Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Markus 9: 2 – 8 7 Daar het toe ’n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ’n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Mark 9:7 Die hele prentjie sê een ding: Dit is God self wat sê: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” ‘n Mens voel ek sou dit wou beleef. Ek self leef vir oomblikke waar God naby voel. Ek besef ook dat maak nie saak hoe wonderlik Jesus se transformasie in hierdie deel is nie, ek mag nie mis dat God sê: Luister na Hom! Ons kan verwonderd raak oor God se Seun, Jesus, maar ons ook hoor en reageer op die luister na Hom opdrag. Hier is drie dinge wat ons moet sien. Drie dinge wat die luister na Hom uitbrei: • Jesus op die berg. • Jesus bly nie op die berg nie. • Ons moet Jesus volg van die berg af. Dis so belangrik dat ons dit vandag verstaan. Dit kan jou lewe verander. 1. Jesus op die berg. Jy kan op sekerlik op ‘n paar manière na hierdie deel kyk. Die maklikste is om vir mekaar te sê God versterk Jesus hier voor Hy Jerusalem toe gaan. Of ons kan vir mekaar sê die dissipels het hierdie ervaring saam met Jesus nodig gehad sodat hulle na die kruisiging en opstanding met oortuiging sou kon lei. Hierdie ervaring sou hulle help om te kan bly glo in Jesus al lyk dit op die oog af of alles op ‘n ramp afstuur. Ons kan ook iets anders doen. Ons kan onthou wat regtig belangrik is in hierdie deel. Dit is ook hoekom God hierdie oomblik gegee het. Sodat ons kan weet, en onthou, wie Jesus regtig is. Ook as dit swaar gaan en dinge skeef loop moet ons ‘n duidelike besef hê van wie Jesus regtig is. Kom ek verduidelik. As iemand vir jou sou sê, ek gaan jou ‘n vraag vra maar jy moet antwoord dit wat eerste in jou gedagtes op kom. En jy sê, dis reg. Vra. Wat kom eerste in jou gedagtes op as ek sê Jesus? Wat sou jy sê? Party sal sê verlosser. My Redder. Of gekruisigde. Opgestane Heer. Dalk net die Teenwoordige. Die lewende Here.. Daar is meer aan Jesus as net dit. Die diepste waarheid oor Jesus is dat Hy ‘n deel van God self is. Hier: die Seun van God. As ons dit vergeet, dan vergeet ons hoe groots is Sy offer om mens te word en Sy lewe onskuldig op te offer vir skuldige mense. Jesus is nie maar net die Verlosser nie. Hy dra nie net ’n doringkroon nie. Hy is ook die Een met ’n voorkoms wat die dissipels gesukkel het om te beskryf. Hier op die berg. Ook in Openbaringe. In hierdie gedeelte: As Sy ware kleure wys, is dit ‘n total ander prentjie. Dan is dit met helder wit klere, so wit soos niemand op aarde kan maak nie. Sy transformasie so groots dat drie dissipels verskrik raak. Elia en Moses is saam met Jesus op die berg (v 4). Maar dis gou duidelik dat Jesus is loshande meer en groter as hulle twee. Elia en Moses is die twee belangrikste figure in die Ou Testament. Albei het op ’n buitengewone manier die wêreld verlaat. Hulle teenwoordigheid bevestig dat Jesus inderdaad die Een is wat verwag is, die Seun van God. En dan die kersie op die koek is daar die stem uit die wolk (v 7), God self, wat sê: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Ons moet nie eers hier aan twyfel nie: Jesus ís die Seun van God. By die verheerliking op die berg maak God dit duidelik: Jesus is Sy Seun. Hy is die Seun van God. Wat Hy doen en is is Hy namens God self. Wat jy by Hom sien en hoor is die Waarheid en die Weg na die lewe. Hy is God by ons. Immanuel. Jesus is die geliefde Seun van God. Luister na Hom. So sê God self: Luister na My Seun. By Jesus se doop, toe Hy sy aardse werk begin het, het God ook gesê: Dit is My geliefde Seun in Wie Ek ‘n