Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 2: 1 – 12 Sondag 24 Desember 2023 Ons het vanoggend ‘n kleine mensie gedoop. Swak, nog totaal afhanklik van hul ouers. Soos ons elkeen se begin in die wêreld in. So was ons Verlosser se begin in ons wêreld in. Voor ‘n netso klein babatjie het die sterrekykers kom kniel en hulde en geskenke gebring. Geskenke vir ‘n koning. So het die skaapwagters ‘n pasgebore babatjie en vir Maria gevind in ‘n krip in Bethlehem. Oor so ‘n klein mensie het Herodus alle seuntjies onder die ouderdom van twee laat vermoor. Want hy was bang om onttroon te word. So volledig het God se Seun met mense kom vereenselwig. Nie beskermd. Net soos ons uitgelewer aan die hardheid van die wêreld. God het Sy volledige reddingsplan, so, onbeskermd, sonder lyfwagte en bloulig brigades – aan twee eenvoudig gelowig mense toevertrou. Nes ons. Kersfees maak my oë nog meer oop vir Hebreers 4: 14 Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Hebr 4:14-15 Jy kan al die liggies en kers musiek en geskenke wegvat, Kersfees bly besonders want dit bring my hart tot rus want God het ook vir my raak gesien. God is ook met my ou klein lewetjie besig. Ek weet nie van jou nie, maar ek het nodig om Kersfees te vier. Ek het nodig om net weer te sien die uiterstes waartoe God bereid is om te gaan, vir jou en my. Ek het nodig om weer die spanning en gewoel en koudheid rondom Jesus se geboorte ook raak te sien. En dan te besef: Die wêreld was daardie tyd netso koud en hard en haatlik met mense. Hulle het ook swaar getrek onder die politici se dom besluite, gesukkel met finansies. Gesukkel met die lewe. En Kersfees herinner my ons is reg as ons op God alleen bly vertrou. Net God, God alleen is die hoop vir ons land. Ons Here ken ons elkeen en ons swaarkry. Hy was self as mens daardeur. Mense plaas so maklik die klem verkeerd. Hulle sien al die rolspelers raak in die Kersverhaal. Of hulle raak net opgetrek met die vierings en die kuiers. 1. Sterrekykers Daar is die sterrekykers of wyse manne. Mense is al deur die eeue baie ingetrek deur hulle. Hulle het name gekry. Ouderdomme is gegee. Daar is ‘n Russiese mite wat praat van ‘n 5de wyse man genaamd Propasin. En nee, ons teks sê nie hoeveel wyse manne daar was nie. Net drie geskenke: goud, wierook en mirre. Navorsing is oor hulle gedoen bv dat hulle konings sou kon wees. Dit sou inlyn wees met hoe bv Tiridates, die koning van Armenië, met `n groot geselskap in 66 nC na Rome gereis het. Hy wou aan Nero hulde gaan bewys. Nero ontmoet Tiridates by Napels, waar die Armeense koning voor die keiser neerbuig en op dié wyse aan hom hulde bring. Hy het voor die keiser gekniel as ‘n teken van eer en geskenke gebring. Net soos die sterrekyker met Jesus doen. Op die oog af is die sterrekykers in die hoof karakters. Hulle draai Herodus ‘n rat voor die oë. Die sterrekykers is besig. Hulle soek, hulle reis, hulle doen navraag. 2. Herodus Herodus die grote is die ander besige rolspeler. Hy doen alles in sy vermoë om sy troon veilig in sy eie hande te hou. Hy laat navraag doen. Hy beveel die sterrekykers om te kom terug rapporteer. En Herodus word hewig ontsteld as hy hoor daar is ‘n nuwe koning gebore. Ons lees dat die hele Jerusalem saam met Herodus ontsteld was. Geleerdes meen dat dit was omdat hulle geweet het dat hierdie nuus Herodus nuwe wreedhede op almal sal laat afkom. Hy was bekend daarvoor dat hy hoe ouer hy geword het hoe wreder het hy opgetree. Hy het selfs sy seun laat vermoor. En tog gaan die verhaal nie oor Herodus nie. Hy is hier maar net ‘n handlanger van die Bose. En die Bose wil God se plan keer. Die hoofrol gaan aan Een wat absoluut niks doen. Hy word gebore. Hy lê weerloos in ‘n krip. En Maria wat by Hom is. 3. Die Kindjie. As die ster uiteindelik gaan stil staan bo die huis waarin die Kindjie was en hulle ingaan dan sien hulle die Kindjie en Maria. Josef word nie hier genoem nie. Dit gaan nie oor hom nie en eintlik nie oor Maria ook nie. Die sterrekykers bring eer en geskenke. Staan so ‘n bietjie terug van die toneeltjie af. Sien raak wat God doen. Sien God se