Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 62 Die wêreld woel en gaan tekere. Mense beleef baie druk. Die lewe is onseker. Baie mense bekommer hulle oor wat die volgende dag gaan inhou. Te veel keer loop dinge nie soos ons gedink het dit moet loop nie. Oor ’n week is dit basaar. Die tafel organiseerders vat stress. Die finansiele voorsitter bid oor die syfers. Het ons dit of dat in plek? Gaan ons begroting maak? Kan ek dan vandag vir jou sê, en vir myself, ek sit daar reg langs jou en luister: Raak rustig. Raak rustig want daar is ‘n lewende God en Hy is by ons. In ons, want so sê oa Joh 14: 17: Die Heilige gees van God bly by julle en in julle. Psalm 62 vertel dit effens anders. Tog syfer dieselfde deur: Moet nie ontseld wees nie. Glo in God. Glo ook in Jesus. In Psalm 62 is daar ‘n drie letter woord wat baie gebruik word. Die woordjie “net”. Vir party mense is die woordjie “net” beperkend. Die woordjie sluit ander opsies uit. Dit sluit mense uit. Dit is eksklusief. Ander kere is dit lekker want dis net ek en jy. Vanoggend sê die woordjie “net”, dat jy van al die plekke kan vergeet waar die wêreld sê jy tot verhaal moet kom ... rus is net by God. “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. (Ps 62:2) ” Die gevolg van so ‘n lewe, ‘n lewe waar jy by God jou rus vind, is ‘n lewe waar jy wegkom van ‘n “as” ingesteldheid. “As ek maar net ...” die lotto kan wen. Of ‘n ander man of vrou het. As ek net ‘n ander werk kan kry. As ek maar net ander bure het. As ek maar net beter gesondheid kon geniet. As ek maar net ... dan sal ek dinge kan laat werk. Dan kan ek dit of dat regkry. Die klem is op die EK. EK wat dinge kan regkry dan as ... iets net eers wil gebeur. Ek wonder of die Here ons nie soms in situasies hou waaruit ons wil wegkom tot ons leer om net in Hom tot rus te kom. ‘n Lewe net in Hom te bou. Om vanuit Hom te leer blom waar ookal ek is. In NZ is ons op na ‘n monument bo op ‘n stywe bult: One tree Hill. Daar is nie meer ‘n boom op die “hill” nie. Net die monument. Dit was die dag ysig daar gewees. Aan die linkerkant wys hulle vir jou die toegegroeide krater van ‘n vulkaan. Teen die monument se klipwerk groei daar plantjies. Niemand versorg hulle nie. Dit het vanself opgekom tussen die groot klipstene uit. Sonder menslike hulp, doen daardie plantjies beter as die in my tuin wat ek versorg. Ek is oortuig God doen dit. Jesus het in Matteus 6 al vertel hoe keurig God vir die plante van die veld en die voels van die hemel sorg. En nog meer so vir ons, Sy kinders. Ek glo dat ons elkeen hier geplant is. Ons is hier met ‘n doel. Dit is vir my ‘n herinnering dat omstandighede, mense, my nie moet keer om te groei en aan te gaan om te lewe nie. Ek moet net doen wat die Here van my vra. Nou Dawid se lewe het nie altyd lekker uit gewerk nie. Sy planne het erg skeef geloop met tye. Of soos hy dit stel in hierdie psalm, ek is ‘n man wat soos ‘n muur wat wil omval, wat reeds omgestoot word (vers 4). Mense het hom van allerhande goed beskuldig. Ander wou hom dood hê. En Dawid? Dawid bly sê: “Net God.” Net by God . 1. By God is daar rusplek. Vertrou God. ‘n Stuk of 6 keer sê Dawid “net op God” of “net God”. As ek so na die deel kyk dan voel dit vir my Dawid kyk terug en Hy sien dat, toe hy net op God vertrou het, dit die tye was wat hy tot rus kon kom. En ja, daar was tye in sy lewe wat hy nie so mooi op God vertrou het nie. Tye wat hy sekere planne probeer weg steek vir God. Of dalk net gedink God sal nie sien nie en nie weet nie. Die kere wat hy homself laat geld het, op homself vertroue het en sy eie kop gevolg het, het dinge erg skeef geloop. Ek dink aan die affere wat hy met Batseba aangevang het. Dit het uitgeloop op moord. Vir die groter deel van sy lewe het hy egter op God vertrou. Dawid was een van die suksesvolste mense van sy tyd. En ten spyte van sy sukses het hy nie op homself vertrou nie, maar op God. Hy het God se raad gevra selfs oor oorlog. Al was hy self ‘n uiters suksesvolle soldaat. Toe hy nog ‘n jong man was, het die mense hom al toegesing: Saul het sy duisende verslaan maar Dawid sy tienduisende, nie? Wat jy moet raaksien, is dat alles nie altyd goed gegaan het met Dawid nie. Daar was baie mense wat Hom wou dood hê. In verse 2 tot 5 lees jy dit raak. Al bely hy dat God sy Rots is, sy vesting waar hy skuil. Voel Dawid soos ‘n muur wat omgestoot is (vers 4). In vers 5 sê hy hulle het hom probeer uitwerk. Hulle leuens was volop. En hulle valsheid was vir hom sleg. Met hulle monde het