Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 46: 1 – 13 34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” Matteus 6:34 Dis so pynlik waar. Maar dit is ook heeltemal te negatief want elke nuwe dag bring soveel geleenthede saam met die Here, dra soveel hoop, in die Here, soveel genade deur ons verbondenheid met Christus. Ons moet eintlik ons hande saamvryf in opgewondenheid want ons weet net nie wat die Here met hierdie dag gaan maak nie. Die basaar is oor ses dae, dan kom hemelvaart en pinkster, dis so vol belofte van God se Gees en genade en hierdie grootse liefde wat ons net bly toevou. En ja, die verkiesing einde Mei, ag sommer elke nuwe week het sy uitdagings by jou werk of met jou gesondheid. Dit opsigself maak dit belangrik om te kyk waar jy jou posisioneer. By wie staan jy? Jesaja 46 gaan oor waar jy kyk. Op wie jy hoop. Waar jy jouself posisioneer. Maar oppas, want dit, wat ookal daardie “dit” is, kan maklik jou afgod word. Geld, mag, jou posisie in die maatskappy, aandele markte, die nuutste word gou ryk skema, drank of … is oa ‘n paar van vandag se afgode. Goed waarop mense hulle hoop en vertroue plaas. Die volk het begin glo wat vir hulle vertel is deur die Babiloniers. Hulle is ingetrek deur die groot stad en hoe dinge daar in die groot stad Babilon werk. Hulle het dalk gedink hulle oë het oopgegaan … hulle het gedink Jerusalem is hierdie groot stad en toe hulle Babilon ingedwing is toe besef hulle ons het niks geweet en nog niks gesien nie. Daar is vir hulle gesê Bel en Nebo is die enigste gode wat in tel is. Hulle is die sterkes. Hulle het Jerusalem laat platvee. Dit het vir Israel soos die werklikheid gevoel. Hulle het dan Jerusalem se val beleef. Snaaks hoe die werklikheid en dit wat as ‘n gegewe voorgehou word skielik kan vou. Goed waarop mense hoop en vertrou skielik kan padgee. God spel dit uit. Hy sê: Bel en Nebo sal as buit weg gekarwei word. Bel en Nebo gaan niks anders wees as dooie vrag op moee pakdiere. Party keer voel dit vir my of die Heer by hierdie geleentheid so half kon geglimlag het. Kyk maar na die profeet se boodskap waar hy namens die Here praat. Hy speel so lekker met woorde en begrippe. “Julle gode wat deur julle rondgedra word” en dan weer “Ek het julle gedra”. Wat ek dink die Here regtig laat glimlag is as ons ons nie laat insluk deur al die hype en lawaai van die wereld en die politici nie maar eerder by God bly staan. By God ons veiligheid en hoop soek en vind. Ek is dood eerlik as ek sê dat vandag se lewe het baie uitdagings. Baie negatiewe dinge gebeur. Dan is daar die verkiesing. Daar is strominge op die kerklike toneel. Daar is die ekonomie. Daar is … en ek is seker ‘n mens kan die lysie sommer baie lank maak. En dan is daar God. En skielik is alles anders irrelevant! Die Here doen ‘n baie interessante ding deur Sy profeet. Hy wil vir Sy volk wat ontrou aan Hom was, op ander dinge vertrou het en hulle eie kop gevolg het, ‘n punt tuisbring. Hulle was oorweldig deur die afgode van die Babiloniers. Daar is vir hulle met herhaling vertel dat Bel en Nebo is die gode om te ken. En sekerlik ook dat hulle in ballingskap sit omdat Bel en Nebo so fenomenaal is. En natuurlik het niemand gedink aan hulle sondes nie. Dat God hulle oor hulle sondes in ballingskap gestuur het nie. Of dat dit God is wat die Babiloniers gaan haal het om hulle oor hulle sondes te straf. Nou kom die Here en Hy sê Bel en Nebo is niks. Hulle is vrag vir moee vragdiere. Bel en Nebo is so niks dat hulle rondgedra moet word. En dan kom