Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Voorsang Afkondigings Stilgebed Votum: Lied 411: 1, 2, 3 Kom, almal, laat jul stem verrys! 19 Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” 20 Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. 21 “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 22 Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23 As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.” Seengroet: Vrede vir julle! Lied 422: 1, 3 Die Heer, die Heer het opgestaan! Lied 417: 1, 2 Jesus ons eer U Lied 409: 1, 2, 3 Hoor jy die paasfees klokke Gebed Skriflesing: Joh 20: 1- 10 ‘n Mens sou dink dat op ‘n Paasnaweek sou die eredienste uit hul nate uit bars. Op opstanding Sondag veral. Dit is die grootste christelike feesdag uit en uit. So wat is anders vandag? Hierdie hoofstuk sluit af met Thomas wat tot geloof kom, tot insig kom na die lewende Here Jesus voor hom kom staan het. En dan sluit Johannes af met: 28 En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29 Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” 30 Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31 Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê. 1. Tekens. Daar is baie wondertekens wat Johannes kon neergeskryf het, maar hy kies 6 uit. Net 6. Daar is een wat die ander evangelies nie het nie en dit is die water wat in wyn verander is. By daardie teken het die dissipels tot geloof gekom. En Thomas na ‘n sewende wonderteken. Sewe, is mos die volmaakte getal in die Bybel. Die sewende wonderwerk wat Thomas se geloof opnuut omgeswaai het is Jesus se opstanding uit die dood. So terloops, Johannes verkies om nie van wonderwerke te praat nie, maar eerder van tekens. Want elke wonderteken wys na Iemand. Na die persoon wat dit gedoen het of deur wie dit gedoen is. Dit wys na Jesus. Johannes wil hê die mense moet glo. Die wondertekens wys keer op keer Jesus is Wie Hy gesê het Hy is. Hy is die Seun van God. Die Messias. Jesus is die Here. 2. Sien Sien is glo, sê baie mense. Johannes gebruik die woord “sien” sewe keer in hierdie hoofstuk. En dit is omdat Tomas gesien het dat hy kon glo. Maria sien die oop graf. Sy sien die twee engele en sy sien vir Jesus maar dink Hy is die tuinier. In al 3 kere help haar “sien” haar nie om te glo nie. Eers toe Jesus met haar praat, toe glo sy. Petrus gaan die graf in en hy sien die kopdoek opgevou lê, maar al die sien help hom nie ... hy kom uit die graf uit en glo steeds nie. Johannes is die enigste een wat met die eerste “sien” glo. Jesus is Here. Jesus is die Here. Dit was die belydenis van die vroee kerk. Nie die keiser nie. Nie ‘n ander God nie, maar Jesus is die Heer. Die Romeinse keisers het die mense gedwing om hulle as ‘n god te aanbid. Die Keiser sou dan die here wees. Die Christene het prontuit geweier. Daar is net een Here en dit is Jesus. Hierdie belydenis het gemaak dat baie wreed dood gemaak is. En tog, al het hulle geweet dit is so goed soos om jou eie doodsvonnis te teken as jy bely Jesus is die Heer, het hulle dit nogsteeds bely en geleef. Wat het verander deur die jare? Baie mense leef twee stelle waardes, of dalk meer: In die erediens is hulle vroom kinders van die Here. In besigheid of by die werk is hulle ‘n ander dier ... ander reels geld daar ... ons mag nie oor ons geloof praat nie anders kan ons ons werk verloor ... Jou werk ... maar nie jou lewe nie. Jy hoef nie woorde te gebruik nie, jy hoef net Jesus te leef. Mense sal die verskil vanself agterkom. Jou dade en jou gesindheid ... jou diepe menswees wat deurbreek ... sal mense wys Wie is die Here in jou lewe. En dat jou god nie jouself, of geld of plesier of wat ookal is nie. Maar Jesus. Jesus