Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Galasiërs 6: 11 – 18 Die lewe roep. Maar alles wat roep is nie lewe nie. Daar was ‘n man wat alles probeer het, alles wat hy aan kon dink. Hy het voluit gegaan vir plesier. Gedink: Laat ek die lewe geniet! Net om te besef: dit bring niks nie. Toe probeer hy drank. Toe dit ook nie werk nie toe pak hy groot ondernemings aan. Hy het wingerde aangeplant, huise gebou. Hy het geld gemaak soos min. Hy het grend tuine aangelê. Mooi meisies met wie hy die lewe kon geniet. Hy het homself geen plesier ontsê nie. Hy het elke oomblik geniet. Maar hier is die punt: Hy sê al was hy een van die magtigste mense uit, toe hy diep gaan dink, toe besef hy dit alles kom tot niks. As ek kan byvoeg: Jy bly leeg. Jy bly niks. Dit is nie verkeerd om groot te droom nie. Of om te wil uitstyg in die lewe. Of om net ‘n rustige lewe te kan hê nie. Maar jy gaan ontdek, daar kom ‘n dag wat ook dit gaan voel asof daar meer aan die lewe moet wees as net dit. En jy gaan spyt wees oor wat jy op uitgemis het. Of sal ek sê: op wie jy uitgemis het. Moet dit nie jou lewe laat wees nie. Jare terug, 1987, was hier ‘n burgermeester. Hy het ‘n harde jongmens lewe gely. Ek het afgelei, hy het hard geleef ook en op 60 jaar ouderdom tot bekering gekom. Sy woorde aan my was: Ek wens ek het die Here otmoet to ek 16 was. Ek het uitgemis op ‘n lewe saam met Hom. Hy was opreg hartseer daaroor en vies vir homself. Wat is die antwoord dan? Die man, kom ons noem hom, die Prediker, waarskynlik was dit Salomo, se antwoord is: Dien God en gehoorsaam Sy gebooie (Prediker 12: 13). Moet nie die lewe oor jouself maak nie. Maak dit oor God. Leef vir God. Laat God die eerste plek in jou lewe beklee. Paulus sê dit ‘n bietjie anders in vers 16: 16 En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys. Galasiers 6:16. Wat is die beginsel? Om net te roem oor die kruis van Jesus Christus en so dood te wees vir die geroep van die wêreldse lawaai. Paulus was ‘n uitstekende student. Top in sy klas by die beste rabbiskool wat daar was. ‘n Groot toekoms as fariseer het voor hom oopgelê. Hy het dryf gehad. Hy was op pad. Toe die opgestane lewende Jesus sy lewe kom nuutmaak het, het Paulus van al daardie goed af weg gestap asof dit niks was. Asof dit ‘n gejaag na wind was. Ons kry in hierdie deel, aan die een kant, mense wat goed van jou vra wat hulle self nie doen nie. Dit gaan vir hulle oor uiterlike tekens. Hulle wil net ‘n goeie indruk maak. Hulle probeer hulle families en die ander Jode paai deur die Joodse gebruike voor te stoot. Hulle sê, glo in Jesus, maar, laat jouself besny, hou die ou feeste, doen dit, doen dat. Jesus plus nog iets. Paulus sê: dit gaan oor hulle eie eer. Hulle spog oor wat hulle ander mense kry om te doen. Maar self doen hulle dit nie. Paulus is anders. Hy leef wat hy sê. Hy doen self wat hy preek. En hy spog net oor wat Jesus doen. Hy self, is nie belangrik nie. Hy self, kan niks doen nie, hy vra God om hom te help. Kyk wat sê hy in vers 14: 14 Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Galasiërs 6:14. Paulus se kort belydenis sê vir ons drie dinge: • Dis persoonlik. • Dit bly ‘n gebedsaak. • Dit verander alles in jou lewe. Dit wat jy op trots is verander. En tussen die drie dinge, staan die kruis van Jesus die Christus. En sodra jy na die kruis kyk dan raak dit weer persoonlik want dit is die kruis van ons Here Jesus Christus (vers 14). Geloof beteken niks sonder die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Jy kan al die dinge doen wat mense sê jy moet doen, jy kan al die godsdienstige gebruike van die Ou Testament leef, jy kan kerk speel soveel jy wil vandag, as die kruis van Jesus nie in die middelpunt is nie dan beteken al daardie goed net mooi niks. By die kruis is die opstanding van Jesus inbegrepe. Ek moet net wys op vers 16: 16 En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys. Galasiërs 6:16. Volgens watter beginsel leef? Die van vers 14. Hulle lewe bou om die kruis en opstanding van ons Here. Vir hulle wie die geloof in Jesus iets is wat persoonlik in hulle lewens gebeur het, vir hulle gee God vrede en barmhartigheid. As jy mooi kyk dan is Israel hier nie meer Israel soos die wêreld aan dink nie. Israel is die gelowiges wat hul lewens om Christus en Sy kruis bou. Gelowiges is in Bybelse taal dan, die ware Israel. Hoekom is die kruis so belangrik? Hoekom moet Jesus aan die kruis in die middelpunt wees? Sluit asb maar hier ook die opstanding in want dis deel van wat Paulus bedoel. Kom ek gebruik ‘n beeld. As jy in ‘n tronk is en jy besef daar is geen toekoms meer vir jou nie. Altyd ‘n tronk. Jy besef jy mis uit op baie. Aan die buitekant is ‘n lewe vol mooi en kleur. En jy wil uit maar daar is net een deur. Wel daardie deur na Vryheid en na die lewe, Jesus is daardie deur. Hy, net Hy, is die weg na ‘n lewe van volheid. Jesus (Johannes 10) noem dit lewe in oorvloed.. Almal het sonde gedoen. Elke mens op aarde, wat was en sal wees, is skuldig in God se oë en verdien die dood. Jesus kom en word mens en neem ons vonnis op Hom. (Neem ‘n boek.). As hierdie boek jou lewe verteenwoordig. Alles wat jy geleef het, goed en sleg. Al jou suksesse. Nes Salomo daar in Prediker 2 vertel het. Ook alles wat jy gedoen het wat God kwaad vir jou gemaak het. Hou die boek met ‘n reguit arm voor jou uit. Dis nie so swaar nie. Maar vir hoe lank kan jy dit ophou voor dit te swaar voel? Gaan jy nog spog oor jy soveel minute kon uithou? Of gaan jy jou kop laat sake en erken ek was nie goed genoeg om die boek onbepaald in die lug te hou nie. My ander hand is leeg. Vry. Oop om te ontvang wat God gee. Paulus sê mag God gee. Paulus weet hy kan nie die “boek” onbepaald in die lug hou nie. Hy weet ook sy boek is vol goed wat God se oordeel bring oor hom. Hy weet op sy eie kan hy nie. So, hy bid. Mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus …. Galasiërs 6:14. Die kuns van die lewe is om persoonlik jou lewe aan Christus te gee dat Hy jou nuutmaak en om dan ‘n lewe te leef soos Jesus jou lei. Nie meer ‘n leë lewe van najaag van aardse goed nie, maar eerder ‘n lewe gevul met God. Jy hoef nie ‘n dominie te word nie. Jy doen net alles in jou lewe asof vir die Here. Jy doen dit biddend en jy hou aan om die Here te vra om jou te help dat al wat regtig belangrik in jou lewe sal wees is God en Sy genade en liefde. Ek weet die lewe roep. Maar alles wat roep is nie lewe nie. Die nagmaal vanoggend, sê, nie die brood en die wyn nie, maar Christus, die gekruisigde en opgestane Here, Hy is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Volg Hom.