Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. ‘n Paar weke gelede lees ek in die koerant dat ‘n sekere land wat in oorlog gewikkel is daarop aanspraak maak dat “God aan hulle kant is.” Die vraag ‘aan wie se kant is God nou eintlik?’ is ‘n vraag wat so oud is soos die Bybel self. Reeds in die Ou Testament (alhoewel die vraag daar nie eksplisiet gevra word nie) was hierdie vraag aan die orde. 2. In die tyd van Israel het die heidennasies byvoorbeeld elkeen sy eie god/gode gehad. Daar was oorlogsgode, vrugbaarheidsgode, reëngode en feitlik ‘n afgod vir elke geleentheid of saak. As hulle byvoorbeeld na die slagveld opgeruk het, het hulle letterlik hulle oorlogsgode opgetel, saam op die wa gelaai, en by die slagveld staan gemaak. En daarom, het hulle geglo, sou hulle die slag wen — want die gode was immers aan hulle kant. 3. Daarteenoor het Israel geglo dat hulle God iets anders en meer was as maar net die afgode van die heidennasies. Vir hulle was God, en ook heel tereg, nie ‘n God naas ander gode nie, maar die enigste. En net soos die heidennasies (lees bv 2 Sam 1-5) het hulle ook vir God, versinnebeeld in die teenwoordigheid van die ark wat hulle saamgeneem het na die slagveld toe. Omdat die ark daar was, was God daar, en daarom sou hulle nie die veldslag verloor nie. 4. En in die dae van Miga, byvoorbeeld, het die volk gemeen dat God sonder meer aan hulle kant was. Want die valse profete van daardie tyd het hulle laat verstaan dat God altyd, sonder meer, vanselfsprekend aan hulle kant was en altyd aan hulle kant sou bly. ‘Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie’ het hierdie valse profete die volk verseker, lees ons in Miga 3:11. En dit terwyl hulle God in die daaglikse praktyk van die lewe vergeet het. God was so aan hulle kant, het hulle geglo, dat hulle maar kon leef soos hulle wou, so ongehoorsaam kon wees soos hulle wou, want hulle het immers alleenreg op God gehad. 5. “Aan wie se kant is God dan nou eintlik?” Wat ons in die Nuwe Testament lees, geliefdes, maak die antwoord op hierdie vraag nog moeiliker. Want daar lees ons, en kom ons neem Efesiërs 2:17-22 as voorbeeld, dat God, na Jesus Christus, nie meer net die God van die Jood/Israel is nie, omdat God in Christus nou vir Hom ‘n nuwe volk bymekaar gemaak het, ‘n volk uit elke volk, taal en nasie. Mense wat vroeër ‘ver was’ van God, sê Efesiërs, wat aanvanklik uitgesluit was uit die verbondsbeloftes van God, het nou deur die bloed van Jesus en die kruisgebeure naby gekom, God se volk geword. Met die gevolg: soos ons vanoggend in hierdie kerkgebou aanbid, is daar letterlik miljoene ander gelowiges in ander lande wat net soos ons sê: God is ons God, Hy is aan ons kant!! 6. Maar kom ons maak dit baie prakties. In die Tweede Wêreldoorlog is die Britse soldate aangevuur deur die slagspreuk `for God, king and country’. Teenoor hulle het die Duitse magte opgeruk met hulle eie slagspreuk ‘für Gott, Volk und Vaterland’. Met ander woorde, lynreg teenoor mekaar opgestel het die een kant in die loopgrawe geskree ‘for God’, en uit die ander loopgrawe is gehoor ‘für Gott’. 7. So word ons vraag al hoe moeiliker om te antwoord, want as ons in ag neem watter rol die twee genoemde lande in die wêreldekonomie speel, dat beide streef na politieke en ekonomiese mag, selfs wêreldmag, aan wie se kant is God nou eintlik? 