Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Dit is geen geheim dat Christene oor die eeue heen baie hoë agting gehad het vir die apostels nie. Natuurlik Judas uitgesluit. Die woord “apostels” kom van die Grieks “apostollos” wat GESTUURDE beteken maar is ook verwant aan die woord “apostello” wat verwys na iemand aan wie gesag gegee is om ‘n boodskap af te lewer. Dit het die idee van ‘n gesant, ‘n verteenwoordiger. 2. In Markus se vertellinge van die roeping van die apostels se hy vir ons dat Jesus diegene na Hom toe geroep het “wat Hy wou hê”. Daar was geen vrywilligers nie. Die poste van Apostels is nie geadverteer nie en niemand kon aansoek doen vir die poste nie. Jesus het hulle self gekies. 3. En Jesus kies hierdie 12 manne om sy evangelieboodskap uit te dra, om toekomstige leiers in die kerk op te lei en om ‘n voorbeeld te stel van hoe gelowiges mekaar sou dien. Hulle doel was om deur die evangelie uit te dra sodoende by te dra tot die totstandkoming van die kerk op aarde. 4. En dis eintlik verstommend dat wanneer Jesus die dissipels roep laat staan hulle alles en begin Hom te volg. Geen beloftes van seeninge nie, geen beloftes van status nie. Niks nie. Hulle laat staan belowende beroepe en volg Hom dadelik. En so word die dissipels deel van die binnekring van Jesus. En hulle sou vir die volgende 3 of so jaar saam met Jesus reis, kos met hom deel, slaapplek met Hom deel, en hulle sou sy bediening eerstehands beleef het. 5. In ons teks lees ons dan vanoggend van een van die intiemste oomblikke wat Jesus saam met hierdie binnekring van Hom het, hierdie groep manne aan wie Hy alles gaan oorlaat en vir wie Hy vertrou om die evangelieboodskap verder uit te dra na sy hemelvaart. Dis die aand voor sy kruisiging waartydens Hy die Nagmaal ingestel het. Hierdie sakrament was daardie aand ‘n intieme oomblik tussen Jesus en sy binnekring. Hulle wat die afgelope 3 jaar of so saam met Hom gewandel het. Maar hierdie ete sou ook hierna vir elke gelowige tot en met die wederkoms herinner aan die grootste gebeure in menseheugenis. 6. Volgens Johannes het Jesus eers daardie aand in die bovertrek sy dissipels se voete gewas. Vir hulle gewys wat hoe om ander te dien. Hierna is die ete bedien. 7. Maar tydens hierdie ete gebeur daar iets wat ons almal baie mee vertroud is maar miskien nie altyd genoeg vrae oor vra nie. Daar vind ‘n voorval plaas wat vir ons baie meer wil se as wat dit op die oog af lyk. Want skielik, tydens hierdie intieme oomblik deel Jesus hierdie binnekring van Hom mee dat een van hulle Hom gaan verraai. 8. En die dissipels begin rondvra of dit een van hulle is. Is dit ek? Is dit ek? Jesus gee dan ‘n antwoord wat baie vreemd lyk. Vers 23 se dat Jesus vir die dissipels se dat “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat my sal verraai.” Hieroor moes die dissipels geweldig verward gewees het. Jesus is tog die gasheer van hierdie maaltyd en dit was die tradisie dat ‘n pot met sous op die tafel geplaas word en elkeen van die gaste sou sy brood in die sous gedruk het. Dis hoe ‘n maaltyd in daardie gewerk het. 9. Maar het u al opgelet? Nooit lees ons op enige plek in die Skrif dat Judas sy hand saam met Jesus in ‘n skottel druk nie. Sekerlik, as dit is wat Jesus bedoel het sou hierdie groot oomblik tog gedokumenteer gewees het iewers. Maar nerens lees ons daarvan nie. En hierdie teks het al tot interessante preke gelei. Ek het eendag gelees dat ‘n prediker verduidelik dat Judas eintlik ‘n ongemanierde kerel was en het sommer sy hand in die skottel saam met Jesus gedruk. Maar dis totaal ‘n verkeerde bewering. 10. Om die diepte van hierdie stelling van Jesus te verstaan moet ons kyk na die kultuur van die antieke tyd. Die mense in hierdie tyd het dikwels tydens etes ‘n skottel gehad waarin daar sous was. Kort-kort het hulle hul broodjies in die sous gedruk. Dit was dan ‘n teken van gasvryheid om iemand dan te nooi om sy broodjie saam met jou in die sous te druk. Ons lees bv in Rut 2:14: “Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.”” 11. Om so saam te eet was ‘n baie intieme geleentheid. Daarom het daar ‘n spreekwoord ontstaan deur te se “iemand steek sy hand saam met jou in die skottel.” En hierdie idioom het bloot beteken dat so ‘n persoon deel vorm van jou binnekring. Dat so ‘n persoon iemand is wat baie naby aan jou is, nie net fisies nie maar ook emosioneel. 