Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Eksodus 14: 15 – 31 Oujaarsdiens Ek het Woensdag opgestaan en geweet ek moet oor vertroue praat. Vertrou God. Vanoggend het ons gesels oor hoe God vertroue vorm in ons lewens. Die Here is "nie" 'n fasiliteerdergod, wat die posisie van 'n middelman tussen die twee partye – Egipte en Israel – inneem nie. Die God van Eksodus is die Een wat kant kies, wat bevooroordeeld is, wat subjektief optree en waaroor daar hoegenaamd geen misverstand kan wees nie: God kies Israel. Is jy ongemaklik daarmee? Hoekom? Jy het die keuse om die Here te volg en aan die kant te wees vir wie Hy kies om te beskerm en versorg. Of jy kan bloot jou eie kop volg. Dit is belangrik om raak te lees Dit gaan nie oor wie wen en wie verloor nie. Dit gaan oor God wat die oorwinning gee. God wat elke treetjie van die pad uit wys. God wat seker maak dat die volke weet Hy is God. Ek sal nie ‘Israel vandag sonder meer hier in lees en sê so is God vandag aan die kant van Israel of van so en so nie. Ook nie uit dit wat God doen uit lees nie. God kies Sy eie kant. God staan by wie Hy wil. En in Christus weet ons dat God is by die wat in Hom glo. Glo is ‘n interessante woordjie. Glo is volg. Glo is doen soos God sê. Dink jou in as Moses nie gedoen het wat God vra nie. As Moses nie die moed gehad het om voor almal sy kierie oor die waters uit te steek nie want sê nou net niks gebeur nie. En wat sou gebeur het as die volk nie van koers verander het soos God gesê het nie? Kom ek sê dit anders. Die Here gee Moses opdrag om met sy kierie in die hand die see oop te kloof sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. Wie kloof die see oop? Moses? Nee. God. God is die een wat doen en besluit en lei. Moses se deel is om te doen wat God sê. Sonder God wat opdragte gee en dinge doen en laat gebeur, sou daar niks gebeur het nie. Sonder Moses se gehoorsaamheid sou daar heel moontlik ook niks gebeur het nie. God doen hier vir my iets baie besonders. Nee ek praat nie van die see oopkloof en weer toe maak nie. Dit is ook besonders. Ek praat van iets anders. Nog voor die waters oop en toe gaan. Kom ek lees dit vir jou: 19 Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20 tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie. Eksodus 14:18-20 Wat doen die engel van die Here? En die wolkkolom? Die engel wat eers van voor gelei het, beweeg na agter en tussen Israel en die vyand in. So ook die wolk. Aan die vyand se kant is die wolk donker. Aan die Israeliete se kant is die wolk lig. 2024 lê hier reg voor ons. En ek moet vra: Met wie identifiseer jy hier? En hoekom? Want is daar nie iets van die egiptenaar in ons wat hals oorkop instorm sonder om te dink wat gaan dalk gebeur nie? Is ons nie dalk die Israelite wat mor en kla en dink dis beter as ons in die verlede bly? Sien 14: 11. Daar takel hulle Moses toe oor hy hulle uit Egipte uit gelei het en hulle glo hulle gaan nou hier sterf. Dis nou die einde. Hoor my lied: Dieselfde mense wat geslagte lank gebid het, so 400 jaar lank, gebid het om uitkoms, om vryheid. Hulle kla en mor en vertrou nie die Here nie. Ook nie vir Moses nie. Elke nuwe dag van my lewe het nog altyd geloof van my gevra. Die soort geloof wat wil gehoorsaam. Wat wil weet wat God vra en dit regtig wil leef. Elke nuwe dag van my lewe vra dat ek vorentoe kyk, God vertrou en by God bly. Die keuse oor en oor maak om God te volg en te vertrou. 2024 gaan nie anders wees nie. 2024 gaan nie oor my of jou wees nie. Ek weet daar is mense wat sê: Dis my jaar hierdie. Hulle voel dit sommer aan. Nee. Dit gaan oor God. As ek jou kan terugneem na vers 4 (wat ons nie gelees het nie). 4 Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.” Eksodus 14:4 En ook na vers 25, waar die Egiptenare uitroep: Ons moet hier wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte. Vol sirkel. God sê. God laat dit gebeur. God vernietig die Farao se weermag. Nie die volk nie, hulle is bang en kla en verwyt vir Moses. God sorg dat hulle behoue hier uitkom. Dit is "die verlossing van die Here" (Eks 14:13). God is aan die kant van die Israeliete. In werklikheid staan die farao en sy Egiptenaars geen kans teen God nie. Die Israeliete, daarenteen, het geen aktiewe rol in hierdie deel nie. Hulle is eerder toeskouers, vlugtelinge, passiewe toekykers van God se ingryping. Hulle word selfs deur Moses mooi gesê om stil te wees (Eks 14:14)! Die Verbondsgod van Israel neem die inisiatief, beplan, en bewerk die verlossing van die Israeliete. Die Israeliete kan gewoon stil wees, want God verlos. 13 Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14 Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Exodus 14:13-14 God gaan weer kant kies. Maar ons moet die kant kies deel mooi verstaan. Dit maak nie een groep meer of beter as die ander nie. Niemand verdien om deur God gekies te word nie. Dit is net genade. Dit is God wat deur Sy Heilige Gees ons oë oop maak en vir ons die geloof gee om by God aan te sluit. God gaan nie aan ons kant kom staan in 2024 en ons help om ons lewens en idees en drome te maak gebeur nie. God gaan ons eerder lei om Sy drome vir ons en die land te realiseer. Vraag is net of ons ons oë sal oopmaak en sien hoe kragtig God is en met ontsag Hom sal dien. Die verhaal sluit af met: Hulle het in die Here geglo. 2024 vra net dit: Dat ons in die Here sal glo.