8. Maar kom ons maak dit nog moeiliker. Wanneer mense hulle op dieselfde Bybel begin beroep om aan te toon dat God nou eintlik aan hulle kant is, dan word die saak nog meer ingewikkeld. Teen die einde van die sestigerjare, as voorbeeld, het die teologie van die bevryding sy beslag gekry in die arm Latyns-Amerikaans lande, hoofsaaklik in die gebied van Suid-Amerika. Kyk, het hulle gesê, as ‘n mens die Bybel reg lees, is dit duidelik dat God, in Jesus Christus, aan die kant is van die armes en die verdruktes. Want waarom het God sy volk uit slawerny bevry, vra hulle. Omdat hulle uitgebuit, onderdruk en vertrap was. 9. Daarom, is gesê, omdat Christus aan die kant van die armes was, is God dus aan hulle kant, en kan mense wat tot die vryheidstryd toetree — selfs al moet daar van geweld gebruik gemaak word — van een ding doodseker wees: God is aan hulle kant. 10. Hier in ons eie land het die bevrydingsteologie van Amerika af oorgewaai en is God beskryf as die God wat aan die kant van die verdruktes is. 11. ‘n Laaste, en miskien die beste voorbeeld is die situasie wat al vir jare in Noord-Ierland woed. Aan die een kant van die straat woon die Katolieke, en hulle glo God is aan hulle kant, en aan die ander kant van die straat woon die Protestante, en hulle glo weer dat God agter hulle saak staan. 12. Ek wil vanoggend die mening uitspreek dat al die bogenoemde God-is-aan-ons-kant-godsdienste nie die toets van die Skrif kan deurstaan nie. Die dilemma van so ‘n omgang met die Bybel is, met eerbied gesê, dat God teen Homself afgespeel word, dat ons wat sondaarmense is van God verwag om kant te kies, en dan natuurlik verwag ons van Hom om ons kant te kies! So wil almal op God se seën aanspraak maak, selfs daar waar hulle met onheilige dinge besig is. Met die gevolg: mense haat mekaar, boikot mekaar, skiet selfs op mekaar — en dit alles sogenaamd in die naam van God. 13. En dit kan tog nie, geliefdes. ‘n Mens kan tog nie beslag op God lê nie. Want dan is Hy nie meer God nie. Die mens kan nie maar net vir God soos die brandweer of die Polisie inroep om jou saak te kom dien wanneer dit jou pas nie. Want dan maak ons van Hom ‘n mensgemaakte speelbal, en is God nie meer God nie. 14. Maar in ons skriflesing vanoggend se Paulus duidelik”God is vir ONS!”. Paulus maak hier dieselfde aansprake wat die groepe mense maak waaroor ons sopas gepraat het. Wat maak hom, en in essensie, vir ons dan, beter as al hierdie groepe mense? 15. Maar aan wie se kant is God dan nou eintlik? Wat is dan nou die antwoord sal u vra? Die antwoord op die vraag ‘aan wie se kant is God’ lê in die vraag self, in dié opsig dat ons die vraag moet omkeer en nie vra ‘aan wie se kant is God nie’, maar eerder: ‘aan wie se kant is ons/ek?’ Met ander woorde, in plaas daarvan dat ons vra ‘aan wie se kant is God’, moet ons eerder vra: ‘is ek, is ons, gehoorsaam aan God’, en ‘is ons ingestel op sy koninkryk’ en ‘soek ons werklik sy eer en sy heerlikheid’? Want dan kan ons soos Paulus in Romeine 8:31 sê: ‘God is vir ons, wie kan dan teen ons wees’. 