Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Tessalonisense 3:11, 4: 1 – 12. Vanoggend is baie belangrik vir die voortbestaan van hierdie gemeente en van die kerk in Suid-Afrika. Aan die einde van die diens sal jy met my saamstem. “... maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: ...” 1 Tess 4:1. Ek hoor 2 dinge vir myself in hierdie vers, en ek kan net bid dat jy jou gedagtes sal oopmaak vir dit: • In die Naam van die Here. • Dringend. Moet asb nie hieroor hardloop nie. Is jy bereid om ag te slaan op wat nou gaan volg? Suiwer omdat dit wat volg vir die Here belangrik is. Hoor jy dit is dringend? En as ‘n mens om jou kyk na vandag se christendom dan besef jy dit is weereens uiters dringend dat ons fokus op dit wat die Here vra. Stem jy saam? Dit raak ons elke dag se optrede. Hoe ons heilig leef totdat Christus kom om die skape van die bokke te skei, die onkruid tussen die koring uit te haal. Paulus doen ‘n dringende beroep op die gemeente: Lewe soos God wil hê julle moet lewe. Paulus is duidelik hieroor: Sy versoek is in die Naam van die Here. Ter wille van die Here. Kan ek byvoeg? Sodat ons nie die Here se lyding vererger nie! En om nog meer te beklemtoon, volg hy dit op met: dit is voorskrifte wat op gesag van die Here gegee is. En die gemeente ken dit reeds. Dit is nie maar net Paulus wat hier skryf nie. Hierdie is God se wil. So wil God hê ons moet wees en leef. 3 keer in hierdie deel kom die woord heilig voor. Die eerste een staan duidelik uit: Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Heilig hier is een kant gesit en toegewy aan God. Om net vir God te lewe. ‘n Lewe wat in alles wys na God en vir God lewe. Dink in terme van Romeine 14. Daar kry jy nie die woord heilig nie, net ‘n duidelike jy leef tot eer van die Here. En dit is oa wat heilig tog impliseer. 7 Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Romeine 14:7-8 In Tessalonisense 3: 13 word die woordjie anders gebruik. In 3:13 is dit jou toestand. 13 So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen. 1 Tess 3:13. God het jou heilig gemaak. In hoofstuk 4 brei Paulus dan uit en sê trek nou alles in jou lewe in lyn met dit wat God jou in Christus gemaak het. Dink anders oor jouself. Jy is nie meer die persoon wat jy vantevore was nie. Christus het jou nuutgemaak. Jy is ‘n nuwe mens. Jy is nou heilig. Christus maak dat jy heilige en onberispelik voor God sal staan. Laat God dit dan nou reeds in jou lewe sien. Laat jou heiligheid deurskyn in hoe jou liefde vir ons ander en jou liefde vir alle mense groei en oorvloedig word. Vers 1 is so mooi positief. Vers 1 sê hulle weet hoe God wil hê hulle moet lewe. En, en die gemeente doen dit ook. Mooi nê. Hier is 'n paar goed wat herhaal word: • Dit is die wil van God. • Julle weet reeds. • Julle doen dit reeds. • Lê julle nog meer daarop toe. • Dis dringend. Ek weet nie van jou nie maar ek vang my self uit dat ek goed wat ek weet nie altyd so getrou leef nie. Paulus het self ook gesê dat die goeie wat hy wil leef, leef hy nie altyd nie en die slegte wat hy nie wil doen nie doen hy wel. Paulus stel dit so mooi in Galasiërs 4:19 as hy skryf ... tot Christus Jesus gestalte in julle kry. Of dan, tot Christus Jesus duidelik sigbaar word in ons. Dit is hoekom dit so dringend is! Jesus is nog nie naastenby duidelik sigbaar in alles wat ons doen nie. Daarom: Lê julle nog meer daarop toe om te lewe soos God wil hê ons behoort te lewe. Kom ek stel die ooglopende: Daar is ons manier en selfs ‘n wêreldse manier van lewe en dan is daar God se manier waarvolgens ons kan lewe. Ons of God. Eie ek of oorgegee aan God. My eie ek manier van lewe hou my veilig in my gemaksones. God se manier van doen dring my uit my gemaksones uit, dring my selfs teen die wêreldse tydsgees in om bv selfs my vyande lief te hê. Alle mense lief te hê. Ek is bang dat ons begin dink aan terme van dinge wat ek moet aanpas. Bv dat ons net so ‘n verstellinkie hier en daar kan maak en dan is ons reg. Kan ek dan die woordjie “lewe “ vervang met “wees”? Let wel: Ek verander nie die betekenis of die bedoeling van die vers nie. Ek verander ons verstaan. Kom ek verduidelik. Lewenstyl verandering wat hou, kom van ‘n oortuiging hier diep binne in jou. Van ‘n diepe behoefte of nood. Stephen Covey het ‘n gesegde “inside out’. Daarmee sê hy bloot alles wat jy uiterlik aanpas is soos ‘n winkel wat dieselfde bestuur behou maar heropen. Dit is net die winkelvensters wat gaan verander. Ware verandering kom van binne af. Jy sit jouself onder nuwe bestuur en die nuwe besem sal skoon vee en nuwe idees en nuwe gedrag en ‘n totaal nuwe styl sal na vore kom. Ons is reeds onder nuwe bestuur. Christus het ons vrygekoop uit die mag van sonde uit. Hy, Christus stel ons onberispelik en heilig voor God ons Vader. Ons is skoongewas. Al wat oorbly is om skoon, onberispelik en heilig te lewe. Om dit wat God reeds binne in ons gedoen het sigbaar te maak. Dit wat God in ons gedoen het moet oor die kante van ons lewens oorstroom na buite. Kom ons maak dit ons doel elke week en sommer ook elke dag, om selfs nog meer te leef soos Christus. Om te leef soos God wil hê. Ons gaan nie in onsself tevrede wees met ‘n maar ek leef darem so hier en daar Jesus uit nie. Nee, ons wil in alles elke oomblik Jesus leef. Ons wil groei in die uitleef van Christus tot Hy duidelik sigbaar word in ons. God maak ons heilig en hoe nader ons aan Hom leef hoe meer skyn Sy lig, hoe meer heiligheid is te sien in ons. In Spreuke 4 lees ons dat dit wat in jou gedagtes leef word dit wat jy doen. En in Romeine 12 dan ons God moet vra om ons gedagtes te vernuwe sodat ons kan onderskei wat is God se wil en wat nie. Paulus het op gesag van Christus, aan die gemeente in Tessalonisense geskryf: “3 Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” Dan skryf Paulus verder oor die huwelik, getrouheid aan mekaar in die huwelik. En in vers 9 weer oor broederliefde. God het julle geleer om mekaar lief te hê. Lê julle nog meer daarop toe. So in hierdie deel is die liefde weer uiters belangrik. Geen wonder dit is die liefde waarin die Here die wet in opgesom het. Vers 8 Ons het gehoor dit is hoe God wil hê ons moet lewe. Ons is in die Naam van die Here versoek met ‘n dringendheid en die voorskrifte is op gesag van die Here. Vers 8 sê dan: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” Ek hoop ons hoor die erns van die deel. Ek sluit met vers 11: Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. • ‘n Rustige lewe • Geen inmenging in anders se lewens (geskinder ook nie) • Lewensonderhoud te kan voorsien Dit is die konsekwensie van om te lewe soos God wil. Kom ons lewe dan soos God wil.