Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. 16 Desember 1838. 187 jaar gelede. Wie kan hierdie datum vergeet? Op hierdie dag het sowat 470 Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius ‘n laer getrek langs die Ncomerivier nadat hulle inligting gekry het dat tussen 10 en 20 000 Zoeloe krygers op pad was om hulle aan te val. Dit was mistig die aand van 15 Desember, maar op Sondag, 16 Desember was dit helder sonskyn. 2. Die Voortrekkers het besef, dat alhoewel hulle met vuurwapens gewapen was en hulle laer ‘n goeie ligging gehad het, hulle steeds nie hierdie oormag van Zoeloe krygers kan aandurf sonder God nie. In die middel van die laer, onder leiding van Sarel Cilliers het hierdie groep Voortrekkers met die arbeiders in hul midde ‘n gelofte aan God gemaak. Die geveg het begin en enkele ure later was die water van die Ncomerivier rooi gevlek met die bloed van duisende gesneuwelde Zoeloe krygers. 3. En soos elke jaar daarna dink ons oormore terug aan daardie dag. Hoe God, so glo ons, ‘n handjievol mense in hul donkerste uur bygestaan het in die aangesig van ‘n oormag. En vandag vier ons dit steeds. Of doen ons? Wat vier ons? Dink ons in hierdie tyd terug hoe 20 000 Zoeloes met hulle lewens betaal het aan die hand van ‘n klein groepie Voortrekkers? Is dit toevallig dat 16 Desember so naby aan die een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die hele mensdom is? Die koms van die Verlosser. 4. Wat gaan ons dan Dinsdag vier? Want hou in gedagte dat die gelofte afgele is met een doel voor oe. En ek haal aan “…dat ons ‘n huis tot SY EER sal oprig…”, en “Want die eer van SY NAAM sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning AAN HOM te gee.” Vir hierdie groep Voortrekkers het dit oor God gegaan. Niks en niemand anders nie. En u kan dalk vra of dit nou ‘n Geloftedagdiens is hierdie. Die Antwoord is NEE, dis adventtyd, en ons kom daarby. 5. Want Geloftedag gaan oor die God van die gelofte en nie oor ‘n volk nie. En as ons dit wil omruil geliefdes en geloftedag wil romantiseer dat dit oor ‘n oorwinning van een volk oor ‘n ander gaan, mis ons die punt wat die Voortrekkers ook met die gelofte wou maak. DIT GAAN OOR GOD!. 6. Dis nie iets wat vir almal sag op die oor val nie. Nie almal vind aanklank by die gedagte daaraan nie. Ek kan onthou hoe ek Geloftedagdienste bygewoon het saam met my ouers as ‘n jong seuntjie en ek geluister het hoe die ooms en tannies hulle net weer verlustig in hoeveel Zoeloes doodgeskiet is op daardie 16 Desember dag. Bloedrivier het ‘n ander betekenis begin kry as waarvoor die Voortrekkers dit oorspronklik bedoel het. 7. Maar ek aanvaar dat ons wat vandag hier saam is in die eerste plek gelowiges is. En daarom het ek die vrymoedigheid om u terug te neem in die geskiedenis vanoggend. Nie 187 jaar nie, maar ongeveer 2000 jaar terug. Na ‘n ander Bloedrivier. Na ‘n oomblik in die geskiedenis, nie van ‘n volk nie, maar van die wereld. ‘n Oomblik toe water en bloed ook gemeng het en teen die balk van ‘n houtkruis afgeloop het. 8. “Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.” (v 34). Op Golgota was ‘n ander Bloedrivier. Bloed en water wat op Kopbeenplek gemeng het en teen ‘n houtbalk afgeloop het, het ‘n heel ander betekenis gehad. Dis ‘n Bloedrivier wat nie net vir ons ‘n gedenkdag nagelaat het nie, dis ‘n Bloedrivier wat vir ons die ewige lewe agterlaat. 9. Hoe vier ‘n mens Geloftedag in ‘n goddelose wereld? Wat gaan ons laat stilstaan geliefdes, ons laat stil word? Op 16 Desember vier ek lankal nie meer die oorwinning wat aangevra is nie. Want daardie “as U….sal ons…..” het plek gemaak vir ‘n onvoorwaardelike kniel voor God. Die onthou van Bloedrivier gaan nou oor ootmoed, oor liefhe, oor verootmoediging, ja, oor versoening. Want dit was die doel van die Golgota bloedrivier. 10. Moet ons dan 16 Desember 1838 vergeet? Nee, beslis nie. Want dis 16 Des 1838 wat ons net weereens herinner aan ‘n God wat uitkoms gee in krisistye. Maar dit moet ons eerder herinner aan ‘n ander Bloedrivier waartydens God die totale mensdom, in die woorde van Openbaring 5, 7, 13 en 14, elke stam, volk, taal en nasie, met Homself versoen het. Dis dieselfde God van 16 Des 1838! 