Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ek lees onlangs ‘n brief wat ‘n dogter aan haar ma vanuit ‘n hospitaalbed geskryf het. En in die brief hoor ‘n mens die eeue oue, en menslike vraag `Waarom’ baie skerp opklink. Grepe uit die brief lui só: As daar ‘n God is, soos ma vir my laas week gesê het, sou Hy my lankal al gesond gemaak het. Ek het vanoggend gehoor dat die dokters besluit het om alle terapie te staak wat my kanker betref. Waarom moet ek so jonk sterf? Ek glo nie meer dat God goed kan wees nie, dat Hy my liefhet en vir my die beste in die lewe wil gee nie. Maar nou glo ek nie meer aan God nie, ek glo nie Hy bestaan nie. Ek is jammer om dit so reguit vir ma te stel, maar ma moet nou maar self sien hoe ma met ma se geloof klaarkom. Moet net nie weer met my oor ma se God praat nie. Want Hy is nie meer my God nie. 2. Miskien het nie een van ons vanoggend hier, al só openlik, op swart en wit, ons uittrede uit die geloof, ons emigrasie uit die koninkryk van God en afskeid met God, so aangekondig nie. Maar die menslike vraag `waarom’ het beslis al in een of ander vorm, op een of ander stadium in ons lewe, óf in ons agterkop gehuiwer óf bitter oor ons lippe gebars: `Waarom Here, waarom swyg u so? U weet tog wat my ellende is. U ken my kommer. Meer nog: U weet tog wat ek begeer nie teen U wil kan wees nie. So waarom antwoord U nie? Waarom swyg U so? U het tog belowe dat U vir my sal sorg. U Woord is vol van sulke beloftes. Waarom? Wat het van U geword? 3. Nog so ‘n stem is die stem van die digter van Psalm 22. Wat die agtergrond of werklike situasie van sy ellende was, weet ons nie. Dit is egter baie duidelik dat hy emosioneel totaal en al uitgeput is, dat hy fisiek gefolter is — vermoedelik deur sy vyande — dat hy al die dood in die oë gestaar het. Hy is op moedverloor se vlakte, hy het feitlik klaar boedel oorgegee wat die lewe betref. 4. Maar wat vir hom die ergste is, lei ons uit sy woorde in die psalm af, was sy ervaring dat God ver weg was, meer nog, dat God begin swyg het. Vers 2 en 3 sê dit baie duidelik: My God, my God waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie. ook snags, maar ek kry geen rus nie. 5. Wat alles vir hom nog pynliker maak, is die feit dat hy die God ken wat so ver van hom af staan. Hy weet presies wie die God is wat hy so sonder ophou aanroep: dit is die God wat ‘n geskiedenis met Israel gemaak het, wat vir Abraham, Isak en Jakob so goed was. Wat hulle nooit in die steek gelaat het nie. Wat meer is, lees ons in vers 4, dat hy tot die God roep wat tog veronderstel is om teenwoordig te wees daar waar Israel se lofsange weerklink. 6. Maar nou, waar is die God nou? Kyk, wil hy amper sê, die afwesigheid van ‘n onbekende god sou dalk nog draaglik kan wees, maar nou is dit die God wat hy ken, die God wie sy kinders nie alleen laat nie, wat sy kinders antwoord, vir hulle goed is. Dis Hy wat nou afwesig is, wat hom nie antwoord nie. En hy ken God nie so nie. Sy God maak eenvoudig nie so nie. Daarom: iets klop iewers nie, iewers moet daar ‘n misverstand wees, iewers is iets nie reg nie. 7. Waarom swyg God soms, geliefdes, ‘n ervaring waarvan baie Bybelskrywers ook getuig? In ‘n antwoord op hierdie vraag, dink ek moet ons versigtig wees met ‘n paar vinnige antwoorde, want hier staan ons letterlik op heilige grond. Wie in elke geval Psalm 22 wil verstaan, het iemand eendag gesê, moet eers saam met Christus gehang het en saam met Hom deur die pyn van Godverlatenheid gegaan het. Maar kom ons gee tog ‘n paar versigtige treetjies in ‘n poging om iets van ‘n antwoord op hierdie `waarom’ vraag te gee. 8. In die eerste plek swyg God soms omdat Hy God is. God het nie ons toestemming nodig om enigiets te doen nie, net so min het Hy ons toestemming nodig het om te praat. Jesaja 55:8-9 sê dit tog duidelik: ‘My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die Here: soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes Wie ken die bedoeling van die Here?’ Dieselfde soort taal praat Paulus ook in Romeine 11:34-35: ‘Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’ 9. Geliefdes, God kan nie in formules vasgevang word nie, nog minder kan God ooit onder ons beheer kom of deur ons in ‘n greep gekry word. Daarom, as Hy swyg, wat kan ons eintlik anders doen as om …ook te swyg? 10. Tweedens, swyg God soms dalk ook omdat Hy toornig is oor ons sonde en oor ons lewe. Dalk het Hy in die verlede met ons oor ons lewe of sekere dade gepraat en gepraat en bly praat, op verskillende maniere. Maar ons wou nie hoor nie. Ons wou Hom nie antwoord nie. Ons wou nie ‘n keuse vir Hom maak nie. En daarom swyg Hy nou. Hy het naby aan ons kom staan, maar ons het, uit eie keuse, weg van Hom af gaan staan. 11. Ek sou graag wou sê dat hierdie rede vir God se somtydse swye glad nie waar is nie, of dat dit glad nie in die Bybel voorkom nie, maar ek kan nie. Gaan lees maar net die geskiedenis na van God se volk in die Ou Testament. Oor hulle sonde, oor God se pleitredes deur sy profete, oor die volk se reaksie. En dan: God se swye. Hy swyg soms as gevolg van ons eie sonde. En weer: moet ons dalk nie dan ook miskien hand op die mond sit en maar stilbly nie? 12. Derdens swyg God heel waarskynlik soms omdat Hy weet dat geen antwoord nou vir ons die beste is. Die heel beste. Al verstaan ons dit nie. Omdat God weet ons lyding nou, ons swaarkry nou, later vir ons baie in die lewe gaan beteken. En as dit so is, moet ons dan nie miskien ook oorweeg om maar te swyg totdat God antwoord nie? En intussen in die geloof te leef nie? 13. Dirk dis maklik om te se leef in die geloof. Geloof gaan niks verander nie, dit bring nie vrede in my krisis nie, dit maak niks beter om stil te bly en in geloof aan God vas te hou nie! Maar watter ander alternatief is daar dan? 14. Psalm 22, geliefdes, beantwoord hierdie waarom-vraag egter ook op ‘n ander manier, op ‘n baie meer troosryke wyse. Want die Psalm sê ook: al sou God swyg omdat Hy God is, al sou Hy swyg as gevolg van ons sonde, al sou Hy swyg omdat Hy weet dit die beste is, al sou Hy swyg in sy toorn, dit verander nie ‘n enkele greintjie aan sy liefde vir ons nie. Want die digter weet, en dit sien ons duidelik uit vers 4: al ervaar Hy God nie naby nie, al ervaar Hy net God se stilswye, God is die Heilige wat woon waar die lofgesange van sy kinders opklink. God is altyd by ons. Op sy tyd sal Hy antwoord. 15. Presies so gebeur dit vir die digter in vers 22 van die Psalm wanneer hy uitroep: U het my gebed verhoor! God was toe al die tyd daar toe hy gedink het Hy was nie. God het hom gehoor, toe hy gedink het Hy het sy gesig van hom weggedraai. In sy ellende het God hom toe al die tyd nie vergeet nie, al het dit so gevoel. 16. En hoe tipies: Is dit nie wat ons van God ervaar, wat ons van God dink, so dikwels presies dit wat Hy nie is nie. God is genadig, selfs in sy toorn. Al voel dit nie vir ons so nie. Hy het ons lief, altyd lief, al ervaar ons dit nie altyd so nie. Meer nog: God weet van my, Hy weet alles van my, selfs dit wat ek die nodigste het, al dink ons nie altyd so nie. 17. Daarom, wanneer ons — soos hierdie Psalmskrywer — meen dat God ons verlaat het kan ek steeds vir God se: “Here dat al voel dit vir my of ek in ‘n vakuum praat, dan praat ek nogtans met U; al ervaar ek dat U ver is, roep ek nogtans na U; al beleef ek U as my vyand, glo ek nogtans dat U my vriend is; al kom U nou so onbekend voor, bly U nogtans aan my bekend.” 