Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 21: 1 - 17 Here, wat nou? Ek het sopas die kern van hierdie gedeelte op die tafel gesit? Dalk is dit die vraag waarmee Petrus moes gesit het voor hy die aand besluit het om te gaan visvang. Wat nou? En die ander ook. Die drama van die paasnaweek, Jesus se dood en opstanding en al die emosies wat hulle deur is, dan bo dan in ‘n donker diepte van wanhoop. Dan weer die hoogtes, die opgestane Jesus kom staan tussen hulle. Twee keer verskyn die Opgestane Jesus aan hulle. En nou is daar hierdie gat. Leemte. Here, wat nou volgende? Drie jaar saam met die Here. Eindig dit hier? Of hoe moet ons nou vorentoe gaan? Party mense noem dit ‘n kruispad oomblik. Ek persoonlik wonder of na al die adrenalien en skokke en emosies, hulle nie in hierdie leemte was, soos ‘n dooie kol, jy sien niks om mee aan te gaan nie, jy voel na niks. Jy is maar net. Dalk val jy terug op wat jy ken? Vir Petrus was dit visvang. Van hier waar ons sit, kan ‘n mens maklik sê: Petrus, jy moes die Here gevra het. Jy moes gevra het, Here, wat nou? Wat nou volgende? Die werklikheid is die meeste van ons doen dit waarskynlik self nie. Ons is stadig om by daardie gebedjie uit te kom. Kyk wat doen die Here. Kyk hoe Hy hulle gaan haal. Op so ‘n manier haal dat hulle sekerheid in Hom toeneem. Teveel meet ons sukses, of net God se goedgesindheid aan hoe vol ons nette is. God se goedgesindheid is al te sien voor die wonderwerk. Jy sien dit as Jesus op die strand staan en na hulle roep. Staan ‘n oomblik stil. Waar is Jesus? Dit is kort na Sy opstanding en sy tyd hier op aarde, tyd tot by Sy hemelvaart is min. Sekerlik is daar baie verskynings wat Hy moet maak? Of soos baie mense sal sê, God is besig moet Hom nie pla met onnodige goed nie. Hy kom staan op die oomblik van opgee daar waar hulle hom nodig het en Hy gee hulle die uitkoms. Ja, die baie vis aan die regterkant van die boot is groot! Maar as jy by dit stop, mis jy iets groots oor God. So, moet asseblief nie vaskyk in die nette wat so tot breekpunt vol raak nie. Ja, dit is ‘n wonderwerk. Sien raak: Jesus is daar. Sien raak: daar is reeds gaar vis op die kole en ‘n brood daarby. Ons verstaan regtig nog nie die diepte van God se omgee nie. God se omgee het ‘n naam, en dit is liefde. Liefde, nie net in woorde nie, maar veral in wat God doen. ‘n Liefde wat na ons elkeen vloei soos ons deur Jesus vaster in God vas verbind word. As jy kyk na die deel kort vooraf, dan duik een woordjie baie op en daardie woordjie is die woord glo. Ek hoop jy verstaan glo is iets wat aanhou gebeur. Wat oor en oor jou lewe inkleur. As ek dit op ‘n vreemde manier mag sê: Glo is om te verdiep in jou verhouding met Jesus. Paulus sal sê om te leef uit jou verbondenheid aan Jesus. Glo is ook nie iets wat jy kan aan en afskakel soos jy voel nou het ek dit nodig nie. “Glo in Jesus” en om Jesus te glo, op Sy woord te neem, is wie ons is. Vra jouself af: As die dissipels daardie oggend nie geglo het wat Jesus vir hulle sê nie, hoe vol, of hoe leeg sou hulle nette gebly het? Miskien moet ek sommer ook vra: Verdien hulle die wonderwerk? Voor jy die vraag antwoord, is dit nie die manne wat Hom in die steek gelaat het in Getsemane nie? En by die verhoor verloën het nie? En Thomas wat nie wou glo Jesus is wel lewend nie? En ... En tog, Jesus kom staan op die strand en lei hulle sagkens dieper in Hom in. En nee, Jesus self het nie die vol nette nodig gehad nie. Hy het reeds vis op die vuur gehad en brood daarby. Kom ons kyk verder. Hulle is op die water. Die heel nag niks gevang nie. Ek kan my indink dat hulle moedeloos voel. Moeg is. En hulle poging om die naweek se emosies en gebeure te ontvlug, help ook nou net mooi niks. Die heel nag op die waters met die nette. Die dag begin al breek. Die nette is leeg. Ook dit het op niks uitgeloop. Dalk het hulle fokus verloor. Dalk hul self vas geredeneer met Jesus se opstanding. Dis mos nie menslik moontlik nie? Of is dit? En Lasarus? En die dogtertjie van Jairus. En al die wonderwerke? Here, wat nou? Hulle was so ongeveer ‘n 100 meter van die strand af. Hulle het Jesus nie herken nie, al was dit al lig. Dalk Hom nie daar verwag nie. Ek weet ek het al mense misgekyk as ek hulle raakloop op plekke war ek hulle nie verwag het nie. Jesus vra: “Mense, het julle iets nie gevang om te eet nie? Die 2020 Vertaling, ‘n meer letterlike vertaling as die 1983 een: “My kinders, julle het seker niks om te eet nie? Direk vanuit die Grieks: Kinders, het julle nie enige vis nie? Nee. Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry. Na ‘n lang onsuksesvolle nag, gooi jy die net aan die anderkant van die boot uit soos die man wat jy nie herken op die strand sê. Of doen jy dit nie? Hulle het die net uitgegooi en vanweë die klomp vis kon hulle dit nie weer intrek nie. Dit is waar Johannes besef: Dit is Jesus. En impulsiewe Petrus, pluk sy hemp aan en spring oor die kant en haas Hom na Jesus toe. Dit gryp my aan want soveel mense as hulle droog gemaak het, sonde gedoen het, probeer om God te vermy. Duidelik het Petrus se liefde vir Jesus hom deurgedra. Hy is so vinnig hy kan na Jesus toe. Nie een van die op die boot het vir Jesus gevra “Wie is U nie?”. Johannes sê hulle het geweet dat dit die Here is. “Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.” Ek gee nie om waar jy vanoggend in jou lewe is nie, of hoe erg jy voel dat God vêr is of van jou vergeet het, of te besig is nie. Of selfs dat jy nie verdien dat God na jou luister nie. Jesus sien jou raak. Jesus is nie vêr nie. Hy woon in jou. Hy beweeg saam met jou. Hy vind maniere om jou aandag te trek en jou terug na Hom toe te laat draai. Sodat jy saam met Hom, in Hom, werklik mag lewe. Nou reeds en vir ewig. Leer om verby jou realiteite te kyk en te kyk waar Jesus is. Want dit is waar jy wil wees: By Jesus. Sukses word nie gemeet aan hoe vol jou nette is nie. ‘n Sukses volle lewe is hoe vol Jesus in jou is. Beter gestel, Hoe afhanklik en oorgegee jy aan Jesus leef. Dan is jy dankbaar self al is jou nette leeg, want daar is vis en brood by Jesus. Maw hoop, liefde en genade. En jy is net so dankbaar as jou nette oorlopens toe vol is. Want dis ook vol hoop, liefde en genade. Miskien moes die dissipels voor hulle gaan visvang het, eerder gevra het: Here, na alles, wat nou? Kom ons vra dit. Here, wat nou?