Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. ‘n Tyd gelede het ek hierdie boodskap as ‘n oggendoordenking uitgestuur. Maar in die dae daarna het ek heelwat met hierdie teks in my gedagtes rondgeloop, daarmee geworstel en tot die besef gekom dat daar heelwat meer in hierdie teks is as wat mens in vyf minute kan se. So verdra my asb vanoggend as baie hiervan vir u bekend klink, maar ek kan u verseker u het nog nie alles gehoor nie. 2. Die lydensverhaal van Jesus soos dit deur Matteus beskryf word is eintlik ‘n merkwaardige en interessante gedeelte. Eintlik vreemd ook. Op die lydensweg na die gebeure in Getsemane is daar 2 dinge wat Jesus se optrede kenmerk. Eerstens word daar byna niks oor Homself en sy reaksies geskryf nie, en wanneer daar wel verwys word na wat Hy se of doen, is dit Hy wat die inisiaitief neem. 3. Daar word in Matteus se lydensverhaal merkwaardig selde verwys na wat Jesus doen of se. In ongeveer 84 verse waarin Matteus die hele gevangeneming, verhoor en kruisiging beskryf, het ons nie meer nie as omtrent 10 verwysings na Jesus nie. MAW Matteus verwys gemiddeld 1 keer in elke 10 verse na Jesus. Die res is ‘n geskarrel van mense rondom Jesus. Lees maar gerus Matt 26:47-27:56. 4. Kom ons kyk maar net na Jesus aan die kruis. Matteus beskryf die kruisiging in 23 verse. In hierdie tyd se Jesus net 3 keer iets. Hy weier om die wyn en gal te drink, Hy roep uit na God in vers 46 en Hy roep weer uit en sterf in vers 50. Dit is eintlik merkwaardig, veral as mens onthou dis eintlik die verhaal oor Jesus. Hy is die hooffiguur. En ‘n mens moet verder onthou hoe erg sy lyding moes gewees het. 5. Maar daar is letterlik geen verwysing na hoe erg dit was of hoe Hy dit beleef het nie. Waarom? Miskien help dit om te onthou dat die Evangelies nie biografiee oor Jesus is nie. Dis nie sy lewensverhaal wat opgeteken is nie. Dis die goeie nuus vir die mensdom. En slegs dit wat werklik tot ons verlossing bydra is opgeteken. 6. Maar die enkele kere wat daar wel na Jesus se doen en late verwys word is dit interessant om te kyk hoe beslissend Hy optree. Na die derde gebed is sy woorde in Matt 26:46 die volgende “Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat my verraai is hier naby”. Jesus deins nie terug nie, Hy gee homself oor. Wanneer Judas voor Hom staan, se Hy: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Wanneer een vd dissipels die slaaf se oor afkap is Jesus se opdrag skerp : “Sit jou swaard terug in sy plek” Jesus antwoord die Hoepriester in vers 64 met die woorde “Dit is soos u se”. Dit gee die Raad die gronde om Hom te veroordeel. Hy se dieselfde woorde voor Pilatus in 27:11. Nog ‘n keer bevestig Hy die beskuldiging teen Hom wat maak dat Hy veroordeel kan word. Aan die kruis roep Hy die bekende woorde “My God, My God, waarom het U my verlaat?” 7. Merk u op hoe Jesus die hele tyd in beheer is. Hy deel opdragte uit, genees die slaaf se oor, laat Judas verstaan Hy weet presies wat Judas gedoen het, en dan help Hy die Fariseers en Skrifgeleerdes uit hulle dilemma deur self vir hulle genoeg bewyse te gee om Hom te kruisig. S elfs in die aanloop na sy eie dood is Jesus die hele tyd in beheer. 8. En dit is die geweldige ironie van die hele situasie. In die verhoor voor die Raad is daar baie vals getuies, maar niks kom na vore wat bruikbaar is om Jesus skuldig te bevind nie. Daar word pertinent in 26:63 na sy stilswye verwys, maar wanneer die Raad nie goeie getuienis teen Hom kan kry nie verskaf Hy sommer self die getuies waarop hulle Hom kan skuldig bevind. Dis asof Jesus se “werklik, kom ek help julle uit want ek sien julle sukkel bietjie”. 9. Met ‘n enkele uitspraak in 26:64 neem Jesus die inisiatief. Op die vraag van die hoepriester of Jesus die Seun van God is antwoord Hy “Dit is soos u se”. Voor Pilatus gebeur dieselfde. Hy voorsien self die getuienis waarop Hy skuldig bevind kan word in 27:11. En verder swyg Hy. In die hele uitleweringsproses hierna wat 11 verse duur se Jesus niks. Wat Hy moes gese het sodat God se wil kan geskied het Hy gese. 10. Jesus neem die inisiatief en Hy gee vir die Raad die regte redes wat hulle nodig het om Hom skuldig te bevind en te kruisig. Dit was nie hulle saak wat so sterk was nie. Dit was Jesus self. Maar waarom is dit so merkwaardig? Wel, ons moet in