16. Maar dan is dit wesentlik belangrik dat ons vir onsself sal uitmaak wie die ‘ons’ is waarvan Paulus hier praat. Die ‘ons’ van wie Paulus hier praat is nie ‘n land, ‘n volk, ‘n nasie, ‘n belangegroep of watter groepering ook al nie. Ook is dit nie maar net die arme en verdrukte sonder meer nie, al is God se Woord vol van ontferming vir die armes en die noodlydendes. Want armes en noodlydendes word immers nie bloot op grond van hulle armoede of nood regverdig voor God verklaar nie. Net so is Israel nie uit Egipte verlos net omdat hulle slawe was nie. 17. Want die ‘ons’ wat kan sê ‘God is vir ons’ word tog duidelik deur Paulus omskryf in Romeine 8:33: Die ons is die uitverkorenes in Christus (Rom 8:33). Want as ‘n mens daaraan dink dat God sy eie Seun nie vir ons gespaar het nie, wil Paulus sê, as ons raaksien hoe God ons verlos het, ons wat almal gesondig het en niks verdien nie (Rom 3:23-24), dan kan ‘n mens net tot een gevolgtrekking kom: God is vir ons. 18. Met ander woorde: daar is maar net een rede waarom ‘n mens kan sê dat God aan jou kant is: nie omdat jy sus of so is, die of dat nie, van hierdie land of van daardie nie, nee, God is aan jou kant omdat deur die genade van God Jesus Christus die Here van jou lewe geword het. En die mense van wie dit gesê kan word, behoort nie tot een groep of een volk of een land nie, maar aan die kerk. 19. En mense, broers en susters, wat so deur God tot sy eiendom gemaak is, omdat Hy in Christus hulle gered het, staan meteens in ‘n totaal nuwe verhouding tot mekaar. En daarom, wie vandag so hoog opgee dat hulle in die naam van God handel en dat God aan hulle kant is, moet hulleself altyd maar eers in diepe ootmoed afvra: Is ons aan God se kant? 20. ‘n Tweede vraag is egter hier net so belangrik, en moet ook maar voortdurend afgevra word. As ons sê God is aan ons kant, ja, alvorens ons God se seën vir onsself wil opeis, moet ons ook maar vra: oor wie se saak gaan dit, oor ons eie selfsugtige belange, of die saak van God in hierdie wêreld? 21. Want vir wie het Paulus gesê ‘God is vir ons’? Hy het dit gesê vir mense wat alles verloor het, alles prysgegee het ter wille van die geloof in Jesus Christus, maar tog ‘meer as oorwinnaars was’ (Rom 8:37) omdat hulle deel geword het van ‘n veel groter saak as hulle eie: God se ewige koninkryk. 22. Met ander woorde: God is nie maar net daar om mense se selfgeskepte en selfgerigte koninkrykies te dien, of die mens se eie selfsugtige plannetjies te laat slaag nie. God is nie daar ter wille van die mens se eie voordeel en eie gewin nie. Inteendeel. Net anders om. Ons is hier vir God se koninkryk. 23. Wie dus op God se seën wil aanspraak maak, moet daarom baie goed weet dat Hy gehoorsaamheid eis. En wat betref ons verhouding tot ons naaste is die Bybel daarvan vol dat God van die mense vereis om sy medemens lief te hê en aan hom reg te doen (Lees maar gerus Miga 6:8 in hierdie verband.) 24. Dus: wanneer is God aan ons kant? Wanneer die mens oplossings vir al sy probleme soek binne die raamwerk van die liefde en die genade van God. Dan kan ons op God se seën staatmaak, dit verwag, en dan sal ons dit kry. Want dan is ons aan God se kant, dien ons sy plan met die wêreld, sy koninkryk. 25. En terwyl ons dit doen, laat ons maar altyd onthou: God is ‘n groot en verhewe God. Niemand het enige reg op Sy seëninge nie. Ook nie hierdie of enige ander gemeente nie. Ons sê so baie dat God ons in die gemeente seen, maar dit sal net gebeur as dit vir hierdie en elke ander gemeente gaan oor die koninkryk van God. God is ook nie ‘n vanselfsprekendheid nie. God is ook nie privaatbesit of volksbesit of landsbesit of gemeentebesit nie. ‘n Mens kan nie jou hand op Hom lê nie. God is niemand se eiendom nie. 26. Nee. Ons is sy eiendom en deel van sy koninkryk. En wie in gehoorsaamheid sy koninkryk dien, kan bid dat God sy/haar werk sal seën.