Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons ken nie haar naam nie. Markus vertel ons nie wat haar naam was nie. Ook in Matteus 9 en Lukas 8 word haar naam nie genoem nie. Maar al ken ons nie haar naam nie, haar omstandighede ken ons baie goed. Omstandighede wat nie anders beskryf kan word as middernag donker nie. Diep in die put. Op die bodem. Met blykbaar geen moontlikheid van uitkoms nie. 2. As ons weer verse 25-26 saamlees sal u verstaan wat ek bedoel: “Daar was ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiïng gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.” 3. Sy was, geliefdes, soos ons dikwels sê, ‘n geknakte riet: sy het al twaalf jaar gely, sy het baie gely, alles wat sy gehad het, daaraan bestee, en, bo alles, sy het net erger geword. ‘n Toestand van kroniese bloedvloeiïng, kroniese menstruasie sal vir enige vrou in enige situasie, tyd of era baie moeilik wees om te hanteer. Maar vir ‘n Joodse vrou in die 1ste eeu kon daar niks ergers wees nie. Want dit het feitlik alle fasette van haar lewe geraak: Seksueel: met haar man kon sy geen normale huweliksverhouding hê nie, inteendeel, sy mag nie eers aan hom geraak het nie; Moederskap: dit was vir haar totaal onmoontlik om kinders te kon hê; Huishoudelik: alles waaraan sy geraak het, is as onrein geag. Haar kinders kon sy nie teen haar vasdruk nie, sy kon nie eers die vloere was of die skottelgoed afdroog nie. Ook nie haar kinders se klere nie. Want so sou sy alles onrein maak; en Geestelik/godsdienstig: sy was nie toegelaat om in die tempel in te gaan nie. In die tempel kon sy dus nie gaan bid nie, God se teenwoordig was vir haar ‘n totale onmoontlikheid. Of in kort: sy was fisies en geestelik uitgeput en sosiaal en godsdienstig uitgesluit. Sy was op haar eie. Dit was die hele wêreld teen haar alleen. Lev 15:19 – solank as haar menstruasie duur was sy onrein 4. En asof dit nie genoeg is nie, gaan Markus nog verder. Om van haar siekte ontslae te probeer raak, het sy talle dokters geraadpleeg. Die Talmoed (‘n kommentaar op onder andere die Tien Gebooie — iets soos die Heidelbergse Kategismus of die Nederlandse Geloofsbelydenis) het nie minder as elf geneesmiddels vir die toestand aanbeveel nie. 5. Sy het ongetwyfeld almal probeer. Vir party was daar gronde, soos die kook en eet van bepaalde kruie, die lê in water bestaande uit sekere geneesmiddels. Ander, soos om die as van ‘n volstruiseier in ‘n linnedoek rond te dra, was niks anders as leë bygelowe nie. Maar sy het almal probeer. En al haar geld daaraan bestee. Dus, behalwe dat sy fisies en geestelik uitgeput en sosiaal en godsdienstig uitgesluit was, was sy ook finansieel ten gronde. 6. En dan gaan Markus nog verder: haar toestand het net vererger. Sy was inderdaad ‘n geknakte riet. En so het sy maar elke oggend wakker geword in ‘n liggaam wat niemand wou hê nie. Ook het sy seker nie eers meer geweet hoe om te bid nie. Maar tog, geliefdes, het sy nie hoop opgegee nie. Want haar laaste gebed bid sy wanneer ons met haar kennis maak, waar sy besluit om na Jesus te gaan. Want dit wat sy gedoen het kan nie anders beskryf word as ‘n gebed nie. 7. Teen die tyd wat sy by Jesus kom, lees ons, is Hy omring van mense. Hy is op pad om Jaïrus se dogtertjie te gaan help — die belangrikste man van die gemeenskap se kind is op die punt om te sterf. Wat was haar kanse dat Jesus sy reis na hierdie belangrike man se huis sou onderbreek om haar eers te help? Baie klein, het sy seker geoordeel. Maar wat was die kanse dat sy sou oorleef as sy nie die kans waag nie? Nog kleiner, het sy beslis gereken. En daarom dink sy: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek miskien gesond word (Mark 5:28). Matteus se sy het met haarself gepraat….. 8. Maar haar besluit om aan Jesus te probeer raak, was ‘n gevaarlike besluit. Want as sy aan Hom wil raak, sal sy aan ander mense ook moes raak. En as een van die menigte haar sou erken, sou dit vir haar geweldige probleme teweeg gebring het. Maar het sy ‘n keuse gehad? Want geld was daar nie meer nie, nog ander geneesmiddels was daar nie, ook nie meer vriende nie, dus geen oplossing meer nie. 9. Net een ding was oor: ‘n vae voorgevoel dat hierdie Man haar kon help, ‘n groot verwagting dat Hy miskien die oplossing van alles was. En die hoop dat Hy bereid sou wees om sy reis na ‘n belangrike man se huis te onderbreek om net een sekonde aan haar aandag te gee. 10. En daarom waag sy. Al het sy geen waarborg nie. Hoop sy Hy sal reageer. Smag sy daarna dat Hy sal reageer. Al weet sy nie of Hy sal nie. Ja, al wat sy weet is dat ander gesê het Hy is goed, en dat Hy nou daar voor haar was. 11. En wat gebeur toe sy Hom aanraak? Twee dinge, geliefdes, wat nêrens anders in die Bybel gebeur nie. Eerstens, Jesus genees haar onmiddelik, eintlik nog voordat Hy dit weet. Die krag gaan outomaties van Hom uit. Met ander woorde, haar behoefte maak dat God deur Jesus onmiddellik in haar behoefte voldoen. En tweedens: Jesus noem haar dogter, die