Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 146 Die verkiesing is verby. Wat nou? Wat wag? Kan ek ‘n storie vertel. Dit is ‘n ware verhaal. Wyle oom Frans Durand het nog geleef. Dit was net na 12 die nag. Die middernagdiens was sopas verby. Klappers en vuurwerke klap die dorp vol. Gooi kleure en sterre teen die donker hemel. Ons begin die kerkgebou toesluit. Oom Frans roep na my en sê, dat ons moet wag. Daar’s ‘n hond in die kerk. Daar in die moederskamer sit toe hierdie Alsatian. Niemand weet wie sy mense is of waar hulle is nie. Dit is duidelik hy het op sy eie daar aangekom. En daar sit hy in die moederskamer. Doodstil en regop. Ons roep hom toe uit na buite en sluit. Soos ek huis se kant toe loop stap die hond saam en begin toe draf Main straat af ... dit was maw nog voor die palisades op was. Hy het begin draf en was skaars so 5 tree verby my toe skiet iemand iewers weer ‘n string harde klappers en vuurwerke af. Net daar vlieg die hond om en hy hardloop terug kerk toe. Nie na my toe nie. Kerk toe. En hy gaan staan op die kerkstoep. Ek is seker as die deure nog oop was, was hy in die gebou in. Ek dink daardie hond het iets van Psalm 146 verstaan. Daardie hond het my iets geleer. Hy het my geleer dat selfs ‘n dier weet om te gaan skuiling soek by die plek waar God is. By God self. Hy gaan na waar die Here is. Hy het dit: Moet op mense nie vertrou nie. Hulle gaan klappers skiet en lawaai maak en jou probeer bang maak en intimideer. Maar daar gaan niks van kom nie. Vertrou jy net op God. Hier na die verkiesing, is dit wat ons onder die knie moet kry. Mense is feilbaar. Selfs ons eie beste bedoelings val soms stukkend. Daar is tye wat jy net nie vir iemand dit kan doen wat hul nodig het, al wil jy hoe graag. En as jy hierdie magteloosheid, gebrokenheid in jou, verstaan, dan besef jy ook dat mense is nie jou uitkoms nie. Mense is magteloos. God is ons uitkoms. God alleen, is ons enigste hoop. Ons weet nie wat in die digter se lewe gebeur het nie. Dalk het iemand hom in die steek gelaat, of was daar dalk die een of ander ramp, wie weet? Dit gaan ons nie help nie. Wat ons wel sien is: Die gedig is so geskryf dat ons veral hierdie een ding moet raaksien. Ons moet God prys. Sommer die eerste woorde van die lied sê: Prys die Here. Ek wil die Here prys so lank ek lewe. Ek wil die lof van my God besing solank ek daar is. Ek wonder so half of die solank ek daar is, dalk net iets wil sê van die breekbaarheid van ons lewens. Alles kan in ‘n oomblik verander. Wel as daardie oomblik nie sy lewe kos nie, dan wil hy steeds die Here prys. Die laaste woorde van die Psalm is: Prys die Here. Tussen die twee “prys die Here” verse, lê ‘n waarskuwing en ook ‘n stukkie inspirasie. Inspirasie, want as jy jou oë oopmaak dan sien jy wat God alles doen. Jy sien Sy cv. En dit staan sommer baie hoog uit bo hoe al die magtige mense se planne tot niks kom nie. Dit is wat ons wil doen: Ons wil die Here loof. Ons wil ons God loof wat al soveel mooi en positief in ons lewens gegee het. Ons wil ons Hemelse Vader prys vir al die kere wat Hy ons opgetel en deurgedra het en ons krisisse omgedop het in geleenthede in. Ons wil die Here prys en ons moet die Here prys en kom, kom ons prys die Here. Die woord “prys” staan uit. Prys die Here wat so anders is as mense. Prys die Here wat mense raaksien en goed aan hulle doen. En hoe meer die digter vertel van hoe wonderlik is hierdie God en wat Hy alles doen ... hoe sterker word sy oortuigings dat ons God moet prys. Dat almal God moet prys. Dit word so sterk dat hy dit ‘n opdrag maak: Prys die Here! As jy mooi kyk, kyk na vers 6, van vers 6 af is die digter eintlik klaar besig om God te prys. Hy probeer