Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 21: 15 – 19 Verlede Sondag het ons met die vraag gesit: Here, hoe nou? Hoe nou verder? Vanoggend is die vraag: Is dit hoe alles eindig? Met 'n ete op die strand? Gaan die dissipels finaal terug na hul ou lewens … terug na die see en die nette? En wat van ons? Hier in 2024, wat moet gebeur tussen vandag en die wederkoms? Ek is in my eie lewe baie, geweldig, opgetrek met hierdie deel. Dit gryp my aan hoe Jesus vir Petrus hier heel maak. Ek het agtergekom ek lees graag vers 15 tot 17. Die deel waar Jesus drie keer vra: Het jy my lief? Op verskillende maniere vra: Het jy My lief? Kan ek jou sê wat ek mis gekyk het? Ek sal nou nou sê. Dit lê in die deel na vers 18. Ons vra: Here, wat nou? En ons vra: Here, moet ons net wag? Aangaan met ons lewens tot U weerkom? As ons die vraag nie antwoord nie dan word ons sterrekykers (Betlehem) net hemelkykers (hemelvaart). En as sulks het ons geen nut vir die koninkryk nie. Dan is ons soos die muntstukke wat die dienskneg in die grond begrawe het. Dit het nie rente gelewer nie. Daar is nie mee gewoeker nie. Daar's net veilig gespeel. Begrawe en aangegaan asof niks aan ons toevertrou is nie. Is dit okay om na ons bekering … na die Heilige gees in ons kom woon het … terug te gaan na ons ou lewens? Ons ou manier van doen en wees? Hoe antwoord Jesus die vraag? Hy wys vir hulle dat Hy lewend is. Dat Hy is die man wat aan die kruis dood is. Hy lewe. Hy is hulle Here – die opgestane uit die dood. Hy doen dit deur met herhaling aan hulle te verskyn en saam met hulle te eet en hulle vrese stuk vir stuk te oorwin. Dan vat Hy Petrus een kant en Hy vertel vir Petrus dat hy wat Petrus is gaan self lei en sterf tot eer van God. Dit is interessant, ek haal aan “Dit het Jesus gesê en aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik (vers 19). Ons verheerlik God ook in ons dood. In ons sterwe. En dan sê Jesus die twee klein woordjies wat ek gemis het. Wat ook die antwoord op ons vrae is. “Volg My!” Jesus het vir hulle gesê: Soos die Vader My gestuur het stuur ek julle ook (20:21). Volg My in My gestuur wees deur die Vader. Kom doen My na. Hy herinner hulle en ons vandag, ons is gestuurdes. Hulle, ons ook, is geskenke van God aan hierdie wêreld. Ons het betekenis … 'n opdrag … 'n kans om 'n verskil te maak. Die Here moes net eers Petrus se kop swaai. Die Here moes Petrus se kop swaai weg van die verlede – na die toekoms – en so Hom fokus op die interim. Die “terwyl ons wag”. Petrus wat nog skaam is omdat Hy die Here verloën het. En al wat die Here wil weet is: Petrus het jy my lief? En elke keer as Petrus antwoord dan sê Hy net: Laat my lammers wei. Pas my skape op. Volg my. In kort. Petrus, tel jou roeping op. Raak besig met jou roeping. Hoe sou hy dit regkry? Hy het dan reeds een groot toets gedop? Voor 'n diensmeisie. Dis waar ons moet onthou ons het nie alleen agtergebly nie. Johannes 14 se belofte is gestand gedoen: Die Heilige Gees het gekom en in ons kom woon. En Petrus het voor ‘n groot skare onverskrokke die evangelie verkondig. Ons moet onthou ons is nie alleen nie. Ons moet onthou die wingerdstok en die lote. Dat die Heilige Gees vir ons sal voed met die sap wat ook ons sal laat vrug dra. Die probleem is net: Ons dink … of moet ek sê … ons leef asof Jesus ons in die steek gelaat het. Asof die wingerdstok hemel toe geneem is en die lote agtergelos is om uit te droog en dor te word. Om te probeer oorleef so goed ons kan. Ons leef asof Jesus afstand gedoen het van hierdie wêreld en van ons. En dit is nie waar nie. Onthou jy nog hoe het Jesus die dissipels wat gaan visvang het gaan soek? Op die strand gestaan en na hulle geroep het en toe vir hulle ‘n wonderwerk gegee het? Die net vol vis. 153 visse. Op hoeveel maniere en kere het Jesus al vir jou en my weer nader getrek? Kom soek? Of, soos met die Emmaus gangers langs ons kom stap het. Ons moet onthou, ons roeping is om God hier in ons gemeenskap te verteenwoordig. Ons is Sy verteenwoordigers hier op aarde. Verteenwoordigers met magte en met krag. Ons sou krag ontvang … dit het gebeur op Pinksterdag … en ons kan nou getuig … kragtig getuig. Ons kan nou ons nuwe lewens leef ... lewens wat aandag trek ... anders is ... geheiligd, skoon gewas deur Jesus se bloed ... en so mense na God toe trek. Volg My! Sê Jesus. Jesus het vir die mense gewys hoe is God die Vader. Hoe om heilig voor God te lewe. Hoe om in afhanklikheid van die Vader te lewe. Nou is dit ons beurt. So is dit vir ons om die kleure van God se koninkryk – nou ook ons koninkryk – met trots te dra. En die kleure is liefde. Om soos Jesus God lief te hê en so ook mekaar lief te hê in onselfsugtige diens. Om te vergewe en mense met mekaar te versoen. Om vredemakers te wees. Mense wat treur oor ongeregtigheid. Om meer te wees as wat ons gister was. Om alles te wees wat die Heilige Gees ons wil laat wees. Nie meer in die grond weggesteekte talente / muntstukke nie, maar koninklike beleggings wat rente dra. Weet u wat is vir my kosbaar in Johannes 21? En ook in God se koninkryk? • Jy vra nie: “Here, en wat van hom?” van daardie een of daardie een nie. Jy fokus op jou lewe met God en jy is getrou in wat God van jou vra. Omdat jy Hom lief het. • Hier word nie gehammer op jou foute en sonde nie? • Hier word nie gevra oor jou verlede nie en • of jy die Here herken of orals erken het dat jy Hom ken nie. Hier word net gevra of jy Hom liefhet. Het jy Jesus lief? En die vraag word elke dag gevra --- oor en oor – nie net 3x nie maar selfs 70 x 7 keer. Elke keer as jy seerkry --- of 'n keuse moet maak --- of besluit of jy iets oorvertel of nie --- of in hoe jy kies om te wees en te reageer op mense --- in alles word eintlik net een ding gevra: Het jy Jesus lief? En as jy antwoord: Ja, Here. Ek het U lief. En selfs:Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Dan word ons keer op keer herinner: Volg My! Het jy die Here lief? Amen