is die Here! Soms is ons nog anders as ons saam met ons vriende kuier ... of op ‘n manne naweek is ... Wat die eerste Christene anders gemaak het: Hulle het Jesus geleef. Want ... Jy sien, hulle het iets ontdek. Iets baie kosbaar. Die Oorwinnaar oor die dood. Jesus die Christus. Ek sit so ‘n week of twee gelede en dink dat ek kan nie aan ‘n ongelowige bewys Jesus lewe nie. Ek weet egter uit alles wat Hy doen in my lewe, uit al die wondertekens, die soms so onverklaarbare vrede wat oor mens kom in moeilike tye, dat Hy leef en by ons is!! Daar is geen twyfel vir my daar is net een Here en dit is Jesus. Net Een wat totale seggenskap oor my lewe het, en dit is die Here Jesus, die opgestane, lewende Seun van God. En ek bid dat dit elke dag jou lewe vernuwe en ook vir jou lewe gee, soos dit in my en baie ander se lewens doen. Vir sommiges is dit dalk net die regte woorde om by die “kerk” te gebruik. Die soort woorde om gewig te gee aan jou gebede. Maar as jy bely Jesus is die Here! Dan is jy besig om te sê dat maak nie saak wat gebeur of watter druk ontstaan teen die Christendom nie, jy sal Jesus steeds volle seggenskap oor jou lewe gee. Jy sal soos Hy selfs in jou “Getsemane’s” steeds bid “Ons Vader ... Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Laat U wil geskied. En dan stap jy die pad wat ons hemelse Vader aanwys. Ongeag wat jou gevoelens of keuses is. Jy leef agter Jesus aan want Hy is die Here! 3. Lewe. Hierdie wonderwerk / wonderteken waar Jesus weer lewend is, het die eerste dissipels en vroee kerk aan iets anders herinner. Aan iets wat Jesus vir hulle geleer het. Vir Marta, daar met Lasarus se dood, het Jesus gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Joh 11). Hier staan Jesus voor haar. Hy wat dood was is weer lewend. Hier staan die woorde, die profesie, as jy wil, lewend voor haar. Sy sien Hom. Sy weet dit is Hy. Sy kan nie anders as om te glo met alles wat sy is: Jesus is die Here. Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Joh 14). En “Ek gaan om vir julle plek te berei. Die pad is nie oor nie. Jesus se taak is eers klaar as Hy by die Vader is. Na die hemelvaart. As Hy daar plek berei het vir ons. En ons wat vir nou die fort hier moet hou vir ons Here? Ons moet besef die opstanding is nie maar net oor eendag nie. Eendag as ons sterwe of Jesus weerkom, watter een ookal vir ons eerste kom, sal ons die deurgang maak en vir ewig by God lewe. Nee die opstanding is vir nou. Nou, moet ons wys dat Jesus in ons leef. Nou moet ons gehoorsaamheid aan ons Here klokslag deurbreek. Nou moet ons Sy wil soek en leef. Sy voorbeeld navolg. Soos Jesus liefhê. Soos Jesus vergewe ... selfs hulle wat ons kruisig vergewe. Soos Jesus getrou bid. Jesus se opstanding het die dissipel verander. Die dissipiels is nie verander oor Jesus gekruisig is nie. Hulle is geswaai omdat Hy wat gekruisig is en dood verklaar is en begrawe was uit die dood uit opgestaan het en lewe! Die opstanding sê: Vul die spasie tussen jou bekering en die ewige lewe met LEWE. God se soort lewe. Die lewe in oorvloed waarvan Jesus in Johannes 10 van gepraat het. “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”(10: 10b) Mag jy in Jesus die oorvloed ontdek. Mag jy opnuut die onsienbare sien. Mag jy dan saam met my bely ... en saam met Tomas en saam met al die gelowiges ... “My Here en my God!” [Sit skyfie op] [28 En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29 Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”] Gebed Kollekte: Ons erken Jesus as Here ook oor ons finansies. Slotlied 280: 1, 2, 3 Here Redder groot en magtig. Matteus 28: 17 Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Vrede vir julle! (Joh 20)