Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ek het onlangs ‘n artikel gelees wat gehandel het oor die 5 prominentste en mees gewildste nuwejaarsvoornemens wat mense aangaan gedurende hierdie tyd. Die lysie het soos volg gelyk: 5de op die lys was om ‘n nuwe stokperdjie te begin 4de was om meer geld te maak 3de op die gewildheidslysie was om verhoudings te verbeter In die 2de plek was die gewildste voorneme om op te hou rook, en… Die nr 1 nuwejaarsvoorneme? Is daar iemand wat wil raai? Om gewig te verloor. 2. Dit het my dadelik herinner aan die storie van die vrou wat by haar badkamer ingeloop het en gesien het hoe haar man met ‘n geweldige wroeging op die badkamerskaal besig is om homself te weeg. Terwyl sy hom dophou sien sy hoe hy sy maag intrek terwyl hy op die skaal staan. Sy dink toe by haarself : As hy dink dit gaan maak dat hy minder weeg, is hy dommer as wat ek gedink het. Sy besluit toe om hom reg te help. 3. Sarkasties se sy toe vir hom: “Liefie, dit gaan nie help jy suig jou maag in nie…”. Hy antwoord: Ek weet, maar dis die enigste manier hoe ek die nommers kan sien!”. 4. Wel, dis weereens tyd vir nuwejaarsvoornemens! Ek maak hulle nie want ek hou hulle nie. Maar daar is sekerlik baie meer gedissiplineerde mense as ek. Mense wat wel by hulle voornemens hou. En ek salueer hulle vanaand. Nuwejaarsvoornemens is mos maar iets wat ons onsself eintlik maar belowe om te doen sodat ons lewens op een of ander wyse bietjie beter verloop as wat dit die vorige jaar verloop het. Maar ek dink Psalm 30 leer ons iets van Nuwejaarsvoornemens ook. 5. As ons kyk na die begin in vers 1 sien ons dat hierdie lied gesing is tydens die inwyding van die tempel. Daar is baie argumente oor of dit die eerste of tweede tempel sou wees (waarby Dawid natuurlik nie teenwoordig was nie), maar dit is nie hier ter sprake nie. Wat belangrik is om te sien is dat hierdie lied gesing is by die inwyding van die tempel. Iets nuuts het voorgele. ‘n Nuwe tempel, ‘n nuwe plek van aanbidding, ‘n nuwe plek om offers en aanbidding aan God te bring. Die begin van iets nuuts. 6. En wat sing Israel by die inwyding van hierdie nuwe tempel? Hier waar Israel staan by die begin van iets nuuts, ‘n nuwe tydvak in hulle lewens? Hulle begin die lied met die woorde “Ek wil U lof verkondig, Here,…” en eindig dit met die woorde “Here my God, vir altyd sal ek U loof!”. Nou ek wil vanaand vir u se geliefdes, waar u en ek staan aan die begin van iets nuuts, ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe tydvak, dat Dawid vir ons sekerlik die voorbeeld gee van die beste nuwejaarsvoorneme wat ons aan kan dink. U sien, nuwejaarsvoornemens is nie ‘n slegte ding om te maak nie. Inteendeel, dis gewoonlik goeie voornemens wat gemaak word. Dit het gewoonlik ten doel om van my ‘n beter mens te maak. 7. Maar geen nuwejaarsvoorneme gaan slaag as ons dit nie maak vanuit ons verhouding met God nie. As ek gewig wil verloor, ophou rook, verhoudings wil verbeter ens sal dit slegs slaag as ek dit doen vanuit my verhouding met God. As ek God ook hierin vertrou om my te help. Hieroor te bid en wanneer ek die bal drop sal teruggaan na toe. 8. Nou dis maklik om te se Dirk, maar as jy my 2025 gehad het sou jy nie so maklik hierdie vers rondgegooi het nie. 9. Maar kom ons vra dan die vraag: Hoe het Dawid daarby uitgekom? Hoe het hy tot hierdie slotsom gekom? Ek bedoel. Ons almal weet wat het met Dawid in sy lewe gebeur. Hoe Saul hom probeer doodmaak het, hoe hy vir sy eie seun moes vlug. Hoe hy in grotte gewoon en weggekruip het selfs nadat hy tot koning gesalf is. Toe staan hy ‘n kind aan die dood af. Hy het sy deel van swaarkry in die lewe gehad. Toe hy hierdie Psalm geskryf het, het hy beslis ook nie ‘n koninklike lewe gehad nie. 10. En met dit in gedagte begin ons Psalm 30 weer van voor af lees. Ons sien hoe Dawid in vers 2 doelbewustelik besluit om God te loof, en hy het heelwat redes daarvoor. God het hom gered van sy vyande, God het hom gesond gemaak toe hy na Hom geroep het, God het hom van die doderyk gered en hom aan die lewe gehou. 11. U sien, Dawid sê dat wanneer hy terugkyk op die nabye verlede het hy goeie tye beleef….V7…..maar ook slegte tye beleef……V8B! En wanneer u en ek vanaand hier sit en ons kyk na Dawid se omstandighede is dit verbasend om te sien hoeveel ooreenkomste ons met hom het. 12. Want as ons vanaand so vlugtig terugkyk op 2025 dan kan ons die goeie onthou. Ons kan onthou waar dit geestelik en emosioneel goed gegaan het met ons. Ons kan selfs onthou hoe dit finansieel goed gegaan het, hoe ons kinders floreer het, hoe dit met my huwelik goed gegaan het. 13. Maar net soos Dawid kan ons ook die slegte en swaar tye onthou. Ons kan onthou waar dit nie geestelik en emosioneel so goed gegaan het nie. Die tye wat dit finansieel maar swaar was. Die tye wat ons kinders ons deur die nag laat bid het en tye wat dit gelyk het asof dinge in my huwelik net nie wou werk nie. 14. En as dit vanaand vir u voel dat 2025 heelwat meer las as vreugde was, en dit voel vir u asof u baie mooi moet gaan soek om die goeie in die afgelope jaar te vind, wees verseker dat u in uitgelese geselskap is. Want in Psalm 30 herinner Dawid die Here meer aan die negatiewe dinge wat met hom verkeerd gegaan het as aan die positiewe dinge. 