Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 20: 17 - 38 Hoe lyk jou pad vorentoe? Die kerkraad swoeg en bid oor die gemeente se pad vorentoe Wat is die toekoms van die gemeente? Wat is ons elkeen se toekoms. Die Here maak ‘n paar dinge duidelik: Gee jouself. Asook: Die gemeente behoort aan die Here. So behoort elkeen van ons ook aan die Here. Hou die gedagte vas. 1. Die gemeente, ons elkeen, is duur gekoop. Ons weet dit? Kan ek jou dit op ‘n ander manier wys? As ek dit vertaal: Ons sondes moet so skrikwekkend erg wees het dat dit die dood van God se enigste Seun gekos het om ons met God te versoen. (Alistair Begg). Neem asb ‘n oomblik en drink dit in. Kyk nou na vers 24: 24 Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig. Handelinge 20:24 Paulus skryf aan die gemeente in Filippi, dat hy hierdie vurige verlange het, en daarna uitsien, om niks te doen waaroor hy hom hoef te skaam nie. En dan brei hy uit: 1:20 Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en sterwe, 21 want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins. (Filippense 1: 20-21) Paulus kon hierdie dinge sê omdat hy intens bewus was van presies hoe onwaardig hy was. Hy het geweet hy het Jesus vervolg en die moord op Stefanus goed gekeur. Hy het geweet hoe hy manne en vrouens in die tronk laat gooi het oor hul geloof. Paulus het geweet hy verdien nie genade nie. Hy is die vyand gewees van God self. Hy verdien die dood. Hy weet hoe groot die genade is wat hy ontvang het. Hy het geweet hy verdien nie genade van God af nie. Kyk na Paulus se lewe. Hoe hy geslaan, met klippe gegooi en vir dood laat lê is. En al wat hy steeds begeer het, was om die werk wat Christus hom opgelê het, te voltooi. Dit, dit is dankbaarheid. Dit is fokus. Ons moet ons oë begin oop maak. Ons wil tog nie die mense in Jesus se gelykenisse wees wat deur die bruidegom of die Eienaar wat onverwags arriveer, veroordeel word nie. Ons wil nie die meisies wees wat nie genoeg olie saamgevat het nie. Ons wil gereed wees, besig met die dinge van die Here, wanneer Hy kom. Wat sê Paulus hier? Hy sê hulle weet hoe hy tussen hulle geleef het. Dat hy nederig die Here gedien het al het mense hom baie seer gemaak. Daar was mense wat sy lewe hel probeer maak het. Steeds het hy Jesus verkondig. God se genade gebring na almal toe. Geen verskonings. Geen by motiewe nie. Die heel tyd het hy geweet hoe dit gaan eindig. Vers 22 en 23 22 “En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. 23 Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Handelinge 20:22-23 Ek laat my kop sak in skaamte. Kyk sy fokus! Kyk hoe hou hy aan, want dis God se pad vir hom. En hy wil dit voluit, enduit, leef. Dit is inspirerend! Kom ek breek dit op in korter sinne. Paulus sê: My lewe is vir my belangrik. Maar nie so belangrik dat ek my werk vir die Here sal laat vaar nie. Ek begeer net een ding in my lewe: Ek wil die opdrag van my Here voltooi. Dit is my lewenstaak om die evangelie van genade te verkondig. Hy probeer nie simpatie wek nie. Of homself meer geestelik voor doen nie. Hy stel net ‘n feit. Dis hoe dit vir hom is. Dit vloei uit ‘n intense verhouding met die lewende Jesus. Ek het terug geblaai in Handelinge. Handelinge 19 vers 11 as voorbeeld van net hoe het die Heilige Gees deur Paulus gewerk. “11 God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen.12 Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle gegaan.” Die Here het nie koud en harteloos ‘n pad op Paulus gelê wat vol lyding, tronk en uiteindelik ‘n teregstelling was nie. Paulus het hoogtepunte beleef, suksesse wat ongekend was. En dit alles deur Die Heilige Gees wat in hom gewerk en geleef het. Sy nalatenskap, al die briewe, al sy vasbyt en aanhou deur die krag van God, dra ons vandag, eeue later, steeds. Maar vandag se boodskap is nie vir Paulus of oor Paulus nie. Dit is vir ons, oor hierdie gemeente en hierdie kerkraad. As God jou vir ‘n spesifieke taak roep dan gee Hy die krag daarvoor. Dan vat God mede verantwoordelikheid vir dit. Jy is nie op jou eie nie. God is saam met jou in dit. Die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag is juis sodat God nader as ooit in ons kan leef en deur ons kan werk. 2. Gevra. Paulus het iets van die ouderlinge in Efese gevra. Hy het gevra dat hulle hulself moet oppas asook die hele kudde wat deur die Heilige Gees onder hulle sorg gestel is. Hy bly besorgd oor hulle. Hy vra ook doen die werk wat God van julle vra: Versorg die gemeente. En dan sê hy ‘n belangrike ding van die gemeente. Hy sê dat die gemeente is die gemeente van God. God het die gemeente vir Hom verkry deur die bloed van Sy Seun. Ek moet net iets onderstreep. Dit is hoe ons oor die gemeentes moet dink. En dus oor onsself ook. Die gemeente is die gemeente van God. Nie ons s’n nie. God s’n. En ons moet omsigtig omgaan met die gemeente. En mooi dink voor ons oor ‘n gemeente praat. Dit is God se gemeente. Ja, maar. Nee. Vandag se gemeentes is steeds duur gekoop. Deur die bloed van God se Seun gekoop en gevorm. Dit is nie ‘n mensgemaakte organisasie of klub nie. Ons moet dit altyd onthou. Meer nog. ‘n Gemeente bestaan uit lede. Lidmaat is ‘n mooi woord vir ledemate. Ons is saam die gemeente. En nes die gemeente is ons elkeen duur gekoop. Elkeen van ons is God s’n. Ons is deur God verkry deur die bloed van God se Seun. Ons moet versigtig leef en versigtig wees met wat ons lees en toelaat in ons koppe. Ons leef in ‘n stukkende wêreld en ons kan maklik ingee aan die versoeking om met die stroom te vloei. Ons durf nie. Ons is God s’n. Alles in ons lewens moet heen wys op Christus. Daarom bid asb elke dag dat die Heilige Gees jou sal lei. En kies om Hom te gehoorsaam sodat ook ek en jy voorbeelde vir ander kan wees. Wees besig met die Woord van God. Dit is magtig om jou op te bou en by God te hou. En God sal jou in die seëninge laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.(Vers 32). 3. Gee en word gegee. Henry Nouwens het geskryf oor die vyf G’s. Geliefd, geneem, gebreek, gegee. En geseen. Jy is iemand wat deur God geroep is om jouself vir ander te gee. En ons van ons kant af is mense wat weet ons is deur God gegee. Vers35: Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” Handelinge 20:35 Jy begin deur jouself beskikbaar vir God te stel. Dat God jou kan gebruik sou Hy wou. En dan fokus jy om te leef dit wat jy reeds weet: liefde te beoefen, genade te gee, te vergewe, goed te doen aan ander. Om dit wat Jesus in jou lewe doen en vir jou beteken te deel, sou die geleentheid daarvoor wees. Jy gee jouself. Jy gee jou tyd. Jy gee jou energie en krag vir die Here. Jy offer op. Want ons sondes was so groot en so afskuwelik sleg in God se oë dat God Sy enigste Seun gegee het om ons te red.