Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 11: 25 17 – 32 (Vers 25 Ek is die opstanding en die lewe.) Sondag 26 Mei 2024 NAGMAAL Martha het daar gestaan, stukkend. Haar broer is dood. Sy het mense gestuur om Jesus te laat kom om haar broer gesond te maak. Maar Jesus het getalm en dit is nou al die vierde dag vandat sy die boodskap gestuur het, en nou is haar broer oorlede. Vriend en kennis, die een na die ander het na haar gekom en haar ‘n drukkie gegee en gesê: Jou broer sal weer opstaan. En toe kom Jesus daar aan en Hy sê dieselfde. 11:23 “Jou broer sal uit die dood opstaan.” ‘n Mens kan jou indink dat sy haar reaksie uit gesnik het: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Uitgesnik het want die opstanding op die laaste dag kan nog baie ver wees en sy mis haar broer en is stukkend hierbinne. Eendag help haar nou absoluut niks. Waarop Jesus dan vir haar sê: (25) “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” “Ek is.” “Ek is die opstanding en die lewe.” 1. Opstanding. Die opstanding is ‘n persoon. Vat die persoon weg en ons sit met niks. Besef jy dit? Geen Jesus, geen hoop, geen opstanding, geen lewe wat iets beteken, hier en nou. Die nagmaal sê dit ook. Geen Jesus, geen lewe, geen hoop, geen vergifnis. Net mooi niks. Jesus is vir ons die opstanding en die lewe. Die nagmaal is vir ons die waarborg hiervan. Dit is nie ‘n leerstuk oor eendag nie. Dit is ‘n verhouding hier en nou met die bron van lewe. Jesus self is die opstanding. Dit is tog wat Jesus vir Martha sê. Hy, “Ek is” ... is die opstanding en die lewe hier en nou! En toe gee Hy vir haar ‘n praktiese voorsmakie van wat Hy bedoel met hier en nou en wek Lasarus uit die dood uit op. As teken van Sy eie opstanding wat sou kom. As belofte / teken van jou en my opstanding. Paulus skryf in 1 Korinthiers 15: 20 “Maar nou, Jesus is opgewek uit die dood, as eersteling uit die wat gesterf het” En so ‘n paar verse verder: “Maar daar is ‘n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, die wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde ...” Jesus se opstanding is die waarborg van jou en my opstanding uit die dood. Jesus se oorwinning oor sonde, dood en die satan skep die platvorm vir jou en my om te oorwin oor die sonde, dood en Satan. Want ons is deur geloof aan Hom verbind. Romeine 6:5 “Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in Sy opstanding.” Die oordeel is in Jesus se hande. Hy wat gesê het: Ek is die goeie Herder. Ek is die ingang ... is ook Hy wat sal oordeel. Hy weet wie het ingegaan en wie is Sy skape. In Johannes 10 het ons ook gesien hoe God Sy kudde versorg. En deel van hierdie versorg is die opstanding. Sodat hulle / ons ewig by Hom mag wees. Kom ons trek dit nader. In Johannes 17, in Sy groot gebed, bid Jesus “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. ...” En dit is die ewige lewe ... dat ons God mag ken. Die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur God gestuur is. Jesus sê vir Martha, die lewe gebeur in Hom. Hy is die opstanding. En iets daarvan gebeur nou. Nou reeds proe proe ons aan die ewige lewe ... die lewe met God ... ons leef dit nou reeds in klein skeppies. Die Heilige Gees doen dit in ons. So kom ons praat ‘n oomblik oor die lewe hier en nou. 2. Lewe “Ek is ... die opstanding en die lewe.” Kom ek haal drie woordjies uit. Dan staan daar “Ek is die lewe. Meer volledig: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Glo en lewe. Die woordjie glo staan drie keer in die vers. Nogal voorop, heel belangrik, nie waar? Glo in Jesus en lewe! Alles gebeur deur geloof. Ek dink net ons moenie geloof verskraal na ‘n instemming nie. Na ‘n ... ek stem saam: Jesus is die Seun van God en Hy het uit die dood opgestaan nie. Want as jy na Martha se antwoord kyk, noem dit haar belydenis as jy wil, dan is dit nie maar net ‘n instemmende kopknik in Jesus se rigting nie. Martha was doodseker as Jesus daar was sou haar broer nie gesterf het nie. Sy het in Hom geglo. En na Jesus met haar gepraat het was sy netso seker Hy is die Christus. En ja, sy het getwyfel by die graf. Daar het sy toe Jesus sê hulle moet die grafklip wegrol, vir Hom gesê “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Iewers het haar geloof vasgehaak by wat sy kon sien. Maar vir die “Ek is” was dit nie ‘n probleem nie. Lasarus is uitgeroep en het lewend uitgekom, grafdoeke en al. 3. Glo Geloof is om absoluut staat te maak op Jesus. Geloof is om jouself volledig aan Hom toe te vertrou en te glo dat Hy beter as jy weet hoe om jou lewe te leef. Om Hom te gehoorsaam soos Hy die Vader gehoorsaam het. Glo en jy sal lewe! Kyk bietjie na hierdie stoel. Dink U die stoel kan my gewig dra? Glo jy die stoel kan my gewig dra? Jou geloof dat hierdie stoel my gewig kan dra, werk dit? Verskoon al die vrae. Maar as ek nie my volle gewig toe vertrou aan hierdie stoel nie, dan werk jou geloof mos nie eintlik nie? Om net naby Jesus rond te hang verander niks. Jy moet deur Hom ingaan in Sy kraal. Jy moet Hom as Herder volg, Hom alleen naleef en in Sy voetspore volg. Jy moet jou alle hoop op Hom plaas vir die hier en nou EN ... vir die opstanding uit die dood. Jy moet so seker wees van jou opstanding en die ewige lewe dat jy nou reeds die ewige lewe leef. Okay dit klink snaaks, bietjie “weird” ... wat ek bedoel is, daardie heiligheid, met daardie skoongewastheid waarvan Sagaria skryf en Openbaring ook, moet jy nou reeds leef. En nee, ons gaan dit nie heeltemal reg kry nie ... maar as ons elke dag probeer om uit die hart uit Jesus te volg, te gehoorsaam ... soos Hy die Vader gehoorsaam het ... dan is ons besig om te glo. So, omdat Jesus die opstanding en die lewe is, omdat Hy die sonde, die dood en satan oorwin het, kom ons leef uit Sy oorwinning deur geloof en deur nie te sondig nie. Glo dat ... Jesus is ... die goeie Herder. Die ingang. Die brood wat lewe gee. Ja Hy is ... die opstanding en die lewe.