15. Maar selfs al dink Dawid hier aan die negatiewe dinge wat met hom gebeur het, is daar een aspek wat uitstaan in hierdie psalm. Nie minder nie as 22 keer in hierdie kort psalm verwys Dawid na God op een of ander wyse. Selfs al verwys hy na die slegte wat met hom gebeur het, het dit nog altyd vir Dawid oor God gegaan. 16. Onthou u 2025 se swaarkry tye, die moeilike tye, die tye wat u gevoel het u kan nie meer nie? Wel Dawid het soortgelyke tye gehad. Hy het ook soms gevoel hy kan nie meer nie. Maar hy het altyd sy hart op God gerig. Daarom dat hy die lied afsluit met die woorde dat hy vir altyd God se lof sal besing. 17. Wat lê vir u en vir my voor in 2026? Ons kan ’n hele aantal dinge opnoem wat ons HOOP in 2026 vir ons voorlê, maar nie een van ons weet wat werklik vir ons voorlê nie. 2025 het nie verloop soos ek aan die einde van 2024 gehoop het nie, en 2024 het beslis nie verloop soos ons aan die einde van 2023 gehoop het nie. Ons kan hoop, maar ons weet nie. En soms is dit goed dat ons nie weet nie. Dis soms God se manier om ons te beskerm. 18. ‘n Uiters belangrike aspek wat ons in gedagte moet hou terwyl ons met hierdie onderwerp besig is, is dat die lewe nie skielik met Dawid ‘n reguit, afdraande pad begin loop het nie. Nee, Dawid was steeds bekommerd oor hoe hy van Saul gaan wegvlug en hoe hy aan die lewe gaan bly met almal wat beplan het om hom dood te maak. Kom ons dien die mite van die sogenaamde voorspoed beweging sommer onmiddelik ‘n nekslag toe. 19. Hulle wat glo dat as jy in God glo dit altyd met jou sal goed gaan. En indien dit nie met jou goed gaan nie is dit omdat jy gesondig het of nie genoeg geloof het nie. Teen hierdie tyd weet enigiemand wat in ‘n volhardende verhouding met Christus is dat hierdie siening sommer snert is. En Job, Paulus en selfs Jesus gaan met u saamstem. 20. Maar ten spyte van Dawid se omstandighede, wat steeds nie altyd rooskleurig was nie, vind hy steeds die geloof om hierdie belofte aan God te maak: Vir altyd sal ek U loof!!! 21. So, wat moet ons dan doen hier aan die begin van 2026? Wat kan ons doen om te verseker dat hierdie jaar seepglad verloop. Dat al my nuwejaarsvoornemens waar word en dat ek aan die einde van die jaar kan terugkyk met die woorde “Ek het dit gemaak” in my gedagtes. Wat kan ons doen om te verseker dat hierdie jaar presies verloop soos ek dit wil he? 22. Wel die antwoord is eenvoudig: NIKS NIE!!! U sien, die verloop van hierdie lewe en ook die verloop van 2026 le nie in ons hande nie. Daar is sekerlik ‘n paar dinge wat u en ek kan doen om te verseker ons trap nie in so baie slaggate soos in die verlede nie. Maar oor sekere dinge het u en ek net geen beheer nie, al sou ons so graag wou he. 23. Maar alhoewel u en ek nie veel kan doen om die verloop van 2026 te beinvloed nie, ken ons die Een wat elke klein detail van 2026 in Sy hande het. Wanneer die slegte en moeilike tye in die komende jaar ons tref, oor ons pad kom, dan ken ons die Een wat ons daardeur kan neem. En dis hoe Dawid dit gedoen het. Net in die volgende Psalm, 31:15, se hy hierdie woorde. “Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in U hande!” 24. U sal saam met my stem dat enige ander voornemens maar wankelrig is en dat dit bloot afhang van myself. Dis beslis nie die soort wankelrigheid waarmee ons hierdie nuwe jaar wil aandurf nie. Maar om God vir hierdie onbekende te vertrou wat voorle is beslis nie wankelrig nie. Dit was die Hebreerskrywer wat gese het dat geloof is die VASTE vertroue….. 25. Die vraag waarmee ek wil afsluit vanaand: Leef jy reeds in 2026 en bekommer jy jou oor die jaar wat voorle, of leef jy in die oomblik met dankbaarheid teenoor God dat jy die heel laaste dag van 2025 mag beleef? Dat jy 365 dae saam met God kon reis en dat hierdie reis nie nou ophou nie. 26. Dan wil ek u uitdaag vanaand: Vertrou elk van die 31 536 000 sekondes van 2026 aan God toe. Dat ons Hom sal vertrou met hierdie onbekende jaar wat voorle, dat ons Hom sal vertrou met die goed en die sleg. 27. En dan kan ons niks anders doen as om ons nuwejaarsvoornemens aan te pas nie. Hoe goed dit ookal bedoel word, is daar slegs een voorneme wat kan verseker dat ons hierdie nuwe jaar met vrymoedigheid tegemoet kan gaan. Dat ons voorneme vir 2026 net sal wees: “Here my God, vir altyd sal ek U loof!.”