11. Dis jammer dat in die verstaan van ons geskiedenis het ons God begin sien as iemand wat aan sekere groeperinge se kant was en teen ander gekant was. Ek dink nie dit was enigsins die bedoeling van die gelofte nie. Ek is oortuig in my hart dat die gelofte in daardie laer gemaak is omrede daardie groep mense werklik tot God geroep het om hulp. 12. En toe kom die groot skok! Geloftedag het Versoeningsdag geword. Is ons kwaad en ontsteld daaroor? Ek was aanvanklik. Ek erken ruiterlik. “Dis nie Goddelik nie” het ek gedink. Hoe kan hulle so iets doen? Ons is opgeroep om hierdie ‘n dag tot eer van God te maak! En intussen, as ek in SA rondkyk, wonder ek of ons enige dag tot eer van God nog vier. 13. Maar kom ons dink oor versoening. Is die God van 16 Des nie juis die God van versoening nie? Dis tog dieselfde God wat gese het… Ek gaan my met jou versoen tsv alles wat jy gedoen het (Eseg 16) Hy sal vaders en kinders met mekaar versoen(Luk 1). Dat ons deur die dood van sy Seun met God versoen is (Rom 5) Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. (2 Kor 5:18-19). Versoen = 5 x in twee verse! 14. Die bediening van die versoening, se Paulus, is aan ons toevertrou deur God self. Dis ons opdrag as gelowiges. Om te versoen met almal wat ons pad kruis. Was dit nie die woorde van die engele nie? Vrede op aarde vir die mense…… . Versoening op aarde vir die mense…. 15. Wanneer ons opmerk dat die woord “versoen” 17 keer en die woord “versoening” 81 keer in die SKrif gebruik word, dan moet ons miskien begin besef dat dit dalk belangrik is vir God. Miskien moet ons elkeen hier vanoggend hierdie een vraag eerlik antwoord: Is ek in die eerste plek ‘n Afrikaner wat my geskiedenis wil eer en bewaar of is ek ‘n gelowige wat aan God se woord getrou wil wees? Want hierdie is nie in alle gevalle dieselfde nie. 16. Maar dit hoef ook nie twee verskillende dinge te wees nie. Kan u indink wat die impak kan wees van ‘n Afrikanervolk wat kan se kom ons soek ook binne Geloftedag na God se wil vir almal. Dan gaan ons vind dat God se wil steeds dieselfde is as elke ander dag: Julle moet almal mekaar liefhe, ongeag…. 17. Geliefdes, dit wil eerder vir my klink of die God van 16 Des ‘n ander plan met u en my het hier in die 21ste eeu. En dit is dat ons nie soos ons voorouers soms gedoen het ons verlekker in die groot oorwinning wat behaal is nie, maar dat die tyd van die NT ‘n tyd van versoening is. 18. ‘n Tyd waarin u en ek en elke Afrikaner opgeroep word om te versoen met hulle wat God ons pad elke dag laat kruis. Kol 1: “God het besluit ….. om deur Jesus alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” 19. En hierdie versoening is nie ‘n goedkoop kruipery nie geliefdes. Dis duur gekoop aan ‘n stuk hout op ‘n koppie buitekant Jerusalem. Die dag toe bloed en water reeds daar gemeng het, lank voor Bloedrivier. En hierdie versoening waarvan ons so baie hoor is heel eerste ‘n oproep aan u en my om weer te versoen met God. 20. Ons is nie in staat om met enige persoon te versoen as ons nie eerstens met God versoen het nie. Want versoening tussen mense begin by God, dit kom vanuit God en dit is tot eer van God. 21. Want vanoggend is ek seker baie van ons is moeg. Moeg vir die alewige onrus, baklei, haat en afguns wat tussen mense gebeur. Tussen wit en wit, swart en swart en ook tussen wit en swart. En niks gaan verander geliefdes as ons nie verander nie. Kom ons kies om Geloftedag, 16 Desember 2025, anders te gedenk. Kom ons kies om te verander. Kom ons besluit om ook anders te wees teenoor hulle wat dalk op daardie dag van 16 Desember 1838 aan die ander kant van my geweerloop sou wees. 22. Met apologie aan Schalk van Heerden wil ek afsluit met ‘n gelofte vir u en my vandag, een wat ek met alles in my bid dat ons kinders dit ook hul eie sal maak: “Here, ons staan vandag hier, saam met verstes wat naastes word. Ons onthou. Ons eer U as God van die gelofte bo die volk van die gelofte. Ons onthou. Die Bloedrivier op Golgota. U skenk vrede. U skenk broers en susters. ‘n “Hulle” word ‘n “ons”. Ons kniel voor U, saam in aanbidding. U bring versoening, uit genade onbeskryflik groot”. Amen!