vir ons sê: Kind van God, jy, gelowige, prys die Here ons God maak nie saak wat die koerante en die politici kwyt raak nie. Tsv die nuusgebeure van die dag. Prys die Here is om te bely dat God is groter as dit wat in ons wêreld aan die gebeur is. My eie ervaring is dat as jy begin om God te prys oor die klein dingetjies dan word die goed waaroor jy Hom wil prys net meer en meer. As ek so lees aan die psalm dan is hierdie Here die Een by Wie ek wil wees. ... nie by mense nie maar by die Here my God. Vers 5 is die kern van die deel, die spilpunt van die gedig. 5 Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. Hierdie is nie iets wat vir almal geld nie. Dit waarborg ook nie voorspoed nie. Want anders sou die woordjies “hulp” en “hoop” nie hier gestaan het nie. Dit gaan hier oor mense wat al gebeur die lewe met hulle, al loop hulle deur, trek hulle swaar, net aanhou kies om eerder op God staat te maak as op mense of selfs net op hul eie vermoëns. Die God van Jakob,(vers 5b) ... dit is die digter se manier om God se CV nader te trek. Die God wat nog in elke eeu en elke geslag, Sy mense dra. Die God wat Abraham gelei het en geseën het, en vir Isak en Jakob en die volk uit Egipte en en en. Die God van vandag en more en ewig. Is Hy jou Here en jou God? Want dit is deel van vers 5 se ... “die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God”. Persoonlik. Verhouding. In Psalm 146 gaan dit oor jou ingesteldheid. Jy kan jouself afvra met wie gaan dit goed? Met die wat sy / haar hulp van die Here, sy God / haar God, af ontvang. Ons moenie soos sommige Amerikaanse skrywers hier wil voorspoed versies rondgooi nie. Agter die goed gaan, kyk self, lê ‘n lewe gebuig voor die wil van God. Dit is tog wat dit beteken as Iemand jou Here is. Hy is jou meester. Jou Eienaar. Dawid het by geleentheid gedig (2 Sam 22:30) “met U hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” Dawid was nie besig om teologie te bedryf nie. Hy was besig om te skryf oor hoe dinge werk in sy lewe as die vyande op hom toesak. Vir Dawid was God ‘n werklikheid. Nie ver af nie maar hier besig in sy lewe. Iemand wat God prys leef ook so ... weet ook dat God dinge doen ... dat God hier besig is in ons lewens ... en ek kan maar elke Maandag oggend, al lyk dit hoe blou, jou week se hoë mure pak en die oormag storm loop met my God by my! God is die een met wie jy rekening moet hou. Nie mense nie. Hulle is eintlik magteloos. Hulle maak en breek en maak baie lawaai en more is hulle weg. God is Ewig. Almagtig. Vers 6 gee skop aan vers 5. Dit wys jou iets van God se groot krag en mag. Vers 6 ev, is ‘n paragrafie uit God se CV ... so ‘n klein deeltjie wat op ons van toepassing raak ... Kom ek som dit op: Die Here sien jou raak! Die Here kyk verby die magtiges en sien en gee vir die wat afhanklik van Hom leef. Die Here is die Enigste wat deurbrake kan gee. Iewers gaan die mense op wie jy hoop jou faal. Hulle gaan moet omdraai of magteloos toekyk. Dit is maar hoe mense is. God sal nooit nie. God kan en sal vir Sy kinders daar wees. Die God van Jakob, is ook die God van Dawid en die God van die digter van psalm 146. En Hy is dieselfde God wat in die persoon van Jesus Christus in ons skoene kom staan, ons pad kom loop. En dan in liefde aan die kruis sterf vir ons sondes. Die dood oorwin en vir ons die lewe kom gee. Dit is dieselfde God wat vandag hier is en vir jou en my raaksien en lief het. Bly by Hom. Dien Hom op Sy terme. Volg Hom in Jesus en doen Hom na want Hy weet beter as ek en jy hoe ons ons eie lewens behoort te leef. Leer by die Alsatian in my storie: By God is jy veilig. By God is daar uitkoms al laat die lewe jou ore tuit. Prys jy die Here, jou God!