gedagte hou dat dit gaan oor die lyding waarvoor Hy net ‘n klein rukkie tevore in Getsemane nie kans gesien het nie. Hou in gedagte: In Getsemane het Hy tot God gebid en gevra dat hierdie lydensbeker tog by Hom verby moet gaan. Hy het nie kans gesien daarvoor nie. 11. Waarom het Jesus dan sy aanklaers as’t ware uitgehelp toe Hy merk dat hulle nie genoeg bewyse kon kry om Hom te kruisig nie? Onder normale omstandighede sou ons bloot stilgebly het. Te dankbaar gewees het dat dinge darem ons rigting gaan. Juis dit wat Jesus voor gebid het daar in Getsemane wat nie moet gebeur nie, is besig om waar te word. En dan besluit Hy tog om hierdie mense presies te gee waarna hulle soek. ‘n Rede om Hom te kruisig. Hoekom doen Hy dit? 12. Wel, ons vind miskien die antwoord wanneer ons ‘n paar verse teruggaan, na die Tuin van Getsemane toe. En wanneer ons mooi kyk na wat daar gebeur het, merk ons dat Jesus drie keer gaan bid het. En hierdie was nie sommer net opskiet gebedjies nie. By elke geleentheid het hy so lank gebid dat die dissipels aan die slaap was toe Hy terugkeer. Wat het Jesus dan so lank gebid? 13. U sien, daar in Getsemane, daar het Hy die saak met God deurgeworstel. Drie keer het Hy teruggegaan om te gaan bid. Drie keer het Hy gaan pleit en met God geworstel dat hierdie lydensbeker by Hom sal verbygaan. En elke keer was God se antwoord NEE. En daar het Hy God se antwoord van NEE op sy gebed aanvaar. 14. Hoe arrogant kan ons nie soms wees nie. Loop dikmond rond wanneer God ons gebede met ‘n NEE beantwoord. Wanneer ons nie ons sin kry wanneer ons dalk een of twee keer oor iets gebid het nie. Geliefdes, as God selfs Jesus se gebed met ‘n NEE kan antwoord, wat maak ons so spesiaal om altyd te moet kry wat ons vra? 15. Jesus het God se antwoord aanvaar, na die derde keer opgestaan en sy roeping gaan uitvoer. Selfs al het Hy daarteen geskop, het dit vir Hom oor die Vader se wil gegaan. En wat was die Vader se wil? Dat Jesus die prys sou betaal. En dan gaan help Hy hierdie mense as’t ware om God se wil uit te voer deur hulle die rede daarvoor te gee. 16. Verstaan ons werklik die prys wat Jesus betaal het? Here, ek sal my lewe opoffer vir hierdie sondige mense. Al wil ek nie Vader. Al het ek gevra dat u ‘n ander manier sou kry om hulle te red. Maar as U dit so wil he, doen ek dit so! Kom, Se Jesus. Die uur het gekom. 17. Geliefdes, dis genade! Genade wat u en ek aan hierdie kant van die graf baie oor praat maar nooit sal verstaan nie. In sy laaste oomblikke wys Jesus vir ons iets so belangriks. Hy wys vir ons dat oorgawe aan God se wil al is wat saakmaak, ongeag wat Hy vra. Hy wys dat gehoorsaamheid aan God se wil steeds die beste uitkoms bied. 18. Elke keer was dit deel van Jesus se gebed. Nie my wil nie, maar U wil. En deur Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader se wil, deur Jesus se bereidwilligheid om God se wil bo sy eie te stel, red God die ganse mensdom. 19. Al ooit gedink wat God met u en my bereidwilligheid kan doen. As ons net onvoorwaardelik gehoorsaam sal wees aan sy wil? Regdeur die Skrif doen God wonders met mense wat hulself aan sy wil onderwerp. Dawid wat aan God se wil onderwerp deur aan Saul getrou te bly, want Saul was die gesalfde van God. 20. Abraham wat homself aan God se wil onderwerp het deur sy eie seun te gaan offer. Noag wat aan God se wil onderwerp deur ‘n ark in die droogte te bou en die gespot van mense verdra het. En in elke geval het God wonders deur hierdie mense se gehoorsaamheid gedoen. 21. In Joh 5:30 se Jesus dit sonder om ons te laat wonder: “….omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” En in Getsemane het Hy dit bewys. Nie my wil nie, maar U wil. 22. Is ons so uitverkoop aan God dat ons bereid is om dit uit te roep? Here, nie wat ek as ‘n persoon wil he nie, nie wat ons as gemeente of U kerk op aarde wil he nie, maar U wil alleen. Niks anders nie. Kan u dink wat die gevolg in hierdie wereld sal wees as elke gemeente en die kerk, net in SA alleen, so passievol getrou sal wees aan God se wil soos Jesus was? 23. Nie ons eie wil soek nie, nie in kerkraadvergaderings sal sit en bid dat God se wil geskied en daarna besluite neem volgens ons eie wil nie. Maar selfs tot my eie nadeel by God se wil sal berus. Dan eers, dan eers het God diep in ons harte ingekruip.