Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 4: 18- 22 Ek wil vanoggend ‘n storie vertel. Dit is langerig, so ek gaan dit baie verkort. Dit is uit die boek Into the silent land. Martin Laird. ‘n Man wou graag ‘n priester word. Hy het by ‘n klooster aangeklop en begin studeer. Al die tradisies van die klooster. Teologie in oorvloed. Hy het hard gewerk en goed ingeskakel. Hy het toe gevra om vir die finale keuring te gaan. Twee keer is hy op ‘n mooi manier terug gestuur. Hy het vir die skoenmaker om hulp gaan vra. Hy het vir hom sy hele storie vertel. Hoe hy elke keer weg gewys word en en en. Die skoenmaker het een vraag gehad. Hy wou weet: Wie is jy? Maar ek het jou nou net in detail vertel, protesteer die jong man. Nee, sê die skoenmaker. Wat jy my vertel is alles dinge wat ‘n mens soos klere aantrek en uittrek. Jy het my vertel van waar jy af kom, wat jy alles al gedoen het, jou studies. Maar jou probleem is jy weet nie wie jy is nie. Jy is ‘n straal van God se eie lig. Jy sê jy soek na God. Maar ‘n ligstraal gaan soek nie die son nie. Dit kom van die son af. Jy is ‘n loot op die wingerdstok van God. ‘n Loot gaan soek nie die wingerdstok nie. Dit groei uit die wingerdstok uit. ‘n Golf gaan soek nie na die oseaan nie. Die golf is reeds gevul met die oseaan. Gaan vind uit wat die Psalmdigter bedoel het toe hy geskryf het: Wees stil en weet Ek is die Heer. Dalk sukkel jy met die lewe. Miskien voel jy verwond deur ou seerkry of die onsekerhede van die lewe. Dalk is jy kwaad. Permanent in die rooi, soos Petrus en sy broer in die Bybel was. Jesus het hulle die bynaam van boanerges gegee: seuns van die donder. Dalk is dit vir ons almal nodig om die vraag te beantwoord: Wie is jy? Nie wat is die goed wat jy om jou hang om jou beter te laat voel of jouself mee te identifiseer nie. Ek praat nie van jou prestasies nie. Ook nie jou beroep of jou huwelik status nie. Of jou stamboek nie. Wie is jy? Mag ek jou vanoggend herinner aan wie jy is. Jy is iemand wat deur God geroep is. Jy is iemand vir wie God so lief het dat Hy Sy eniggebore Seun vir jou gegee het. Jy is gered. Jy is iemand wat nou vanuit God groei en vanuit God leef. Sy Heilige Gees woon in jou. Jy is ‘n tempel vir die Here, die Almagtige. Sy lig straal uit jou uit. Jy is ‘n loot op die wingerdstok wat Jesus is. Dit is jou identiteit. Gaan word stil met hierdie besef. Nie besittings, nie werk, nie prestasies, nie geleerdheid nie. Maar God. So word stil en weet Hy is die Heer. Die volgende vraag is dan: Wie is Jesus? Dit is ook die twee vrae wat die jong man in ons stories so verander het dat die aardse nie meer vir hom so belangrik was nie. Raak bewus dat die Seun van God jou voorberei het juis vir oomblikke soos hierdie. Voorberei het en gevoed het en versorg het dat ons nou vrug kan dra vir Hom. Vanuit Hom. As jy weet wie jy nou is, dan maak jy nie verskonings nie, jy oordeel nie, jy raak nie besig met allerlei onbelangrikhede nie, jy maak jouself net meer en meer oop vir God se werking in jou. Die kerkraadslede wat ons net nou gaan bevestig en herbevestig het gereageer op Jesus wat sê: Kom volg My! Ek stuur jou! Die Bybel praat op baie maniere ... of met verskillende woorde of beelde van hoe God mense roep: • Jesus stap langs die see van Galilea, sien 2 broers en sê: “Kom hier. Volg My! • Vir die ryk jong man sê Hy: Gaan verkoop al jou goed. Kom dan terug en volg My! (Luk 18:22) • Rom 8:28 staan daar: ons is volgens Sy besluit geroep” • 1 Tess 1:4 Ons is uitverkies deur God. • Openb 3:20 Hy staan by die deur van ons hart en klop ... Ek kon seker na Gideon en David en Saul en Paulus en Jeremia en Esechiel en en en hoeveel ander ook nog verwys het. Wat van Maria wat swanger moes wees met die Messias. En Josef. Ek betwyfel dit sterk dat enigeen hier kan sit vandag en sê “God het my nog nooit geroep nie!” As jy Jesus se kruis en opstanding aanvaar het as vir jou gedoen en jou lewe as antwoord aan Hom gegee het .... dan het jy op Sy roep geantwoord. Punt is: Jy is geroep! Voorheen al en vandag weer. Dalk het jy al geantwoord dalk nog elke keer die roep geïgnoreer. Miskien het jy gehoor maar geredeneer: • Ek kan dit nie glo nie. Nie iemand soos ek nie. Hoe kan God my ooit gebruik? • Hoe kan God daardie mens gekies het? Weet God dan nie watse mens dit is nie? • Of dalk, ek is nie lus of het nie tyd nie. Onthou net, God kyk anders na ons as wat mense kyk. Ons is, soos ons hier sit, elkeen van ons, is vir God baie kosbaar. As God na jou kyk dan sien Hy die kruisdood van Jesus en Hy sien wat jy nou in Jesus kan wees. So kyk God na die kinderlose Abraham en sien 'n groot nageslag ... • en na die voor op die wa en te vol van homself Josef en sien 'n nederige dienskneg van God ... 'n man wat Egipte in God se naam kon bestuur. • 'n vol van haat vir Nineviete en dus ongehoorsame Jona ... maar God sien 'n profeet vir Nineve • Sien God 'n prostituut en Hy roep haar en sy word 'n getuie van Sy Seun se opstanding • In Joh 1 ontmoet Jesus vir Simon --- kyk hom in die oë en sê: Van nou af sal hulle jou Sefas noem. Uit SefAS KOM DIE BELYDENIS WAAROP Jesus Sy kerk sou bou. Jesus hanteer Petrus soos hy weet Petrus in Hom kan wees .... en Petrus het dit geword. 'n Dienaar van God tot in die dood. Kom ons kyk uit ‘n ander hoek hierna: Wat dink jy sou gebeur het as Beethoven sy musiek onderwyser geglo het wat gesê het hy is 'n hopelose komponis. Of Edison (gloeilamp) wat by sy onderwyser moes hoor hy is te stupid om te leer. Walt Disney is afgedank deur die een of ander redakteur omdat hy te min goeie idees en verbeelding het. Wanneer gaan ons ophou om die leuens oor ons te glo? Bv Ek kan nie! Te sondig. Nie geskik. Hou op na jou eie vrese luister en of jouself te steur aan mense. En kom tot die besef wie jy regtig is. En dan die tweede vraag: Wie is Jesus? Want wie Hom werklik ken en liefhet is net anders. As ek mag sê: God hanteer ons nie soos ons is nie maar soos wat Hy ons kan laat wees. Dis hoekom Hy jou roep. Dis hoekom Hy die evangelie aan ons toevertrou. Ja, ons het dalk nie die kennis nie. En ja, ons is almal te sondig. En het nie genoeg selfvertrou nie. En ja, party het te veel selfvertroue. En ons blameer almal behalwe onsself en en en ... Maar dis nie wat God vra nie: Dink mooi. God het nie die top rabbies uit die rabbi skole gaan roep om die evangelie verder te dra nie. Ook nie volmaakte mense of die top denkers van die jaar nie. Hy roep visserman. Later ook tollenaars, prostitute en ander doodgewone mense. God roep jou! God vorm jou regte identiteit. Kom in voeling met wie God jou nou herskep het. Die dissipels is geroep om vissers van mense te wees. Matt 4: 19 “Ek sal julle vissers van mense maak. Let op: Jesus sê nie “gaan wees een of word een nie” Hy sê HY sal jou een maak. Hand 1:8 “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ....” Let weer op Sy woordkeuse: “wees” en nie “word” nie. God onthef ons van die verantwoordelikheid vir resultate. Hy vra net: Volg My. Hy doen dit met ons deur Sy Gees. Ons verantwoordelikheid is om te gehoorsaam .... om te volg ... om te doen. Mag ek jou los met die vraag wie is jy? Wie is Jesus.