Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Nagmaalsdiens 25 Februarie 2024 Lees 1 Korinthiers 11 27 Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. Ons kom vanoggend na Hom wat in ons plek Sy lewe as offer aan God gegee het. Daar is geleentheid vir selfondersoek en belydenis. Stilgebed Lied 266 Ons Vader Votum Seëngroet Aanbidding: Lied 168: 1, 2, 3. Heilige Jesus Lied 470: 1, 4. U Here is ons Koning Wat verwag jy van die nagmaal vandag? Wat hoop jy gaan in en met jou gebeur? Ek kan vir ons al die betekenisse van die nagmaal hier uitspel. Ek kan sê die nagmaal vertel vir ons wat Jesus vir ons gedoen het. Dit is 'n gedagtenis maal waartydens ons dink aan Jesus se dood en opstanding; dit is vir ons ʼn waarborg van ons verlossing, hier en nou; dis 'n fees wat ons opnuut verbind aan Jesus en aan die Heilige Gees en aan mekaar. Die nagmaal is 'n vreugdefees ... ons vier ons verlossing en nuwe lewe. En ja, dit is ook 'n toewydingsfees ... ons wy ons self opnuut toe aan die Here. Soos die nagmaalsformulier dit mooi stel: In die nagmaal word ons gekonfronteer met die vrae: Waarop sit jy jou hart? Waar lê jou hoogste prioriteite en lojaliteite? Wie roep jy aan in jou oomblikke van nood? Op wie vertrou jy? Jy kan op die mees ongelooflikste plekke wees en die diepere betekenis totaal mis. Jy kan die kosbaarste oomblikke deel en God self ... mis. Die nagmaal is so ‘n oomblik. Dit kan vir jou net brood en wyn wees vandag. Of dit kan een van die mees aangrypendste oomblikke van jou lewe wees. Jy kan so in die Heilige Gees se beheer gegryp word en oorweldig wees met verwondering ... (stilte) ... verwonderd ook dat God tot hierdie uiterste toe gegaan het om jou Syne te maak. God het jou so lief dat Hy in jou plek sterf. Hoor dit weer: Al was jy die enigste mens op aarde sou Jesus dit steeds vir jou gedoen het. Dit is vir jou!! Die dieper van die nagmaal, dit wat die Gees vanoggend hier wil doen, is waaroor dit gaan. Mag dit vanoggend so vir ons wees. Bid dat dit so mag wees. Gebruik die stilte hiervoor: Ingestel op God. Stilgebed Skriflesing: 1 KOR 11: 17 – 34 (23-26) Die nagmaal is 'n gelaaide gebeure. Dis 'n gebeure waarin God direk met jou en my wil besig raak. Dit is die oomblik vir wonderwerke en onverklaarbare vernuwing in ons. God wil jou aandag skerp gefokus op Hom hê. God wil opnuut insny in jou lewe in en jou hoop gee ... en jou vorm ... en ons terug trek in Hom in. Dis vir my 'n bewus word van met Wie het ons elke dag te doen ... ja ons, ons wat so kragloos lewe asof God nie 'n duit omgee of ons survive of nie. Die Heilige Gees wil jou terugvoer in Jesus se lyding in. Hy wil jou vat na die verskrikking van die geseling – daar waar die stukkies been in die kats Sy rug aan flarde geruk het --- die intense pyn --- die vernedering deur die strate gepak vol mense oppad na die plek van kruisiging. En die hel van die kruis – ek het nie 'n ander woord om Sy lyding en pyn en die wreedheid van die kruis te beskryf nie. Ons word teruggevat na Jesus se woorde “Gebruik dit tot My gedagtenis.” In die nagmaal word ons herinner ... dis vir jou! Die straf op jou sondes is volledig gedra! Jou vonnis ... dis volbring. Daars nou vrede tussen jou en God. 1. Oordeelsbeker: drink dit! Die Ou Testament praat van die beker van oordeel wat gedrink moes word – 'n skrikwekkende beker van oordeel. Esegiel 23: 33 – 34 “Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry; die beker wat jou suster Samaria moes drink, is 'n beker vol angs en skrik. Jy sal hom leeg drink, alles opdrink.” Jer 25: 28 “Wanneer hulle weier om die beker uit jou hand te vat om te drink, moet jy vir hulle sê: so sê die Almagtige: Drink sal julle drink!” Die genade vat nie God se geregtigheid weg nie. God spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34: 7b) Iemand gaan betaal vir jou en my onverskilligheid, eiewilligheid en ander sondes. En as dit nie jy is nie ... Wie se lyding maak jy daagliks erger? Vandag mag jy ervaar – daardie oordeelsbeker – al is dit hoe geregverdigd, al skree al die getuies jy moet dit drink, jy verdien dit ... jy sal dit drink. Wel, aan die nagmaalstafel mag jy die goeie nuus hoor en beleef: jy mag die oordeelsbeker laat verby gaan – jy hoef dit nie te drink nie. Jesus het dit reeds namens jou gedoen. 