hulle hom geseën maar in hulle harte het hulle hom vervloek. Klink na iets wat ons almal al beleef het. In hierdie land is ek en jy nie eintlik die geur van die week nie, nê? Kom ek los dit daar en ons hou ons aandag op Dawid. Dawid het nie in God geglo omdat hy hierdie wonderlike omstandighede gehad het nie. Dawid het op God vertrou omdat God se manier die enigste manier is wat hoop bring en rus gee. Nêrens anders, het hy so veilig gevoel, so vas kon staan as net by God. Lees maar verse 2 en 3 en 7 en 8, as ek ‘n paar moet uitlig. Keer op keer bely hy: God is alles vir hom. Selfs in die laaste deel as hy weer skryf oor sy vyande dan gee hy hulle eintlik ‘n stukkie raad. Hy sê die pad wat hulle op is gaan net sleg eindig. Geweld help nie. Rykdom, of in ons geval jou salaris of beleggings of wat ookal mense sou wou vertrou, moenie op dit vertrou nie. Al neem dit toe moet dit nie te na aan jou hart wil hou nie. Maw te belangrik maak nie. Vertrou net op God. . 2. Net. Die woordjie “net”. Net by God vind ek rus (v6) Op sy eie maak die woordjie “net” nie veel sin nie. Maar hier sê dit alles. En na die net kan jy dan maar sê, daarom. Daarom bly ek staande. Daarom vind ek rus. Daarom … • Vers 2 “Net by God vind ek rus …” • Vers 3: “ Net Hy is my rots …” • Vers 6: “Net by God vind ek rus …” • Vers 7: “Net Hy is my rots …” • Vers 8: “God is my redding en my krag …” • Vers 8b: “Hy is my rots …” • Vers 12 : ”Net God het mag … “ • Vers 13: “Mens moet net op God vertrou …” As ek so kyk staan die woord “net” nogal baie uit. Met die woord sluit Dawid alle ander opsies wat mense mag hê uit. God en God alleen. In vers 8 vat Dawid alles saam. “God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.” Met hierdie belydenis vat hy nie net alles saam nie maar hy maak hom reg om te sê: God is ons toevlug. Dit is sy belydenis. Dit is sy geloof. Hy is oortuig hiervan. En hierdie oortuiging, hierdie geloof is gebou op sy pad met God tot hiertoe. Dit is ‘n geloof wat hom net meer en meer op God laat vertrou. Vers 12, 13: “Een ding het ek God hoor sê, nee, twee, dat net God mag het en ‘n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.” 3. Ons is nie ‘n nommer by God nie. Dawid sê vir ons: vertrou op God. Net op God. Moenie jou hoop of vertroue verskuif na iets of anders of jouself nie. Nie eers effentjies nie. Net op God. Vers 13: “en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.” So kort voor hemelvaart en Pinkster, haal ek aan uit Johannes 14. God woon in ons. Besef jy dit? Dink jy daaraan dat jy elke oomblik in God se teenwoordigheid is? God ken jou elke gedagte en elke beweging (Ps 139). Ps 31:8 “U was nie onverskillig teenoor my ellende nie, U het die bedreiging van my lewe raakgesien.” Ook ’n psalm van Dawid. Psalm 40: 6 “U het baie wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons” En dan weer in vers 18 “Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my ...” Laat dit so ‘n bietjie insink. Dit is hoe God by jou is. So naby. Vergeet van ander mense ... dit is hoe God by jou is! Daar is niks in jou lewe wat Hy nie weet of ‘n plan mee het nie. Vanuit die Nuwe Testament wil ek eintlik Psalm 62:13 weerspreek en sê, dankie tog! Dankie tog dat God ons nie hanteer soos ons verdien nie. Want ons verdien nie seën nie. Ons verdien oordeel en ewige dood. Daarvoor het die Here Jesus gekom en vir ons, sonder dat ons dit verdien, genade gegee. En mag ons God se seën geniet sonder dat ons dit verdien. Daarom kan ek terugdraai en God dank dat Hy ons nou hanteer volgens wat ons in Jesus verdien. Kan ons God dank dat Hy ons hanteer as Sy kind en nie as Sy vyand wat ons eers was nie. En ja, God kyk sekerlik ook na jou verhouding met Hom. Na hoe jy met Hom leef. Hoe jy toevlug by God soek, die mate waarin jy Hom volg en skuiling by Hom vind. Die mate waarin Psalm 23 gebeur in jou lewe … jy wat skaap is in God se kudde en weet Hy en Hy alleen sorg vir jou … dit is die mate waarmee God jou hanteer. Geen dwang. Geen druk. Net die uitnodiging en die wonder van Sy genade en liefde. Die uitnodiging om elke oomblik bewus te wees van Sy teenwoordigheid by jou ... in jou! Ek wonder: Is dit hoekom Dawid so omswaai in die laaste vers en dan nie meer met ons, sy lesers praat nie, maar direk met God? Want wie net op God vertrou, weet, jy wil net met God gesels. Jy wil net by Hom bly. Al druk die lewe, knyp dinge seer, bly jy net by die Here! Sê vir die Here: “Here, ons vertrou op U.” Daar is geleentheid om dit nou self vir God te sê.