enigste keer dat Jesus ‘n vrou dogter noem. Stel jou voor hoe dit vir haar moes voel: sy kon seker nie meer onthou wanneer laas iemand haar met soveel liefde en toegeneëntheid ontvang het nie. 12. Dit alles, omdat sy bereid was om te waag. Dit alles omdat sy maar net ‘n vae voorgevoel gehad het dat hierdie Man haar kon help, ‘n groot verwagting gehad het dat Hy miskien die oplossing van haar probleem was. Miskien is dit, broers en susters, soms ook al wat ons het wanneer ons na Jesus gaan. ‘n Vae voorgevoel, ‘n groot verwagting en hoop. Miskien sal Hy my help. Miskien sal Hy my lyding raaksien. Miskien weet Hy presies hoe diep in die put ek sit. Miskien weet Hy hoe groot my behoefte en diep my bekommernis lê. 13. As hierdie beskrywing inpas by sekere tye in u lewe, let dan maar goed op wie se geloof in hierdie vertelling geprys word. Dit was nie die van die belangrike man nie. Ook nie die van Jesus se volgelinge nie. Ook nie die van een of ander groot leermeester nie. Nee. Dit was haar geloof, die geloof van ‘n totaal moedelose en uitgeworpene. Iemand wie se naam ons nie eers ken nie. Die geloof van iemand wat aan haar laaste hoop geklou het — dat Jesus miskien sal help. 14. En die wonder hiervan is dat Jesus nie net reageer op die geloof van ‘n NB man nie, nie net op die geloof van die Raadslid van die sinagoge nie, maar dat Hy ook reageer op die geloof van die randfigure, hulle wat verwerp word deur die samelewing. ‘n Onrein vrou! Jesus reageer met liefde en begrip op die geloof van enige persoon, ongeag sy of haar sosiale stand. 15. Hierdie is, so terloops, myns insiens ‘n baie goeie definisie van geloof : ‘n oortuiging dat Jesus kan help en ‘n hoop dat Hy sal help. Dit stem ook nogal ooreen met Hebreërs 11:6 se definisie van geloof: `As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié wat Hom soek, beloon’. 16. Nie te ingewikkeld nie, meen ek. Geloof is die wete dat God werklik daar is en dat Hy goed is. Met ander woorde, geloof is nie ‘n mistieke ondervinding, ‘n middernagtelike visioen of ‘n stem in die bos nie. Dit is eerder ‘n keuse om te glo dat Hy wat alles gemaak het, ook vir my, dit steeds onderhou en dat Hy steeds reageer op die geringste teken van geloof. Of kom ons sê dit anders: Geloof gaan oor tot aksie wanneer ons iets daaraan doen. Geloof tree in wanneer ons na God uitreik, wanneer ons bereid is om ‘n stap nader aan God te neem. 17. Soos hierdie vrou. Sy was bereid om haar hand na sy kleed uit te steek. En daarom is sy gered. Die aard van haar poging was nie die bepalende nie, maar die feit dat sy dit gedoen het. Dat sy bereid was om na God te soek, na Hom uit te reik. 18. Maar Dirk, my geloof is ver van perfek af. Wel baie geluk, dan is jy net soos ek in dieselfde bootjie as die vrou in ons verhaal vanoggend. Want haar geloof was ook nie perfek nie. Het u dit raakgelees? Sy het steeds geglo dat sy eers aan Jesus of dan ten minste aan sy klere moes RAAK om gesond te word. Sy het verder geglo dat Hy nie sou agterkom dat sy Hom aanraak nie. Maar Hy het, en Jesus het haar genees. Jesus wag nie tot jou geloof volmaak of perfek is voordat Hy daarop reageer nie. 19. Ons kan daarom ook nie anders, geliefdes, as om op grond van hierdie vertelling die volgende gevolgtrekking te maak nie: God se hulp is naby en beskikbaar, en Hy gee dit wanneer ons dit soek en najaag, wanneer ons na Hom toe uitreik. Ja, die groot wonder in hierdie verhaal is die genesing, maar die groot waarheid van hierdie verhaal is dat die genesing begin het omrede sy die geloof gehad het en besluit het om iets daaraan te doen. As sy nie gekom het nie, as sy nie deur al die mense geworstel het nie, as sy nie haar lewe op die spel geplaas het om as onrein vrou deur al die mense te skuur net om by Jesus uit te kom nie, as sy nie uitgereik het nie, sou daar heel waarskynlik niks gebeur het nie. 20. Daarom: geloof sonder ‘n poging is geen geloof nie. Maar op ons pogings sal God reageer. Geen egte geloofsgebaar — die wete dat God werklik daar is, dat Hy goed is en my kan help — word deur God oor die hoof gesien nie. God sal reageer. Want God ag enige geloofsgebaar hoog. Sonder geloof kan ons God nie behaag nie se die Hebreerskrywer. 21. Dink maar aan soveel voorbeelde uit die Bybel: wanneer ‘n ark gebou word (‘n geloofsgebaar) word mense gered. Wanneer soldate marsjeer, val mure om. Wanneer ‘n staf gelig word, maak die see ‘n opening. Wanneer ‘n ete gedeel word, word duisende gevoed, en wanneer ‘n kleed aangeraak word, kom Jesus tot stilstand en reageer. 22. Al is ons pogings hoe klein, hoe onbeduidend. Maar ons moet iets doen. Ons geloof moet dade word. Ons doen nie iets om gered te word nie. Nee, dis ‘n genadegawe uit God se hand. Maar ons doen iets omdat ons glo dat God werklik daar is, dat Hy goed is en my kan help. Geloof vra dat ons iets sal doen, sal uitreik in my krisis na God toe. My geloof moet my in beweging bring. Dan is die iets wat ons doen ‘n grype na God in die geloof. En dan reageer God.