2. Die genade: Dit is vir jou! Mag ek dit weer sê: Jy mag die oordeelsbeker laat verby gaan – jy hoef dit nie te drink nie. Jesus het dit reeds namens jou gedoen. (Laat dit insink.) Jy hoef dit nie self te drink nie. Jesus het dit vir jou gedrink. Jy is vry. Daar is nou vrede tussen jou en God (Romeine 5: 1, 2). As ek dit my eie maak, en uit dankbaarheid my lewe gee aan Jesus my Verlosser en ek maak die keuse om Hom te volg. Dan sal ek die slaggat vermy wat die vroeë kerk skynbaar in vasgeval het op ‘n stadium. Iewers het hulle nie die konneksie getrek tussen geestelik en alledaags nie. Iewers het hulle kerk en lewe geskei. Het hulle nie orals hulle verlossing geleef nie. En die ergste is, is dat dit juis rondom die gesamentlike maaltye gebeur het. Rondom die nagmaal. Ons het in die laaste weke gehoor ons behoort aan die Here. Ons is duurgekoop. Ons is God se eiendom. Die gemeente in Korinthe van ongeveer 55+ nC het dit vergeet. Paulus vat hulle aan. Hy sê dis nie hoe dit werk nie. Jy leef nie net vir jouself en vir jou eie nie. Jy gee om vir ander. Jy dra die eenheid van Jesus se liggaam, van Sy gemeente en kerk, op die hart. Wat die ergste is, is dat hulle by hulle nagmaalsvieringe, as hulle saam eet en kuier, hulself vergryp aan kos en drank terwyl sommiges niks het. Paulus het gevoel hulle het nie eerbied vir die gemeente van God nie. Iewers het hulle vergeet oor wie dit eintlik gaan en dat hulle almal uit genade alleen gered is. 3. Christus alleen. As daar iets is wat ons vandag nog graag vir mekaar sê dan is dit genade alleen. Dit is net genade dat God ons gered het. Ons verdien dit nie. Die nagmaal sê dit ook. Die Hervorming het dit uitgedruk in 5 solas. Genade alleen. Christus alleen. Geloof alleen. Om net enkeles te noem. Paulus self skryf in hierdie deel dat dit die gemeente van die Here is. God se gemeente. Verlede Sondag het ons gehoor dat ons elkeen afsonderlik ook aan die Here behoort. Ons is Sy eiendom. Trek dit nou wyer oop: Hierdie is God se gemeente. Nie ons s'n nie. God s'n. Al die tekens aan die nagmaalstafel, die brood die wyn, sê tog duidelik ... dit het die Seun van God Sy lewe gekos. Hy het dit gedoen omdat Hy oor ons begaan was. Ek en jy ... is God s’n. Sien Jesus se voorbeeld. Volg Hom. Volg Sy voorbeeld. Die instellingswoorde wat Paulus ons gee is mooi omraam deur die gemeente in Korinthe se vergrype. Dit herinner mens skerp: jou lewe moet nie 'n vergryp wees aan God se genade nie. Jy moenie ligtelik omgaan met die nuwe lewe wat Jesus aan die kruis vir jou verdien het nie. Paulus reken dis hoekom dit so sleg met die mense in daardie gemeente gegaan het. Hulle het hulle respek vir die heiligheid van wat God in die nagmaal doen, verloor. Ons wil nie so wees nie. Ek sê baie dat daar altyd in die Bybel ‘n handjievol is wat getrou bly en God lief het. Kom ons wees deel van daardie handjievol. Ons is Jesus se liggaam vandag. Ons behoort aan Hom. En vanoggend spesifiek, maak jou oop vir die Gees van God om deur die brood en wyn jou lewe te kan verdiep of selfs vernuwe. Wat ookal die Gees nodig ag. Sê dit netnou in gebed: Hier is ek. Laat U wil met die nagmaal vanoggend geskied. Laat U wil met my geskied. En raak weer bewus van met Wie jy te doen het. Voor Wie jy elke oomblik leef. Dit is die lewende Heilige God. Daar is nou geleentheid om die Here te vra om hierdie nagmaal verder in ons te omskep in iets veel meer as net ‘n tradisie. Stilte Flam 55 :1,2 Nagmaalslied Tafel gereed. Ons moet iets hier raaksien. Dis ‘n bevel. Ons word beveel om die nagmaal te gebruik. Dis vir ons. En ons moet verkondig: Die wêreld moet weet HY het vir ons gesterf. Hy het ook jou so lief dat Hy vir jou gesterf het! Dit wat ons nou gaan gebruik, dra by tot die uitdra van die boodskap: Jesus het vir jou gesterf! Brood Wyn Danklied: Tel my op. Tjaart sing Dankgebed Kollekte Slotlied: Lied 367 Ere aan God Seën.