Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons vier vandag Hervormingsondag, die dag waarop Martin Luther in 1517 sy 95 stellings teen die deure van die kerk in Wittenberg vasgespyker het, en so die Kerkhervorming in die 16de eeu begin het. ‘n Stukkie inligting wat miskien vir ons na ‘n stuk geskiedenis klink wat eintlik nie meer veel beteken nie. Maar kom ek verseker u: dit is ‘n stukkie inligting wat vir ons, as kerk vandag, nie belangriker kan wees nie. En kom ek verduidelik. 2. Ek wil egter byse dat dit nie toevallig is dat Hervormingsondag ook saamval met ons Verkondig die Woord maand en die insameling van skenkings vir Bybelverspreiding nie. 3. Tot en met die optrede van Luther was die Katolieke Kerk in wese die kerk waaraan Christene behoort het, met sy hoofsetel in Rome. In 1506 beveel Julius II van Rome dat die St Pieterskerk gesloop en totaal herbou moes word. Dit was ‘n ongelooflike bouprojek, van so ‘n omvang dat dit eers 120 jaar later afgehandel is. 4. En soos dit maar met enige bouwerk gaan, het hierdie bouery meer gekos as wat aanvanklik gereken is. Die geld het opgeraak, en ‘n plan moes gemaak word. In 1517 kry Pous Leo X toe ‘n blink plan: laat die mense, om vergifnis van sonde en skuld voor God te kry, in rand en sent daarvoor betaal. En laat hulle sommer ook betaal vir hulle geliefdes wat reeds gesterf het (aflaatstelsel). 5. Met die gevolg? Die pragtige St Pieterskerk is voltooi. ‘n Pragtige monument vir God, ‘n pragtige huis vir God, maar ‘n huis waarin God nie gewoon het nie. Want wat in daardie kerk gebeur het, was nie die verkondiging van die verlossing van mense deur die genade van God in Jesus Christus nie, maar die misbruik van mag, die misleiding van mense, in wese die weglei van mense van God af. 6. Martin Luther, wat op daardie stadium professor in die Katolieke teologie was, en ook gereeld gepreek het, het eendag bo in die kerktoring gaan sit en die Romeinebrief begin lees. Want Luther het geworstel met die vraag: “Waar kry ek ‘n genadige God?”. Dit het hom net 17 verse gevat om te besef met watter misleiding die kerk besig was. 7. Wat staan in Romeine 1:17? “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Die sondaar word gered enkel en alleen deur te glo. Die evangelie van Jesus Christus is dat ons sondes alleen vergewe word omdat ons glo. Redding is genade, nie die betaal van aflaat nie. Redding is genade, want die geloof is ‘n genadegawe uit die hand van God. 8. Luther het daar opgestaan, sy 95 stellinge gaan neerskryf, en aan die deur van die kerk van Wittenberg gaan vasspyker. Ek het hierdie week weer daardie 95 stellinge gaan lees. My slotsom? Daardie 95 stellinge het in wese gesê: Ek het die Woord van die Here gevind! Glo, en jy sal gered word! 9. Wat die Roomse Kerk daar gedoen het, broers en susters, was egter nie nuut nie. In ons gelese gedeelte van vanoggend lees ons van feitlik presies dieselfde situasie. 10. Dawid vestig Israel as ‘n sterk ryk, en besluit om ‘n groot en imposante huis vir die Here te bou (die tempel). Sy seun Salomo doen in wese die bouwerk: ‘n gebou met geweldige omvang, met net die beste wat daardie tyd te vinde was in terme van boumateriaal en versierings. En wat maak die volk van God toe met hierdie tempel? 11. Manasse rig ‘n beeld wat die vrou van Baäl simboliseer in die tempel op. En koning Amon wat hom opvolg, voeg nog so ‘n paar afgodsbeelde by. En die volk van die Here bely: dit is die tempel van die Here! Maar wat gebeur intussen? In hierdie gebou woon God nie, maar die afgode. 12. En buite die gebou is niks van God se eise onder sy mense sigbaar nie: hulle verwoes mekaar, hulle buit mekaar uit, hulle dien God en allerhande afgode, hulle laat nie reg aan mekaar geskied nie, en die weduwees en wese en vreemdelinge onder hulle word nie versorg nie, maar word verstoot. Dit gaan oor hulle, en nie oor God nie. Maar niks is verkeerd nie, daar is geen probleem nie, want kyk, daar staan die tempel, die woonplek van God. Daar woon God, dink hulle, so alles is mos reg! 13. In hierdie tyd word Josia dan koning. En dan gebeur iets: Josia vind die Woord van die Here! So ernstig ruk hierdie Woord hom, dat hy sy klere skeur, die afgodsbeelde uit die tempel verwyder, en die volk bring om ‘n nuwe verbond met God te sluit. 