Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kolossense 1: 21 – 23 Iewers het ek gelees iemand sê hierdie is ‘n opsomming van die evangelie. Hou dit in gedagte asb. Vanoggend is ook ‘n geleentheid waar vier jong mense hulle geloof wil bely. Kan ek jou vra: Is jy gelukkig? Wat maak jou regtig gelukkig? Daar is baie dinge wat ‘n mens seker kan sê. ‘n Nuwe motor. Rykdom. Die nuutste IPhone. Dit is alles goed wat ek al by mense gehoor het. En dan is daar natuurlik God. Dit is mos die regte antwoord. Ek wil vanoggend iets met jou deel. Kom ons noem dit my getuienis. Dalk is dit alreeds joune ook. Dit sal wonderlik wees. Dit is kontra intuïtief. Dit klink soos ‘n weerspreking van alles wat ons geleer is oor grootmens wees maar dit is in praktyk nie ‘n weerspreking nie. En dit is die pad na werklik vry wees en werklik lewe. Wat my regtig diep binne in my, blywend, gelukkig maak, is: • Die besef, dat ek nie aan myself behoort nie maar aan Jesus. Hy het my gered. Hy is my getroue Verlosser. Hy, Jesus, die Christus, het dit gedoen. • Hier uit vloei oomblikke wat ek aanvoel, of net bewus raak, God is hier. God is op hierdie oomblik hier by my. Sulke oomblikke bou my gelukkig wees verder uit. Natuurlik is dit die gevolg van die feit dat ek nie aan myself behoort nie maar aan Jesus. My vrou en kinders sal nie met my baklei oor hulle nie bo aan my lysie van redes is nie. Hulle verstaan dat hierdie twee goed maak my ‘n beter pa, ‘n beter vriend, ‘n beter oupa en ‘n beter mens. Dit vra dat daar drie dinge in plek moes kom: (dalk moet ek by sê, die drie dinge moet ek bewus van bly): • Ek moes by die punt kom waar ek besef, my lewe is vasgedraai, dis nie so oulik en gelukkig soos ek gedink het nie. Ek het teveel droog gemaak, gesondig, ek het teveel goed verkeerd gekry. Ek moes besef, daar is nie hoop vir my solank ek op daardie paadjie bly nie. Onthou asb, ek was nie ongelowig nie. Ek het geglo. Ek het Bybel gelees en gebid. Vir al op moeilike dae. Ek het probeer om God aan my kant te hou. Ek moes besef dat ware geluk my altyd sal ontwyk. Lewe in oorvloed gaan net ander kant my vingerpunte bly. Daardie gevoel dat daar meer aan die lewe is, sal nie stil word nie. Tensy iets drasties verander. • Ek moes deur Jesus Christus gered word. Ek kon en ek kan steeds nie myself red of selfs net ietsie bydra tot my redding nie. Hier is die belangrike een: Ek moes deur Jesus van myself gered word. Elkeen van ons is die rede vir ons eie innerlike ongelukkigheid. Nie soseer ander mense of selfs die duiwel nie. Jesus moet ons red van onsself, en uit die mag van die duiwel en die sonde en ons weer terugsit, nuutgebore, nou as kind van God. Jesus, maak ons tot kinders van God. Deel van God se gesin. Glo my vanoggend. Jy kan dit nie met geld koop nie. Dit is onbekostigbaar. Dit, het alles in my lewe verander. Nou leef ek met hoop. Nou is ek nooit alleen. Nou het ek ‘n hemelse Vader wat uitkyk vir my. Nou is ek nie meer die dom simpel selfs onaangename mens wat ek was nie. Daardie mens is dood. Nou leef ek as kind van God, toegevou in Sy liefde en genade. Nou is ek, ons, lig vir die wêreld, sout vir die aarde. ‘n Koninklike priesterdom. Die wonderlike van dit alles is, God het dit alles in my gedoen. Dit is alles God se werk. Ek het niks gedoen. Ek het geen aandeel nie. Ek het niks om oor te spog nie. • Ek het gepraat van drie dinge. Die derde is ek kan nie ophou dankie sê nie. Ek is dankbaar. So dankbaar dat ek net wil wees waar Jesus is en nes ‘n klein ou seuntjie soos sy pappa wil wees, netso wil ek nou soos ons Hemelse Vader wees. Ek wil liefde wees. Ek wil genade uitdeel. Ek wil God bly maak. ... Ek glo dat dit wat ek nou gesê het, ook jou belydenis is. Dit is ‘n gedeelde belydenis. Met dit in ons agterkop, kom ons lees nou weer Kolossense 1: 19 – 23. 21 Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22 Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23 Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het. Kolossense 1:21-23 Het ek iets uitgelaat in my, ons, getuienis? Vers 21 was my eerste punt. Vers 21 is dit wat ons moet besef. Ons was ver van God af. Ons was nie God se vriend nie, eerder Sy vyand. Vers 22 is Jesus wat ons red en ons nuut maak. Hoe doen Jesus dit? Deur Sy dood aan die kruis in ons plek. En sodoende versoen Hy ons met God. Sodat, daar is ‘n sodat, ‘n doel met dit alles, sodat ons heilig, onberispelik, sonder sonde of vuil, voor God kan leef. En eendag heilig en onberispelik voor God kan verskyn op die oordeelsdag. Vers 23 is die hoe van dankbaarheid. Jy wys jou dankbaarheid deur jou lewe nou te hou soos Jesus dit nou herskep het. Jesus het jou herskep. Nou bly ons so. Ons is heilig. Ons leef soos mense wat heilig gemaak is. Ons leef onberispelik. Daar moet nie ‘n vinger na ons gewys kan word nie. Dit is dinge wat nou vir ons belangrik is. Want, want ons is dankbaar vir ons nuwe vol lewe. En nou staan ons sterk in ons hoop in hierdie Jesus en moet ons seker maak dat allerlei slim praatjies van mense, en verdraaide stories, en afgewaterde evangelie ons nie losruk uit God se hand uit nie. Moet nie dat mense jou geluk steel nie. Moenie dat ander goed, nie eers jyself of jou eie belange, jou geluk afwater nie. Bly by Jesus. Hy gee jou ‘n vreugde wat alle verstand te bowe gaan. Maw wat jy nie met jou verstand kan uitredeneer nie. Jy weet net jy is diep gelukkig en tevrede. Die kuns van werklik gelukkig wees lê daarin om aan Jesus te behoort. Om oorgegee aan Jesus te lewe en Hom lief te hê, liewer as jouself. As jy ongelukkig is in jouself, moet dan asb nie op ander bloei nie, of ander blameer nie, of die regering beskuldig nie, of wie ookal nie. Kyk eerder mooi, aan wie behoort jy? Aan jouself? Kom dan terug na Jesus. Kom anker vas in Jesus. Hy wil vir jou die lewe gee en dit in oorvloed.