12. Jesus se woorde dat die verraaier sy hand saam met Hom in die skottel sou steek moet nie letterlik opgeneem word nie. Dit beteken bloot dat Jesus se verraaier uit sy binneking sou kom. Dat die verraaier deel van die intieme groep van Jesus is. En die dissipels het dit dadelik besef en daarom dat hulle so vinnig vra of dit dan een van hulle sou wees. Andersins kon hulle maar bloot gewag het om te sien wie steek sy hand saam met Jesus in die skottel. Maar dit was nie die bedoeling nie. Dis dan ook die rede waarom ons nooit lees dat Judas letterlik sy hand saam met Jesus in die skottel druk nie, want Jesus het dit bedoel as die idioom waarmee hulle almal vetroud was. 13. Jesus se verraaier was nie ‘n vreemdeling nie. Dit was nie ‘n soldaat wat ‘n geleentheid gesien het om ‘n paar denarii te verdien nie. Dit was nie iemand wat Hom gehaat het vir wie Hy was en wat Hy gedoen het. Dit was nie eens ‘n Fariseer of Skrifgeleerde wat geaffronteerd was oor iets wat Jesus tydens sy bediening vir hulle gese het nie. Nee, dit was iemand uit sy binnekring, iemand wat deel van sy intiemste groep mense was. Die verraaier was iemand wat elke dag saam met Jesus gestap het, al sy wonders gesien het en al sy leringe gehoor het. 14. En dit moes vir Jesus ontstellend gewees het. Dit moes selfs vir die dissipels ontstellend gewees het. Want as dit iemand van buite was sou dit nog redelik verstaanbaar gewees het. Jesus het baie vyande tydens sy prediking gemaak. En dit sou verstaanbaar gewees het as iemand wat Hom nie gevolg het nie Hom sou verraai het. Maar iemand uit sy binnekring? Iemand uit sy intiemste groep volgelinge? 15. Ja, gelukkig was daar 11 ander, en later Mattias wat in Judas se plek gekies is, wat wel gehoorsaam was aan die opdrag van Jesus. Maar een van hulle was nie. Judas het gekies om Jesus en die binnekring waarvan hy deel was, te verraai. Judas het die evangelie gehoor, hy het dit sekerlik verstaan, maar dis nie wat hy wou gehad het nie. Hy wou die omverwerping van die Romeinse owerheid sien, en toe hy besef dat dit nie Jesus se plan was nie, het hy besluit om die Meester te verraai. 16. Maar die feit dat Jesus nie die dissipels se vraag direk antwoord nie beteken nog 2 ander dinge wat ons in sy reaksie moet raaklees. Eerstens gee Hy nie die naam van die verraaier vir die dissipels nie net vir ingeval Judas van plan verander. Net ingeval Judas sy bose planne laat staan en die genadegeleentheid wat hom gebied word aangryp. Indien hy Judas se naam vir die dissipels gegee het en Judas hierna van sy bose planne sou afsien, sal die broederskap en onderlinge liefde teenoor Judas beslis nie meer daar gewees het nie. Hy sou altyd met afkeer aangekyk en hanteer word. 17. Tweedens, skep die blote feit dat Jesus nie Judas se naam bekend maak nie die geleentheid vir elke dissipel om sy hart en verhouding met Jesus persoonlik te ondersoek. Sal ek so iets doen? Sou ek tot so iets in staat wees? Want Jesus het geweet dat hulle dringend nodig het om selfondersoek te doen. Want ons lees in Lukas 22:23-24 die volgende: “Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen. Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.” 18. Om vir ‘n tydjie te wonder of hulle elkeen dalk die verraaier was sou hulle ook geleentheid gee om te kyk na hul eie verhouding met die Messias. 19. Vandag het Jesus nie net 12 dissipels nie. Hy het miljoene, regoor die wereld. En ons hier vanoggend, u en ek, ons is ook sy dissipels. Ons is nou ook deel van die binnekring van Jesus. Ons het tog ook ‘n intieme verhouding met Hom. Ons het ook die taak ontvang om uit te gaan en sy evangelieboodskap uit te dra. Ons ken Jesus ook soos die dissipels Hom geken het. Hy het Homself tog in die Skrif aan ons geopenbaar. Ons weet wat die boodskap is wat ons moet gaan verkondig. Ons ken die Goeie nuus. Baie goed! Net soos die dissipels……en net soos Judas. 20. En vanoggend het u en ek die keuse: Gaan ons soos die dissipels die evangelieboodskap uitdra deur ons woorde, ons gedrag, die manier waarop ons leef, of gaan ons soos Judas, as ‘n intieme binnekring lid, Jesus in die rug steek? Gaan ek vanoggend by die tafel van die Here aansit soos die dissipels, die seening van die Here ontvang en uitgaan om sy boodskap uit te dra, of gaan ek soos Judas ook aan die tafel sit vanoggend, maar dan uitgaan en aanhou om Jesus te verraai deur die manier waarop ek leef. 21. Die keuse, geliefdes, is ons eie. Net ons kan daardie keuse maak. Jesus het dit nie namens Judas of die ander 11 dissipels gemaak nie. Dit was hulle eie keuse. Jesus gaan dit ook nie namens my en jou of enige ander gelowige daarbuite maak nie. Dis ons eie keuse. As ons vanoggend net weer opnuut die vergifnis en genade van God in Christus tasbaar beleef het, wat gaan ons daarmee maak as lid van sy binnekring? 22. Gaan ons instrumente in die hand van die Verlosser wees, die Een waaroor hierdie ete vanoggend gaan, of gaan ons Hom met ons handel en wandel elke dag verraai, soos ‘n Judas? Die keuse is ons s’n. Kies vanoggend wys!