mag. Hy laat hierdie onbekende en wat ek meen, besonderse ster verskyn. Dit moes ‘n besonderse ster gewees het want hoekom anders het dit die sterrekykers so geboei. God bring dan hierdie wyse manne uit ‘n vreemde volk en land om ‘n reis aan te pak en vir die “wêreld” te kom bevestig: Hierdie Kindjie is ‘n Koning. ‘n Groot besonderse Koning oor Wie se geboorte ‘n vreemde ster verskyn het. Dit is die mag en vermoëns van ons God. Dit is die enigste glans aan die geboorte verhaal. Die res is net die koue harde werklikheid van die lewe. Josef en Maria is opgeroep om te gaan registreer omdat ‘n vreemde koning wat hulle oorheers dit so beveel het. Hulle lewens en beplannings was ontwrig. Maria hoog swanger moet ‘n lang reis onderneem of dit nou goed is vir haar en haar baba of nie. Sy moet gaan. Daar is geen plek om in te oornag nie. In ‘n wêreld waar regeerders niks vir jou voel behalwe vir die belasting wat hulle uit jou uit kan wurg. In ‘n wêreld waar die plaaslike koning wreed is en moor, word God se Seun gebore as een van ons. Ek wil dit tog weer sê: Dit is vir my merkwaardig dat God sy volledige plan vir die redding van alle mense so “onbeskermd”, sonder lyfwagte of bloulig brigades in die hande plaas van twee onbekende klein dorpie opreg gelowige mense. God draai Sy Seun nie in watte toe nie. Hy beleef die volle hardheid en koudheid van hierdie wêreld. Met net Josef en Maria om Hom as “ouers” by te staan. Matteus 1 vers 23 haal die profesie van die profeet Jesaja aan: Immanuel. God met ons Dit is maklik om vas te kyk in die Herodusse van die wêreld. Hulle impak op ons lewens is dikwels hard en genadeloos. As ons te midde van sulke mense nie Kersfees vier nie gaan ons die risiko loop om te dink God gee nie om oor wat met ons gebeur nie. Ons kan ook begin om God in ons eie gietvorms in te dink. Byvoorbeeld dat God moet vergeld en dat God met mag en krag die misdadigers en korruptes van ons dag moet weg vee. En as God dan nie met krag wil ingryp nie dan gee Hy seker net nie om nie. Kersfeestyd daag ‘n mens uit om God te begin sien soos Hy is en nie soos mense Hom uitbeeld nie. Kersfeestyd laat jou God se liefde sien. Laat jou besef dat God ons wêreld ken en vir ons omgee. Dat Hy raaksien met wat in jou lewe gebeur. Dat Hy nie van buite af toe kyk nie maar betrokke. God nooi ons uit om saam met Hom deur ons wêreld te stap. Om Hom te vertrou met jou seer en jou heel word. In Jesus sien ‘n mens dat God saam met ons ly. Hier in die deel wat ons gelees het sien jy reeds hoe die “wêreld” teen Hom planne smee. En in die deel net hierna moes Sy ouers vlug om Sy lewe en seker ook hulle lewens te red. Immigreer na ‘n vreemde land met vreemde mense en ‘n vreemde taal toe. En in vers 22 lees ‘n mens dat Josef bang was om terug te keer. En jy besef maar Jesus is reeds besig om by mense te wees deur te kom insit, by sit in die aanvalle en moeilikhede wat ons as mense beleef. Hy verstaan. Hy is hier by jou. Steeds by jou. God is egter nie soos ons wat dikwels magteloos is om iets te doen nie. God werk met krag in ons wêreld. Die goeie nuus, die moed skep oomblik is die oomblik wat jy raaksien dat God nie alle bedreigings weg gevat het en alles laat reg loop het nie. Maar dat God die heeltyd teenwoordig was en dinge bestuur het. Jy sien dit toe Josef in ‘n droom gehoor het dat Maria se swangerskap was God se werk. En jy sien dit as God die sterrekykers in ‘n droom waarsku om nie terug te rapporteer aan Herodus nie. En in vers 19, 20 as God Sy engel stuur om vir Josef te sê om terug te keer na Israel toe. En as Josef steeds te bang is om terug te keer dan is dit God wat hom aanwysings gee. En dis God wat Josef en Maria en die Kindjie in Nasaret laat opeindig. Al maak baie dinge nie sin nie, eendag sal ons terug kyk en sien hoe God ten spyte van mense en gebeure Sy pad met ons geloop het. Ek besef ek vra ‘n groot stuk vertroue in God. Ek vra eintlik dat jy God so totaal sal vertrou dat jy minder besorg gaan wees oor wat gebeur as wat jy besorg is oor dat God jou moet lei en by jou teenwoordig moet wees. Ons het nodig om God te vier.