Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 2: 1 - 12 Dit was tydens die Fees van die weke. Ook genoem die Oes fees. Dit was die dag waarop die eerste gerwe van die nuwe oes, na die Here gebring is as offer. Dit was ‘n feestelike geleentheid. 50 dae na die Pasga fees. God stort Sy Gees permanent uit op mense. En die Gees bring die eerste oes van die nuwe bedeling in. Bekerings. ‘n Herlewing. Vandag vier ook ons die werk van die Heilige Gees in ons en om ons. Kan ek maar sê: Vandag is ons deel van die oes wat deur die Gees van God ingebring is. Daardie dag was hulle almal op een plek bymekaar. Al die gelowiges. Die eerstes van Jesus se werk. Hulle was, of heel party van hulle was … eenvoudige mense … uit Galilee uit. ’n Streek wat nie bekend was as ’n bron van geletterdheid nie. Vissermanne. En tog trek hulle los en hulle praat tale wat hulle 10 minute van te vore dalk nooit eers van gehoor het nie. Die Gees het vir hulle hierdie tale gegee om hardop uit te spreek. En die skare sê: Hoe is dit moontlik? (NLV v 7) Hulle sê: “Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. Hoe het dit gekom dat daar ’n skare byeen is? Het die dissipels en ander gelowiges die “herlewingsdiens” geadverteer? ‘n Goeie reklame agent gehad? Nee. Ek glo nie eers hulle het self mooi geweet wat kom nie. Net geweet hulle moet in Jerusalem wag vir die Heilige Gees en dat hulle krag sou ontvang. So daar is nie ’n manier wat hulle sou adverteer nie. Hulle het geen tyd of datum of enigiets gehad om die geleentheid rondom te beplan nie. Moet asb nie in mense vaskyk nie. Sien die Gees van God aan die werk. Hy, die Heilige Gees, Hy bring bekerings en herlewings. Hy laat in vreemde tale praat en vreemde mense in hul eie taal hoor. Hy gee genesing. Hy laat dinge gebeur. Vers 1 tot 3 praat van ’n vreemde verskynsel. ’n Geluid soos van ’n geweldige rukwind. Geen wind net die geluid. En tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme wat op elkeen gaan sit het. Vers 4 “Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat.” En mense vanuit Perse,asook Mediërs en Elamiete, mense vanuit Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10 Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, hulle hoor elkeen in hul groot word taal (2020 vertaling) die evangelie. Hoe is dit moontlik? Of soos vers 8 sê Hoe hoor elkeen van ons hulle praat dan in die taal waarmee ons groot geword het? (2020) Wat ons dalk net mis is, hoe is dit skielik onmoontlik vandag? Of is jy bereid om te glo dit is vandag netso moontlik? Ja? Dan is die druk op ons om te bid vir herlewing op ‘n skaal wat geen twyfel laat, mense verstom laat, regdeur die land. Dis moeilik om te dink want ons dink net aan onsself as maar sondige mense. Ons kan nie insien dat God ook vir ons soos vir Petrus kan neem van zero tot hero. Van verloënaar tot kragtige werker van Christus. En dis nie reg om so oor jouself te dink nie. Dis wat ons was. Nou is ons nuutgemaak. Soos Petrus. Kinders van God. Mense wat vervul is met die Heilige Gees. Ek hoop uit die hart uit ... vir myself en om jou onthalwe ... dat ons van hier af hierdie nuwe identiteit sal leef. Want dis ook waar dat ons die Heilige Gees wat sulke onmoontlikhede moontlik maak ... kan hartseer maak (bedroef). En dit gebeur as ons ongehoorsaam leef. Soos ongelowiges leef wat net kan glo in dit wat hulle kan sien en verklaar. En as ons bly vaskyk in ons eie vermoëns en kragte en middele en nie kan raaksien dat dit God is wat dinge laat gebeur nie. Gaan lees weer die hele hoofstuk. Selfs die hele boek Handelinge. Omkring elke keer as jy raak lees iets wat God gedoen het. Sien raak: God doen dit! Dan sal ons hopelik begin ophou vaskyk in ons eie vermoëns of verklaarbaarhede. En begin glo dat die dieselfde Heilige Gees wat in Elia en Elisa gewerk het, dieselfde Heilige Gees wat permanent