Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hosea 5: 15 – 7: 2 Ek vra dikwels wat as ek dit anders doen of meer doen of begin doen, sal die grootste verskil aan my bediening maak? En aan my lewe. Die antwoord was nog elke keer: My verhouding met God. Hierdie keer het dit so effe wyd gevoel. So ek vra weer. Wat sal die grootste verskil aan my lewe en aan my werk maak? Om meer teenwoordig by God te wees. Wil jy daaroor dink? God is altyd teenwoordig by ons. Maar is ons ten alle tye bewus dat God by ons is? Bewus dat God kies om in ons te woon? Die tweede antwoord is om meer presies te leef soos Jesus sê. Of dit nou is om nie te oordeel, of om dit wat ek my diep raak in my stilte tyd, eenvoudig net toe te pas in my lewe en te leef. Twee jaar gelede, of is dit al drie jaar gelede, lees ek op vakansie ‘n boek met die title “The 5am club”. ‘n Klomp goed het sin gemaak en ‘n klomp geen sin vir my in elk geval nie. So ek dink, ek gaan begin 5 uur in die oggende opstaan vir meer tyd saam met die Here. Ek sal meer aktief raak, dis nou soos in oefen. O ja en meer lees. Self ontwikkeling. Die yskoue storte waaroor die boek praat is nie vir my nie. Maar die ander goed gaan ek doen. Ek sien die punt daarvan in … maar ek gaan eers begin as ek terug by die huis is. Dit het nie gebeur nie. Die Here praat hier met Sy mense en Hy praat oa soos ek aflei, soos hulle sou dink. Kom ons keer terug na die Here. Hy het ons hard gestraf. Kom ons hou biddae en kom ons wy ons aan Hom toe. Hy sal ons heel maak en weer vir ons sorg. Hy sal na ons toe kom soos die vroee stortreens. (6:1 -3) En dan bars die bom. Die Here sê julle liefde, dis soos ‘n morewolkie: dit verdwyn so vining soos dou (6:4). My storie van ek en die 5am klub, wel, hulle het opgewonde geraak maar die begin uitgestel, of hulle omkeer daar maar dit het nie lank gehou nie. Hosea is nie die enigste profeet wat van die volk as God se bruid te praat nie. Dit is eintlik so ‘n mooi beeld. ‘n Bruid hou haar van lank voor haar troue af, rein vir haar aanstaande. ‘n Bruid leef saam met haar man. Sy het hom lief. Dikwels liewer as haarself. En hy, die bruidegom bly eksklusief net hare. Hy maak opofferings vir haar. Hy gee op baie manière sy lewe ook vir haar. Vir haar sal hy tussen haar en die dood inspring. Die probleem in Hosea se prentjie van God en Sy mense is net die bruid het ander planne. Sy hardloop agter ander dinge aan. Ja, haar bruidegom is nog belangrik maar sy is te besig om op ander plekke en by ander verleidings rond te hang. Geleerdes noem dit vorm godsdiens. Dit het die vorm van diens aan God maar die dop is leeg. Dit is waar godsdiens religie geword het. Waar gelowig ‘n diep gedagte is maar nie ‘n leefwyse nie. So iemand glo en kom steeds, soms ongereeld, of selfs gereeld, na die samekomste van God se mense. Maar hulle geloof syfer nie deur na die res van hulle lewens nie. Soos iemand iewers geskryf het: Die probleem is dalk net ‘n groter toegewydheid aan ‘n manier van leef wat welvaart belowe. ‘n Verbruikerskultuur. ‘n Verbruikerskultuur soek na wat hulle van hou. Na ‘n gemeente wat hulle smaak pas. Dit maak dat dit moeilik is om raak te sien as jy wegdryf van God af. As jy ontrou raak aan die Here. Want sien jy doen nog al die regte dinge maar dit gaan eintlik net oor jou. Vir so iemand is dit ewe maklik om op ’n Sondag erediens toe te gaan en op ’n Maandag werk toe, op ’n Dinsdag winkel toe . . . en op ’n Saterdag na ‘n kuier of rugby toe, sonder om te besef al hierdie goed is ten nouste verbind aan mekaar. Dis soos klere aantrek. Hulle wissel hulle gedrag na gelang van die dag van die week of die groep waarin hulle op daardie oomblik is en Sondag raak hulle vroom. Dit is God se probleem met Hosea se mense. Dit is hoekom die Here sê: 2 Hulle dink nie eens daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie. Nou het hulle optrede hulle ingehaal, dit lê oop en bloot voor My. Hosea 7:2 Net voor 7:2 haal die Here hulle sondes aan, hoe hulle mekaar belieg en en en. En dan wys die Here die