hierdie pragtige gedagtespel: Die onverstaanbaarheid van afgode. Ek meen, jy betaal iemand om vir jou hierdie afgodsbeeld te maak. Jy gaan om die ding te haal. Jy val voor dit neer en aanbid dit. Dan staan jy op en tel die afgod op jou skouer en jy dra dit huis toe. By die huis besluit jy (of dalk jou vrou) waar jy dit moet neersit. Waar jy dit neersit, daar bly dit. Dit is ‘n dooie ding wat nie kan beweeg, praat of eet nie. Maar jy aanbid dit. Jy plaas al jou hoop in dit. Hier teenoor is God die Almagtige. Wat Hy sê doen Hy. Hy sê vooruit wat Hy gaan doen sodat jy kan weet wanneer dit gebeur dat God dit voorspel het. Hy doen wat Hy wil en niemand keer Hom nie. Vers 3 en vier is dit God wat ons dra. En as jy terugkyk op jou lewe … en mooi kyk, sal jy verbaas wees om te sien waardeur jy alles gekom het. Ek weet van erge finansiele krisisse in sommige huise. Ander waar mense met kanker en ander ernstige siektes getref is. En hulle is nog hier en dit gaan beter. Ek is sekere jy sal in jou eie lewe ‘n paar situasies kan raaksien wat jy gedink het dis ‘n breekpunt die. Ek gaan dit nie maak nie. Wel jy het. Want God het jou gedra. God het stil stil jou deur dit alles gekry. Jesaja 46, so maak ek dit vir myself eenvoudig, vra drie dinge: dat jy terug kyk en raaksien hoe jy tot hier gekom het. Dat dit God is wat jou gedra het. En dat jy vorentoe kyk tot in jou oudag in en besef, dieselfde onveranderlike God dra jou steeds. Eintlik is dit die Here wat sê: Kyk terug in jou lewe. Sien: Ek het jou gedra. Jy het My nie gedra nie. Ek het jou gedra. Sien raak dat die Here vir jou die uitkoms was van jou geboorte af. En dan gee die Here ons die versekering dat Hy ons steeds sal dra tot in ons ouderdom in. Tot in jou grysheid in. Kan ek maar se tot in die ewige lewe in? En natuurlik sluit dit 2024 in. En nee, dit gaan nie altyd goed gaan nie. Hy waarborg nie dat alles maklik en eenvoudig en voor die wind sal gaan nie. Net dat Hy as jy saam met Hom die pad sal stap, dat Hy jou sal dra. God dra ons. Hy hou ons aan die gang. Hy en Hy alleen hou die gemeente aan die gang. Hy en Hy alleen sorg vir ons. Hy gee vir ons die wonderlike voorreg om met Hom te leef. Die kans om met Hom self persoonlik in gesprek te gaan. En elke oomblik is Hy daar, hier. Vul Hy alles met Sy teenwoordigheid. In vers 4 word dit dan weer duidelik gemaak: 4 Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red. Ek wil jou verseker: God is onveranderlik. Hy is Wie Hy is. Hy is altyd liefde. Hy is altyd getrou. Hy is altyd Almagtig. Hy is altyd alomteenwoordig. Daar is nie ‘n oomblik wat God nie is Wie Hy is nie. En juis dit maak dat ons niks of niemand het waarmee ons Hom kan vergelyk nie. Of teen kan meet sodat ons kan sê God is so of Hy is so nie. Daar is geen feilbaarheid nie. Geen afsnypunt aan Sy vermoeens nie. Geen einde aan Sy liefde nie (Rom 8: 32 ev). Daarom moet ek vanoggend ook dit duidelik maak: Die pad na ‘n volle lewe, ‘n lewe van oorvloed, is die pad van luister na die Here. Van vertrou op Hom en Hom alleen dien. Die Here Jesus het gekom om lewe in oorvloed te gee. Hy het ook gesê Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Laat ons nie ons hoop op mense of markte of wat ookal plaas nie. Laat ons hoop in die Here wees. In die Here wat ons gedra het tot hiertoe, en sal dra tot in ons grysheid in. Ons hoop vir die lewe, vir ‘n wonderwerk rondom die basaar inkomste, vir die voortbestaan van hierdie gemeente in hierdie tyd waar mense afvallig van die Here raak, ons hoop is in die Here.