18. Nogtans, dit is die woordjie wat die verskil maak in tye wanneer ons God ver ervaar. Nogtans is eintlik niks anders as die woordjie geloof nie. Want dit is geloof, nogtans geloof, wat maak dat ons bly glo dat God naby is as ons voel Hy is ver, wat maak dat ons glo dat God ons hoor, al voel dit nie so nie. 19. Horatio Spafford (1828-1888) was a ryk Chicago resgeleerde met 'n vooruitstrewende regspraktyk, 'n pragtige huis, vrou, vier dogters en 'n seun. Hy was ook 'n Christen wat die Bybel getrou bestudeer het. 20. Te midde van al hierdie finansiële en professionele welvaart, het Horatio en sy vrou hulle jong seun tragies verloor. Kort hierna, op 8 Oktober 1871, het die groot Chicago brand feitlik elke eiendomsbelegging wat Spafford besit het, vernietig. Indien jy dalk onlangs die boek Job in die Bybel gelees het, mag jy dalk dink dit klink alles te bekend. 21. In 1873, het Spafford 'n bootreis gereël om vir sy vrou, Anna, en hulle dogters, 'n broodnodige vakansie te gee om hulle te help om van al hierdie tragiese gebeure te herstel. Sy vrou en dogters het voor hom vertrek aangesien hy nog sake gehad het om af te handel. 'n Paar dae later is hy in kennis gestel dat die skip in 'n botsing betrokke was. Ons kan sy lewe nog verder met dié van Job vergelyk. Al vier sy dogters het verdrink en net sy vrou het oorleef. Spafford het onmiddellik 'n boot gehaal om hom na sy treurende Anna in Londen te neem. 22. Dit was op hierdie reis dat Spafford die woorde van die volgende lied geskryf het……. 23. Ek sluit af: die antwoorde wat ek vanoggend aan u gebied het op die waaromvraag is alles behalwe volledig. Moet tog ook net nie dink dat ek self alles verstaan nie. My antwoorde is maar net ‘n poging, ‘n menslike poging. 24. Maar een ding het ek weer besef: wanneer God swyg, praat Hy dikwels die hardste met ons, wanneer ons voel dat Hy ver van ons staan, staan Hy dikwels die naaste aan ons. Hoe was dit met Jesus aan die kruis en in die graf? Ook Hy het hierdie woorde van Psalm 22 hard uitgeroep: My God, my God, waarom het U my verlaat! Ook Hy het ervaar dat God weg was. 25. Sy ervaring was egter nie net verbeelding nie. God het Hom in daardie doodverlate graf laat ingaan. Hoekom? Sodat daaruit lewe kon kom. Vir Hom en vir ons. Swye het gelei tot nuwe lewe, verlatenheid het gelei tot ‘n ewigheid by die Vader. 26. So is dit dikwels ook met ons. Wanneer God lank geswyg het, en ons daarom met Hom besig was, met Hom geworstel het, en God antwoord dan, dan het ons deur die proses soveel nader aan Hom gekom. Ek weet nie waar u uself tans op die geloofspad bevind nie, ek weet nie hoe u God tans in u lewe ervaar of dalk NIE ervaar nie. Wat ek egter wel weet, is dat God se swye, soos in die Psalm, soos met Jesus Christus daar aan die kruis, nie beteken dat Hy afwesig is nie, maar dat dit eerder beteken dat Hy aan die werk is, in jou lewe maar ook in die lewe van die mense rondom jou. Diegene wat jou seer sien, maar ook die getuie wat jy is deur die manier waarop jy jou krisis saam met God hanteer 27. Maar laat ons nooit vergeet nie: God is soms ‘n swyende God. Ons sal dit nie altyd verstaan nie. Ons sal nie altyd verstaan hoekom nie. Maar Hy is alleen God, in sy liefde en trou sal ons altyd vasgevang wees, al ervaar ons dit nie. Hy weet die beste. Elke oomblik van ons lewe. Wie in geloof aan hierdie oortuiging vashou, al swyg God en bly Hy swyg, sal net nader en nader aan God lewe