde kan begryp. Dis waarom Paulus daardie bekende woorde in Fil 1 kon uiter: WANT OM TE LEWE IS VIR MY CHRISTUS, MAAR OM TE STERF IS VIR MY ‘N WINS. Paulus se woorde in 2 Kor 4 is so bekend waar hy na die hemel verwys as ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref. 7. Maar waarom die groot ommekeer tussen die twee testamente? Waarom sou gelowiges nou uitsien daarna om te sterf? Dit het beslis iets met Jesus te doen. Jesus het mos vir hulle gese dat Hy gaan om vir hulle ‘n plek te berei en dat wanneer Hy terugkom, hy ons saam met Hom daarheen sal neem. Die lewe na die dood was deel van Jesus se koninkryksboodskap. Daar is lewe na hierdie een, en Jesus het sy dissipels so baie kere met hierdie woorde getroos dat daar by die dissipels geen onduidelikheid was dat hulle op reis is na ‘n ewige bestemming nie. 8. Maar waarom, as Jesus en die Bybelskrywers so gereeld oor die dood en die hiernamaals gepraat het, praat ons so min daaroor? Ons berei voor daarop, ons sorg dat ons weet wat die enigste Verlosser van ons verwag sodat ons seker maak ons spandeer die ewigheid saam met Hom. Waarom dan is ons so bang om hierdie tema aan te raak? Hoe vreemd is ons vrees vir die dood? Maar miskien is dit die finaliteit daarvan. Dat ons weet as iemand sterf is dit die einde. Dis verby. 9. Of is dit? As ek die volgende teksgedeeltes lees, om maar net ‘n paar te noem, dan wonder ek of die dood die einde van alles is: Luister hierna: Paulus se dat Jesus vir elke gelowige saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee het (Ef 2:6) Hy praat van die gelowiges wat in gemeenskap met mekaar leef in die hemel (Ef 3:15) Petrus praat van ‘n erfenis wat vir ons in die hemel bewaar word (1 Pet 1:4) Klink dit vir u of ons op pad is na n leegte waar niks gebeur nie die dag as ons sterf? Beslis nie!! God belowe self dat Hy ‘n plek vir ons berei en dat ons eendag in volheid saam met Hom sal wees, dat ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien. Daarom roep Paulus uit in 1 Kor “Dood, waar is jou oorwinning, dood, waar is jou angel?” 10. Dit bring ons by ons Skrifgedeelte: Luk 7:11-17. 11. Jesus is op pad na die dorpie Nain. Sy dissipels en ‘n hele menigte mense is by Hom. Maar toe Jesus by die dorpie kom word daar juis ‘n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, ‘n weduwee. Byna die hele dorp was saam met haar. 12. Ons het hier met twee optogte te doen. In elke optog is daar ‘n groot groep mense. Die een optog kom uit die dorp uit, die ander is op pad in die dorp in. Vooraan die een optog is die DOOD. ‘n Draagbaar met ‘n lyk op. Vooraan die ander optog is Jesus, die Gewer van Lewe. En hierdie twee optogte is besig om op mekaar af te loop. ‘n Mens kan die spanning aanvoel as jy hierdie verhaal lees. Iets moet gebeur. Of die een groep of die ander groep gaan die aftog moet blaas. 13. En dan, onafwendbaar, kom die twee optogte teenoor mekaar te staan. En beide stop! Jesus sien die ma se hartseer, en Hy kry haar innig jammer. Dan tree Hy vorentoe en verbreek een van die grootste reels van rabbi wees. Hy raak aan die draagbaar met die dooie op. Volgens die OT wette is ‘n Rabbi rein, en sal hy onrein word as hy aan ‘n draagbaar met ‘n lyk daarop raak. Maar dit pla Jesus nie. 14. Dan praat Hy: Jongman, Ek se vir jou, staan op! En onmiddelik gebeur daar iets. Die dooie sit regop en praat. Wanneer Jesus by ‘n begrafnis kom breek Hy dit altyd op. Hy het dit gedoen toe Hy by die kamer ingekom het waar die dogtertjie van Jairus gesterf het en Hy haar uit die dood opgewek het (Mark 5). Hy het dit gedoen toe Hy by Lasarus se graf aangekom het en hom laat opstaan het (Joh 11). En dan het Hy natuurlik sy eie begrafnis onderstebo gekeer toe Hyself uit die dood opgewek is. 15. Dis die boodskap van hierdie pragtige verhaal wat by Nain afspeel. Toe die Lewe en die Dood teenoor mekaar te staan gekom het, het Jesus gewys dat Hy mag oor die dood het. Is dit nie genoeg rede vir u en my om nie die dood te vrees nie? Inteendeel, die Skrif maak dit duidelik dat daar oorgenoeg rede vir ons is om uit te sien na die hiernamaals. 