Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Kronieke 1: 1 - 13 Verlede Sondag het ons gevra: As ons wat anders doen sal ons lewens anders wees? Ons het gesê as ons meer maak van ons verhouding met God. As ons meer bewus is van God se teenwoordigheid. Salomo se afskop as die nuwe koning van Israel help ons met die praktiese. So wat is die een ding wat Salomo weet hy gaan nodig hê? Salomo weet hy is nie ogv sy talente die koning geword nie. Hy is ook die eerste koning van Israel wat nie direk deur God gekies is nie. Hy het bloot sy pa opgevolg. En nee hy is nie oudste kind van sy pa se eerste vrou of so nie. Salomo weet hy gaan God se hulp nodig hê. So wat doen hy? Hy gaan offer tot die Here. Die Kronieke skrywer vertel ons dit reeds in vers 1. Nee, hulle het nie letterlik duisende brandoffers gebring nie. Dit wil net sê hy het in oormaat geoffer. Tweede ding wat opmerklik is. Salomo stap nie die pad alleen nie. Sy godsdiens, sy geloof is nie ‘n persoonlike saak nie in die sin van hy hou dit vir homself nie. Hy roep almal wat hy kan op om saam na die plek te gaan waar geoffer gaan word tot God. Die hele Israel word opgeroep om saam met hom van hierdie eerste treë te gee in sy koningskap. Hulle moet saam met hom die Here gaan raadpleeg. Kan ek dit weer sê. Volgens die Kroniek skrywer is die eerste openbare optrede van Salomo nadat hy koning geword het om by God te gaan raad soek. Leiding vra. Die detail van verse 5 sê een ding: Hy het nie die Baals of ander afgode gaan aanbid nie. Hy is na die Here, die lewende God. Ek moet net iets oor hierdie God sê. In 2 Kronieke 2 sê Salomo: 5 Die tempel wat ek wil bou, gaan groot wees, want ons God is die grootste van alle gode. 6 Wie sou eintlik die vermoë hê om vir Hom ’n tempel te bou as die hemel, die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie? En wie is ek eintlik dat ek, behalwe om Hom met offers te eer, vir Hom ook ’n tempel wil bou? 2 Kronieke 2:5-6 Mooi nê! Hy skryf dit aan die koning van Tirus. Kyk net weer na wat hy oor God sê. Boekmerk dit vir jouself. Hy sê God is die grootste van alle gode. God is so groot dat die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie. En in Psalm 139 skryf Dawid dat God net mooi orals is. Dat hy wat Dawid is net mooi nêrens kan gaan of na toe vlug waar God nie ook alreeds is nie. En weet jy wat? Dit is vandag nog so. Paulus het geskryf oor God dat: 20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, ... Efesiërs 3:20-21 Jesus het vir Martha gesê toe sy Hom wou keer om die graf klip te laat wegrol, dat Lasarus al te lank dood is en dood is dood. Toe sê Jesus vir haar: 40 Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” John 11:40 Want God is groter as wat ek en jy kan bid of dink. Lasarus het lewend uit die graf kamer gekom. En God doen steeds meer as wat ons kan bid of dink. Dit ... dit is die Here ons God. Ons Vader. Dit is ‘n ietsie van God wat kies om in jou en my te woon. Ek weet jy ken die gedeelte. Sekerlik al ‘n paar kinderpreke gehoor oor Salomo se goeie keuse. Kom ek wys jou iets anders. Kyk verby Salomo. Die hoogtepunt van die hele verhaal is nie soseer, Salomo het God gaan raadpleeg het nie. Die hoogte punt is tog sekerlik God self wat aan Salomo verskyn. Dit is God wat aan Salomo verskyn. God neem die inisiatief. God doen dit omdat Hy wil en omdat Hy goed is, nie omdat Salomo dit verdien het nie. Soos ek reeds gesê het, is Salomo goed bewus dat hy self nie die volk kan lei nie. In sy eie oë is hy te lig en hy kort wysheid. Hy kan nie sien dat hy self hierdie groot volk kan lei nie. Nederig. Die wonderwerk gebeur, omdat God groot, vriendelik en vrygewig is. God gee vir Salomo geleentheid om te vra wat hy regtig in die lewe nodig het. Ons kan by Salomo leer wat dit beteken om iets "in die Here se Naam" te vra. Hy vra niks vir homself nie. Niks vir eie gewin nie. Hy vra twee goed: Die eerste is dat God die belofte wat Hy aan Salomo se pa, Dawid, gemaak het, nou sal styf vasknoop.. Dit beteken die bou van die tempel. Sien 1 Kronieke 17: 23, 24. Die koningskap en die bou van die tempel loop saam. Die tweede versoek ken julle: Wysheid. Salomo was so +- 20 jaar oud. Sy pligsbesef is duidelik. Hy verstaan sy plek in die groter prentjie waarmee God besig is. Daar het iets besonders tussen die Here en Salomo gebeur. En God was oop vir Salomo. Salomo kan maar vra wat hy by die Here wil hê. Kan ek Salomo vir ‘n oomblik los? Ek moet oor ons praat. Oor Jesus se woorde in Johannes 15:16 "Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra." Nee. Ons kry nie ‘n hemelse kredietkaart hier nie. Ons kan by Salomo leer om by God te vra dit wat ons nodig het vir die werk wat Hy van ons verwag. En dit is wat Jesus hier sê: Vir die werk wat julle namens My gaan doen, vra en God sal vir julle gee. Ek dink ons het almal al beleef dat God baie keer meer gee as wat ons vra. En soms nie gee wat ons vra nie omdat ons selfsugtig vra (Jakobus 4: 1-6). Of soms omdat die tyd nie reg is daarvoor nie of omdat ons nie vir die regte goed vra nie. Maak vanoggend jou oë oop vir God. God wat groter is as wat ek of jy regtig besef. God wat intens betrokke is by Sy kinders. God wat die inisiatief neem. Vandag sit ons hier. Ons het wysheid nodig vir die jaar. Ons het as gemeente wysheid, krag, vrymoedigheid nodig vir ons werk om die goeie nuus van God se genade uit te dra. Om ‘n verskil te maak en die gemeenskap iets van God se liefde te laat beleef. Laat ons bid hierdie week. Moenie weg bly nie. Kom saam. Ek roep jou op. Kom bid. Kom sit saam met my by die Here. Weet jy wat: Salomo is lankal dood, maar God is vandag nog dieselfde: vriendelik en groothartig. En my vraag van verlede week en van aan die begin van die boodskap? God gaan die grootste verskil aan jou lewe maak.