14. Ek dink vanoggend geliefdes, dat vir ons uit hierdie twee verhale, die van die tempel en die van die Roomse Kerk van die 16de eeu, baie lesse te leer is. Lesse wat maak dat 31 Oktober 1517 nie maar net ‘n stukkie droë geskiedenis is, of dit ooit kan word nie. 15. Wat leer ons uit hierdie twee verhale van die twee tempels wat ons so pas gehoor het? Eerstens dit: wanneer ander dinge of sake vir die kind van God belangriker word as die Woord van God, het ons God verlaat. In die tyd van Josia was mense se eie plesier en hulle afgode vir hulle belangriker as God. Maar daar was darem ‘n tempel vir God, so hulle het gedink hulle was darem okay. 16. Tweedens: ‘n sogenaamde verhouding met God is niks meer werd as lapwerk of verfwerk waarmee die mens sake toesmeer as dit nie strook met dit wat die Woord van God vra nie. Kom ek sê dit anders: as die mens nie doen wat God se nie, is so ‘n persoon se verhouding met God bloot net dit: net ‘n SOGENAAMDE verhouding. In Josia se tyd en in Luther se tyd was daar hierdie imposante kerke vir God gebou gewees, maar die mense se lewens het die teenoorgestelde getuig. Die mense wat juis in daardie kerke aanbid het. 17. Derdens: innerlike herstel, die ware herstel van die gelowige se verhouding met God, begin net op een plek: by die Woord van God. Daarom dat die Skrif op verskeie plekke oor ditself getuig. Hand 20:32: “Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.” Dit is wat met Josia gebeur het: Ek het die Woord van Here gevind! Dit is wat met Luther gebeur het: Ek het die Woord van die Here gevind! En daarna was niks meer dieselfde nie. 18. En dit is presies, geliefdes, wat elke dag met ons moet gebeur! As ons werklik ons verhouding met die Here telkens weer en weer nuut wil maak en nuut wil hou, kan dit nie op ‘n ander plek as by God se Woord begin nie. Met die besig wees met God se Woord, met die lees van God se Woord, saam met die werking van die Heilige Gees, onder leiding van God se Gees, word ons elkeen nuut gemaak, nuut gemaak deur die Here, kom ons sê, hervorm deur die Here, deur sy Woord en sy Gees. So hoor ons weer van God se beloftes, van sy liefde vir ons, sy genade, sy vergifnis, so word ons telkens verseker dat ons aan hom behoort. Dat Hy ons uitgekies is, dat ons syne is. 19. Kom ek sê dit anders: ware hervorming begin telkens weer waar ons deur die Woord en die Gees Jesus Christus net opnuut ontmoet. En wanneer ‘n mens Jesus Christus ontmoet, en telkens weer ontmoet, breek die lewe werklik vir ‘n mens oop. Want jy word ‘n nuwe mens, ‘n mens wat nooit weer dieselfde kan wees nie. 20. Wanneer laas, my broer en suster, het u en ek, soos Josia en Luther, uitbundig uitgeroep: ek het die Woord van die Here gevind! Hierdie vraag moet ons elkeen maar self antwoord. Maar kom ek sê vir u wat ander van ons sê, wat ander sal antwoord as hulle gevra word of hulle dink ons wat vanoggend hier sit werklik al die Woord van God gevind het? 21. As ons dit wat God in sy Woord van ons vra so uitleef dat dit sigbaar word, sal hulle sê: hierdie mense ken God, hulle ken sy Woord, hulle het sy Woord gevind, want kyk wat doen hulle! Hulle het mekaar onvoorwaardelik lief, hulle hou mekaar vas, hulle tel mekaar op. Hulle gee om vir mekaar. Hulle praat mooi van mekaar. En hulle gee om vir die wêreld en mense wat God hulle gegee het. Want kyk hoe reik hulle uit. Kyk hoe maak hulle die God van die Woord sigbaar waar hulle leef en beweeg! 22. Kan dit van u en van my gesê word? Woon God in hierdie tempel? Wat dink u sien ander en sê ander as hulle van hierdie gemeente praat? Ek glo ‘n mens wens jy kon weet. 23. Ware hervorming begin by die hart. Dit het in Josia se hart begin, maar eers toe hy die Woord ontdek het. Daarom se God vir Josia in vers 19: “Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het…..”. Dit het in Martin Luther se hart begin, maar eers toe hy bo in ‘n kerktoring die Woord ontdek het. In die hart, daar waar God deur sy Woord en Gees indring soos ‘n skerpsnydende swaard. Dit maak soms seer, maar dit maak ons ook vry. Vry van onsself, om God te kan dien. En dit is vreugde. Vreugde omdat ons dan kan uitroep, soos so baie voor ons: Ek het die Woord van die Here gekry!