16. Paulus se dat ons nou nog in ‘n dowwe spieel kyk, maar eendag, in die hiernamaals, sal ons alles verstaan soos dit is. Dan sal ons besef dat die werklikheid baie groter is as enigiets wat ons onsself kon voorstel. Ons gaan ook inderdaad nuwe liggame kry, en nog meer, ons gaan ook ‘n nuwe karakter he. Rom 8 leer ons juis dat God ons lank reeds tevore bestem het om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Hy gaan ons beter mense maak as wat ons ooit kon hoop om te wees. Ef 3 se dat Hy selfs ons krom en skewe persoonlikhede sal vervul met die volheid van God. Is dit nie iets om oor jubelend opgewonde te raak nie? 17. Die dissipels het duidelik nie die dood gevrees nie. Volgens oorlewering het 11 van die 12 dissipels met hulle lewens betaal vir die feit day hulle aan die evangelie van Jesus vasgehou het. Geen intellegente mens sterf vir iets wat nie bestaan nie. Die dissipels was bereid om hulle lewens af te le omrede hulle geweet het dat, soos Paulus dit in Rom 8 stel dat die lyding wat ons nou moet verduur nie kan opweeg teen die heerlikheid wat vir ons wag nie. 18. Paulus noem hierdie mooiheid ‘n oorwinnaarskroon. Hy se aan Timoteus: Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God! Die NT gebruik verder nog verskillende woorde om na die ewige lewe saam met God te verwys. Dit is juis omdat dit so ‘n groot en kosbare skat is dat dit nie met een woord beskryf kan word nie. Hy praat van: Paradys – Ek verseker jou, vandag sal jy saam met my in die paradys wees. – (Luk 23:43) Oorwinningsprys – As die mens die toets deurstaan sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan die wat Hom liefhet (Jak 1:12) Verder verwys die Skrif na die ewige lewe as ‘n: Beloofde ewige erfenis Die Koningkryk Die lewe Heerlike erfenis Die Huis van my Vader En ‘n Loon 19. Dwight L Moody het gese “Eendag sal julle in die koerante lees dat Dwight Moody dood is. Moenie ‘n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewend wees as ooit tevore!” Moody het verstaan dat die dood ‘n oorgang is van een wereld na ‘n ander. Maar dat dit ‘n ander wereld is, alhoewel vir ons nog onbekend, ‘n wereld soveel groter, beter en heerliker as enigiets wat ons nog ooit beleef het. 20. En wanneer die Skrif hierdie beloftes oor die hiernamaals aan ons gee, gee hy dit aan ons as gelowiges. Ons wat in die enigste Seun van God glo. Daarom, as ons glo in die verlossing wat Jesus Christus aan die kruis vir ons bewerk het, dat Hy die enigste een is wat ons van die oordeel van sonde kon red en die weg na die Vader toe namens ons herstel het, dan deel u in hierdie wonderlike beloftes. Dis nie beloftes wat links en regs uitgedeel word aan almal nie. Nee, net aan hulle wat in die Seun van God glo. 21. En dan is u deel van die menigte wat met ‘n verwagting kan leef. ‘n Verwagting dat die dood nie die einde is nie, maar eerder ‘n nuwe begin. Dat die dood vir ons eintlik herskepping beteken. ‘n Nuwe lewe saam met God. Waar die oue nuutgemaak word, geen pyn, hartseer, lyding of kwaad nie. Net die wonderlike onuitspreeklike teenwoordigheid van God. 22. Soos ek oor hierdie gemeente kyk wonder ek hoe en waar die dood vir elkeen van ons sal kom. Iewers, op een of ander tyd, moet dit gebeur – daardie laaste ervaring, die finale toneel. Iewers moet elkeen van ons hierdie ondervinding deurmaak. Dan sal ons hierdie wereld groet. En wanneer daardie uur kom, mag jy vanwee jou verhouding met die Verlosser, die vrede, die kalmte en sekerheid van Christus he, wat gese het:”Vader, in U hande gee ek my gees oor”.