Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 1: 22 - 2: 1, 2 Kersdag 2023 Net een enkele vers beskryf die geboorte. 1” Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2 en gevra ...” Selfs in Lukas se evangelie, net een, of as u wil, twee verse: “ 2: 6 Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” Kort en saaklik word Jesus deel van die menslike wêreld. En al het ons nie die presiese datum van Sy geboorte nie, weet ons dit was in die tyd van koning Herodus. Hy is in Betlehem gebore. En die gebied wat Judea genoem is. Wat ons ook weet is dat Josef en Maria nie in Betlehem gebly het nie. Maar in Nasaret (Luk 2:4). Maak dit saak? Ja. Want God het lank reeds vooruit laat sê dat die Messias in Betlehem gebore sou word. Uit die nageslag van Dawid. Hy sou die ewige Koning wees. Agter hierdie kort vers gebeur ‘n klomp goed. God wat Maria roep en swanger laat word. God wat vir Josef in ‘n droom oortuig om nie van Maria te skei nie maar wel met haar te trou. En in ‘n tyd waar ons elkeen bekommerd raak oor die ekonome se siening dat die land se ekonomie in duie gaan stort, hoor ons dat 2000 plus jare terug het ‘n keiser Augustus ‘n volkstelling uitgeroep sodat hy kon sien of hy nog meer belasting kon in en meer mense verplig in sy weermag in. Dit was die tyd van Romeinse oorheersing. ‘n Moeilike tyd onder vreemde wet en eise. Die Romeine was hardhandig en wreed. In so ‘n tyd kies God om Sy Seun mens te laat word. Vir jou. Vir ons. Die verhaal is verder deurspek met politieke woelinge, leuens en die heeltyd die dreigende geweld. ‘n Geweld wat later uitbreek as Herodus besef die sterrekykers kom nie terug nie en hy gee bevel dat al die klein seuntjies van 2 jaar en jonger in Betlehem en omgewing doodgemaak word. Die mooi van die geboorte en die sterrekykers uit die ooste, hulle hulde word oorskadu met die kindermoord. En jy besef daar was nog altyd teenkanting teen God. En daar is nog steeds teenkanting teen hierdie stukkie geskiedenis. Matteus noem dit die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. En dan haak mense vas by die maagd wat swanger word en die pa wat nie die pa is nie. En daar is verklarings op verklarings maar almal kyk God mis. Ek vir een, en ek weet heel party van julle ook, het al teveel van God beleef om nie te glo nie. Die feit dat iets vir mense onmoontlik is beteken nie dat dit vir God onmoontlik is nie (Sag 8:6). En ja, geloof in Jesus vra meer van jou en my as net om te glo dit is soos God sê dit is en soos die oog getuies dit deurgee. Dit vra opofferings. Die evangelie van Jesus Christus het nog altyd opofferings gevra van ons. En hier is mense wat groot opofferinge maak. Maria, wat as ‘n verloofde meisie van daardie tyd, in groot krisis kom, met ‘n swangerskap. En as u nog kan onthou in ons land toe mense dogters wat voor die huwelik swanger geraak het, weg gesteek of na familie iewers ver weg gestuur het om so die skande oor hul as gesin te vermy, as jy sulke goed kan onthou, maak dit net tien keer erger en miskien kan ons iets van Maria se krisis en opoffering verstaan. En tog het sy gereageer met: Ek is tot die Here se beskikking. En Josef wat baie lief was vir sy Maria maar ook goed geweet het hy is nie die pa nie. Wat moes hy dink? Dink jou sy seer in. En as die engel in ‘n droom aan hom verskyn en dinge vir hom uitgelê. En jy hoor dat ook Josef die opofferings maak, oor homself kom en presies gaan doen soos die engel van die Here hom beveel het. Daar is nog die swaar van te voet reis na Betlehem om getel te word en jou vrou is ver in haar swangerskap en jy is dalk net besorgd dat die kind gebore gaan word iewers tussen niks en nêrens vêr van enige hulp af. En dink jou Maria se ongemak op daardie stadium. Die sterrekykers is nog ‘n groep wat groot opofferings gemaak het. Van ‘n ver land af hierdie vreemde ster gevolg het. Gereis het om die nuwe koning hulde te bring. My hart breek as ek dink aan die mense van Betlehem en omgewing as die soldate instorm van huis tot huis en begin klein seuntjies vermoor. Jou seuntjie vir wie jy in hierdie stadium al so lief is en al is hy nog nie twee nie het jy al drome begin droom oor as hy eendag groot is. En dan kom die soldate. Geloof in Jesus Christus bring nie altyd die voorspoed en welvaart wat mense so begeer nie. Die haat van die wêreld is teen Hom. Moet asb nie dink dat om Christus te volg, gaan jou niks kos nie. Kersfees is nie die persente, die liggies en mooi lekker sang nie. Die Kersboodskap is een van goeie nuus: Die Redder is gebore. Die Messias het gekom. En dit is hoekom ons sing en bly is en feesvier. Maar Kersfees dra ook die besef dat die Christus gekom het om ons terug te plaas in die regte verhouding met God en mense. Jou en my lewe gaan nie net so ononderbroke rustig kan aangaan nie. Geloof in die Seun van God, is nie maar ‘n sousie oor ons lewens nie. Jy weet mos: jou ma gooi ‘n lekker kaas sousie oor die blomkool of brokkoli en dan lyk dit sommer lekkerder en eet jy dit. Nee. Die Kindjie van Betlehem, word die gekruisigde van Golgotha en die opgestane Heer. Ons vier vandag Kersfees maar ons bly bewus dit kos die Kindjie Sy lewe sodat ons kan lewe. En hierdie lewe wat ons ontvang, dit vra keuses. Gehoorsaamheid. Dit vra selfverloëning en opofferings gemaak aan hierdie Koning van ons. En laastens besef mens dat God keiser Augustus se bevel vir ‘n volkstelling gebruik om die gekose ouers vir Sy Seun in Betlehem te kry. Soos voorspel was. En jy moet tog sekerlik jou self afvra of God vandag nogsteeds regerings gebruik om ons uit ons sluimer te wek en in beweging te bring agter Sy Seun aan. Vanoggend is al ‘n goeie begin.... Baie opofferings is alreeds gemaak. Jou teenwoordigheid vanoggend het ‘n besluit gevra en jy het dit deurgevoer. Dankie. Dankie vir die glimlagprojek. Die barmhartigheidsete, die gee van dankoffers, getrouheid in die erediens, ... dit is alles opofferings wat ons maak twv van ons Koning Jesus. Dankie dat jy dit meer opgeoffer het. Kom ons bou hierop voort en kom ons onthou die grootste opoffering en selfprysgawe ooit is Jesus wat die hemel prysgee om mens te word en Sy lewe as ‘n mens te kom gee om ons te red en vir ons die hemelse te kom bied. Die grootste Kersgeskenk is God wat vir jou ‘n nuwe lewe kom bied. Geseënde kersfees.