Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
JOHANNES 12: 9 – 19 Wat is die een hoof ding wat hierdie deel vir ons vandag wil sê? Jesus is die Koning. Hy verdien ons lof en bewondering en gehoorsaamheid. Die hoofstuk net voor hierdie een sê vir ons Jesus is meer as net “’n” koning. Hierdie Koning, Jesus, maak siekes gesond, laat blindes sien, maak storms stil, loop op water en het water in wyn verander. Hierdie Koning, Jesus het Lasarus na hy al vier dae in ‘n grot-graf was, lewend gemaak. En nou wil die Joodse Raad Hom dood hê. En omdat die mense nie uitgepraat kon raak oor Lasarus se weer lewend word, het hulle besluit Lasarus moet ook dood. Aangename mense nê. Jammer vir die sarkasme. Godsdienstige leiers wat so dink moet ons bang maak vir ons onsself en waartoe ons instaat is. Die rede vir hulle wrewel teen Jesus, of dat hulle Jesus so gehaat het, was dat Jesus nie in hulle prentjie ingepas het nie. Jesus het nie opgetree en gedoen soos hulle daarvan hou nie. En toe mis hulle die Een wat hulle al eeue op gewag het. Toe mis hulle DIE Koning. Is dit nie vandag steeds ‘n probleem nie? Jesus pas nie in mense se prentjie van Hom in nie. Mense hou van liewe Jesus, maar nie van die Jesus wat jou vra om jouself te verloën nie en selfs jou vyande lief te hê. En ja, mense hou van ‘n skouspel, van die dramatiese. Mense hou van ‘n Jesus wat wonderwerke doen. Jesus wat voor ‘n grafkamer staan en uitroep: “Lasarus, kom uit!' Dit trek aandag. Dit laat mense opgewonde praat. Mense hou nie van hul held aan ‘n kruis nie. In ons geval, ‘n Verlosser wat gekruisig word nie. Wat nederig is. Wat die ander wang draai. Wat vyande vergewe. Wat radikaal anders optree as hulle. Mense soek ‘n here wat by hulle sal aanpas en nie anders om nie. En dit maak die Koning deel soveel te meer belangrik vanoggend. Maak dit persoonlik. Is Jesus werklik jou Koning? Of is dit soos deesdae se regerings. Dis nie jou regering nie. Jy stel nie regtig belang om te doen soos hulle wil hê nie. Is Jesus regtig ons Koning? Gehoorsaam ek Hom? Leef ek soos ons Koning dit wil hê of volg ek Jesus om die verkeerde redes? Terug by die skare wat deur die wonderwerk getrek is. Ander weer het gehoor en hulle het, toe hulle hoor Jesus is oppad, het hulle uit Jerusalem uit gestroom ... met palmtakke in die hand ... om Jesus te gaan ontmoet. Hulle het Hom toe geroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” Asook “Die Koning van Israel!” Ons weet iets wat hulle nie geweet het op daardie oggend nie. Ons weet dat die kruis gewag het op hierdie Koning. Palm Sondag maak ‘n klomp vrae los. Die belangrikste is sekerlik: Wie is Jesus? Volgens Matteus wou die mense van Jerusalem weet: Wie is hierdie man? ‘n Profeet? In die begin van die Johannes evangelie vertel Johannes vir ons Wie hierdie Jesus is. God se Seun. God self. Skepper, deur Hom het alles tot stand gekom. Die Lig wat na die wêreld toe moes kom. En dan begin die misverstand: Die kerkleiers stuur mense na Johannes die Doper toe om te vra: Wie is jy? En Johannes sê duidelik: Ek is nie die Christus nie. Jesus vra vir die dissipels in Matteus 16: Wie sê die mense is die Seun van die mens? En dan meer direk: Wie sê julle is Ek? Vanoggend begin ons die laaste ses dae van Jesus se aardse lewe saam stap. Elke aand gaan ons stilstaan by iets wat op daardie dag soveel jare gelede gebeur het. Vanoggend staan ons stil by Jesus se intog en daarom moet ek net vra: Wie sê jy is Jesus? Ons