kom bly het by mense in Handelinge 2, vandag ook in jou woon en deur jou wil werk vir God. Vir nou: Aanvaar net dit. Dieselfde Heilige Gees. Ook in jou en my. Ek dink een van die groot probleme rondom die werking van die Gees lê in ons gesindheid. Nie die Gees nie. Ons is dalk net die probleem. Hoe min dink baie van ons oor die Gees in ons lewens en oor wat die Gees wil hê. Miskien dink ons, dalk onbewustelik, te selfgerig oor die Heilige Gees. Dink ons dalk die Gees is net daar: • om ons te vertroos • om ons gebede na die Vader te neem (Rom 8). Hy pleit by God vir ons. • om aan ons leiding te gee oor hoe om dinge in ons lewens te hanteer • om ons te verbind aan alles wat die Christus vir ons gedoen het. Die dissipels het anders gedink. Hulle het hulleself prysgegee om vir Jesus te leef. En elkeen wat dit doen: beleef – die Heilige Gees werk met groot krag in en om hulle. Hulle verhouding met die Gees van Christus is baie meer op die voorgrond van hulle lewens. Hulle wil die Gees behaag. Hulle leef vanuit die Gees. Hand 2 se groot oomblik is die dissipels wat Jesus preek. Vers 1 – 13 is die dekor vir die groot gebeure: Petrus vertel die mense dat Jesus die Seun van God is. Dat Jesus gekruisig is en uit die dood uit opgestaan het. Hy is die Messias. Mense kyk vas teen die taalwonder. Hoe elke mens van verskillende lande af in hulle eie moedertaal Petrus en die apostels hoor praat. Die eintlik wonderwerk is nie die taal wonder nie. Die taal wonder, so aangrypend soos dit is, bring niemand tot bekering nie. Eers na die verkondiging kom die skare tot bekering. Bygesê: Hulle kon die preek in elkeen se eie taal hoor. Die gevaar is: Dat ons sal dink alles draai om onsself. Die Heilige Gees is daar om my te lei, my te help, my krag te gee. Terwyl niks of bitter min van ons lewens kom by die eintlike Pinkster uit nie. Die Heilige Gees laat ons Christus leef en Christus verkondig. Dit is wat Hy doen! (Hoofsaak!) In die boek Joël. Wat gebeur as God Sy Gees uitstort oor die mense? Seuns en dogters (v 28b) treë op as profete. Wat doen 'n profeet? Hy sê wat van God afkom. Hy praat oor God. God se dienaars en dienaresse sal as profete optreë ( v18). Netso is dit vir ons om as getuies van die Seun van God op te tree (Hand 1: 8). Om te gaan getuig oor wat God in jou eie lewe doen. Die Voorspraak, die Heilige Gees het gekom, woon in ons, om ons te herinner aan alles wat Jesus geleer en gedoen het. Hy sal ons bekwaam maak om te getuig. Te vertel. Die Gees rig ons op die mense om ons, op die wêreld. En die Gees gee ons die woorde om te gaan sê: Jesus is die Here! En Petrus, hy wat eers nie verstaan het nie word die groot prediker. Prediker waarvan? Nie van wind en vuurtonge en vreemde tale nie maar van die Seun van God wat mens geword het en gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Is Petrus selfgerig in sy preek? Ietsie van 'n twv my. Kyk mooi na die deel: In die middelpunt is nie 'n taalwonder nie. Mense kom nie tot bekering oor die taalwonder en die vuur en wind nie … maar oor die inhoud van die preek: Jesus Christus. Die opgestane Heer. Die effek is aangrypend. 3000 mense kom tot geloof. 3000 mense wat vra: Wat moet ons doen om gered te word. En volgens vers 42 het hulle hul heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltye en die gebede. Dis herlewing! Mense wat hul heelhartig toelê op die boodskap van Christus, die samesyn van gelowiges, gebed en die versorging van mekaar. Mense, nou gelowiges, wat se lewe radikaal anders is. Anders as in wat mense van hulle af gewoond was. Die Heilige Gees skuif voortdurend my gesindheid van myself en my gemak weg … na wat is die beste vir die koninkryk van God. Daarom staan op hierdie gemeente se facebook prentjie: Elke lidmaat ‘n getuie. En ons bedoel, ‘n getuie van Jesus. Elkeen van ons, deur die Gees gedra, ‘n getuie van Jesus.