welbehae het. Hierdie keer word gesê: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom. Wat beteken dit vir jou en my? As dit gebeur dat ons bang en alleen is, wanneer ons self ’n kruis moet dra, wanneer ons hulpeloos voel, moet ons dink aan die verheerliking op die berg. Moet ons hoor dat God Hiermee wil duidelik maak: Moenie bang wees nie, moenie twyfel nie. Staan vas. Hou vas. Jesus is God se Seun. Jy kan Hom glo. Vertrou Hom. Hy is God se Seun en ons Verlosser. Onthou altyd wie Jesus werklik is. 2. Jesus bly nie op die berg nie. Die Almagtige sê: : “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Hy sê dit met ‘n doel. Die drie dissipels moet hulle eie idees oor die Messias laat vaar en regtig hoor wat Jesus sê. Hulle ongemak met die gedagte dat Jesus moet gekruisig word moet hulle los en regtig luister. Duidelik hoor hulle nie eers laaste deel wat sê dat Jesus op die derde dag uit die dood sal opstaan nie. Die twee ding hier is dat ons ons self nie kan toedraai in die watte van kosbare alleen ervarings met God nie. Ons het almal al, kan ek dit maar bergtopervarings noem? Gehad saam met die Here. Ervarings wat ons aangegryp en lekker laat voel het. Miskien ’n gebed wat wonderbaarlik verhoor is of redding uit ’n krisis. Of ‘n oomblik wat dit gevoel het as ek nou my oë oopmaak sien ek die Here. Ons kan maw nie hutte wil staan en bou om Jesus en die oomblik vas te vang en daar in te bly nie. Geloof in Jesus is om Jesus te volg en Jesus beweeg na mense toe. Hy bring die evangelie, die goeie nuus van God wat sondaars vergewe en herstel. Ons kan nie op die spreekwoordelike berg bly nie. Ons moet Jesus van die berg af volg na die vlaktes tussen mense in en na Golgota en die kruis. Dietrich Bonhoefer het dit mooi gesê: “As Christus ’n mens roep, roep Hy jou om te kom sterf.” En dis wat die teks ook wil sê. Ons Meester se pad na oorwinning was ’n pad van lyding en diens en die kruis en ons moet agter Hom aan leef. 3. Ons moet Jesus volg van die berg af. Ons is nou in Lydenstyd. Ons het nodig om te hoor: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Jesus se eie luister na God, die Vader, vat Hom weg van hierdie wonderlike oomblik van grootsheid, Jesus se opdrag vat Hom weg van die berg af. Petrus is so beïndruk met hierdie Goddelike kant van Jesus dat hy dit ten alle koste wil behou. Daarom sê hy vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia”. Hier wil hy bly. Hier voel hy goed. Só hou hy van Jesus. Sy heerlikheid en koningskap staan Petrus aan. Nie die stories van kruisdra en selfverloëning waaroor Hy ses dae gelede gepraat het nie (vgl v 31-33). Maar dadelik lees ons in vers 6: “Hy het nie geweet wat hy sê nie.” Onthou dit. Onthou dit as jy gemaklik raak en nie wil uitgaan en waag in Jesus se Naam nie. Onthou dit as jy begin voel maar geloof is net sulke goedvoel oomblikke. Sulke goed voel oomblikke in Jesus se nabyheid. Kyk dan om jou, liewers, kyk om Jesus en sien waar Hy is en wat Hy mee besig is. Jesus hier op aarde leer ons om nie glorie en grend oomblikke na te jaag nie maar om te dien en te bly fokus op dit wat God ons vra. Nee. Jesus los nie alles met krag en mag op nie. Al het Hy al die mag in hemel en op aarde. Op die dae wat jy sukkel daarmee, onthou die berg van verheerliking. Dit is God se geliefde Seun en Hy is weer berg af om te gaan dien en Sy lewe as offer te gee. 7 Daar het toe ’n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ’n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Mark 9:7 Hoor dan God wat ook vir ons vanoggend sê: Luister na Hom! Luister na Jesus.