is hier. Die gebou is vol palmtakke. Ons glo Jesus is hier en ook ons sing: Jesus is ons koning. Ook ons vier ons God se koningskap oor ons lewens. Ek wonder soms of ons bid en sing oor God as koning van ons lewens. Maar as dit by elke dag se dinge kom ... dan leef ons iets heel anders. Ons sê in ons gebede God is ons koning. Ons sing dit in liedere. Maar hoe vind dit opslag in ons lewens? Trouens, ons, ek en jy, het nog nooit 'n mens as koning oor ons gehad nie. Wat weet ons! Die gewone mense het verlang na die Messias se koms. En die wonderwerke wat Jesus gedoen het ... veral toe Hy Lasarus weer lewend gemaak het ... dit het hulle laat wonder of Hy nie dalk die Messias is nie. Daarom gee die mense Hom 'n koning se verwelkoming. Hulle sien die Messias in Hom. En Jesus aanvaar dit so. Hy voltooi die prentjie deur op 'n donkie die stad binne te ry. Volgens Matteus het die mense in die stad gevra: “Wie is hierdie man?” En die skare het geantwoord gesê dis die profeet Jesus van Nasaret.(Matt 21) Johannes vertel dat die dissipels dit eers nie verstaan het nie. Maar na Hy verheerlik is gedink het aan wat in Sagaria 9:9 staan. Vanoggend kyk ons ook terug en ons vra na ons eie verstaan. Vir my persoonlik is dit die begin van God se herstel van Sy koningskap oor Israel. As ek hier sing en bid van God as koning oor my lewe, dan sê ek: Hy, God drie-Enig, is alleen Koning oor my, oor ons lewens. En ek hoop dat jy saam met my verstaan wat dit beteken: Hy alleen het seggenskap oor my lewe. Hy alleen het besluitreg oor wat met my gebeur. Ek gee God daardie reg. Ons sê vir mekaar: Ek het my lewe vir Jesus gegee. Ons praat dan van die wedergeboorte van Johannes 3. Ons is nou onder nuwe bestuur. En die nuwe Bestuurder, ons Koning Jesus, die Christus, die Seun van die Lewende God, ... Hy alleen het die reg om besluite te neem wat ons lewens raak. Besluite ook oor hoe ons is en oor hoe ons mense gaan hanteer en oor hoe ons gesindheid gaan wees teenoor hulle wat kies om as vyande teenoor ons te kom staan. Dallas Willard het dit mooi gesê: Hy sê ‘n koninkryk is waar dinge gedoen word en presies soos die koning dit wil hê. Die koning se woord is wet. Wat die koning wil hê gebeur presies soos die koning sê. Ons wil God as koning hê. Is ons bereid om uit te staan en anders te wees? Israel het hulle idee gehad van wat God moet kom doen. Is ons bereid om anders te wees ... en te vra wat wil God doen? Om te leef wat Jesus geleef het! Liefde. Vrede. God wil vrede gee. God wil vyandskap vernietig. Oorloe stop. Oorlogstuig moet tot niet en mense moet vry wees. Jesus is nie ‘n arrogante koning nie. Jesus is nederig, Hy dien, Hy gee Sy lewe. Hy offer op twv Sy onderdane. As Jesus ons Koning is, moet ons nie ook Sy waardes en Sy wil lewe nie? Wat ek van jou vanoggend kom vra is: Is jy verbind tot hierdie soort Koning? Is jy verbind tot 'n Messias wat vrede bring en gee? 'n Messias wat ly en deur mense verag is (Jes 53) en wat nie van die kruis weggeskram het nie maar God tot in die dood gehoorsaam het (Joh 12: 27 ev geimpliseerd). En so vir ons 'n voorbeeld kom stel. Ja? Maak dit dan 'n punt in elke dag om Hom te ken. Moenie ingetrek word deur skouspelagtige praatjies oor wonderwerke ensomeer nie. Leer jy Hom ken. Ken Hom persoonlik. Nie vir wat Hy doen nie maar vir Wie Hy regtig is. En gee elke dag die volle seggenskap oor jou lewe aan Hom. Want Hy is ons Koning!! En prys Hom as Koning en Verlosser, as Seun van God.