probleem uit: Hulle dink nie eens daaraan dat Hy, die Here, al hulle sonde ken nie. Die Here is op al die plekke. God is orals teenwoordig. Hosea sit ‘n mens aan die dink. Hy vra dat ons raaksien dat God altyd teenwoordig is. Dat ons nêrens kan wees waar God nie is nie. Dat God alles weet. Is dit nie die een besef wat die grootste verskil aan ons lewens gaan maak in 2024 nie? Hosea vra dat ons God se hart raaksien. Sal ons raaksien dat Hy saam met ons wil lee fen in ons is. God vra nie uiterlike godsdiens nie. God vra ons hart. God wil ons liefde hê. Ons getrouheid soos ‘n bruid getrou is aan haar bruidegom. God verwag toewyding aan Hom eerder as die uiterlike godsdienstighede wat baie mense hulself mee paai. By God gaan dit hier, in hierdie gedeelte in Hosea, daaroor, dat ons God werklik moet ken, en dit gaan oor getrouheid aan die Verbond en om te besef dat barmhartigheid, omgee, meer belangrik is as godsdiens. God verwyt hulle. Hy sê: "Hulle dink nie eers daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie." Hierdie vers, of deel van ‘n vers moet ons al klaar laat reg op sit. Al daardie goed wat ons goed praat, regverdig in ons lewens, ook die goed wat ons darem nog oor skuldig voel, God weet dit. Hy was daar toe ons dit gedink het en gedoen het. Dit is wat Israel op hierdie punt inhaal, hulle bly nie bewus van God nie. Nie eers bewus dat God sien waarmee hulle besig is en weet wat in hulle koppe aangaan nie. Wat die Here verwag het, is dat Israel hulle skuld insien en bely (5:15). Dat hulle besef die kern van die probleem is hulle oppervlakkige manier van leef met God. Dat God se Verbond vereis lojaliteit en eksklusief net met leef. Godsdienstige rituele met offers en skuldbelydenisse is nie genoeg nie. Dit word gemeen dat hierdie deel, God aan die woord is. Dit is die Here se wens vir Israel van toe se nuwe jaar. As ek dit so mag uitdruk. Dat God se bruid sal terug keer na Hom toe. Dat sy Hom sal liefhê met hart en siel en sal streef daarna om te doen soos Hy doen. Te wees soos Hy is. Maar haar liefde verdwyn sommer gou soos ‘n morewolkie, so vining soos dou. Vergeet van die ongelowiges. Hierdie woorde, of wens van God, is dat elkeen van ons sal hoor wat die Here sê. Sal hoor: Kom terug na My, die Here jou God toe. In Levitikus en in Jesaja en in 1 Petrus 1 hoor ons: Wees heilig want Ek, die Here jou God, is heilig. Moet nie jou lewe om jouself laat draai nie. Draai jou lewe om God en jy sal lewe. Verloën jouself en jy sal soveel meer terug ontvang. Wat beteken dit vir vandag? Ons almal weet hoe verrot ons samelewing geraak het. Van die regerende party na baie wat misdaad kies, of net swak waardes leef. Ons kan na situasies in ons eie land kyk, en na die wêreld kyk en parallelle trek. Dit is nie verkeerd nie. Ons moet veral net een ding nie miskyk nie: Dit is dat die mense van Hosea se tyd en hulle leiers oor die afgrond getuimel het want hulle het geleef asof God nie teenwoordig is nie. Sommiges noem dit ‘n gebrek aan 'n Godsbewussyn. Elkeen van ons wat 'n pad met God loop, moet maar eers voor ons eie deur vee. Ons self afvra: Doen ek wat God sê? Leef ek in trou en gehoorsaamheid? Onthou, ons is geroep om anders te wees. Ons is herskep en wedergebore in Christus en dit maak ons vreemdelinge in ons gemeenskappe. Ons leef elke dag bewus dat God by ons is. Dat God alles sien en weet. Ons is nou mense wat nie net kies om heilig te leef nie, en om lig en sout te wees nie, maar ook mense wat nederig hulle liefde vir die Here lewe. Ons is die bruid van Christus. Ons, as gemeente, as deel van die kerk, dis wie ons is: Die bruid van Christus. En kom ons leef dan eerbaar en passievol net vir die Here alleen. Kom ons laat Sy liefde ons so toevou dat ons net oë vir Hom het en jy ons nooit ooit in die arms van die wêreld sal vind nie. Wat gaan die grootste verskil in jou lewe maak? As ons leef met die bewustheid van God is hier by ons. As ons God nog meer liefhet en groei in getrouheid aan Hom. As ons kies om elke dag saam met Hom deur ons dag te beweeg.