Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Sagaria 1: 1 – 17 Ek is jammer maar Sagaria 1 wil my net nie los nie. Op Twitter spring baie op die wa en sê dit is die begin van die einde. Wederkoms is voor die deur. Ons moet raaksien, daar was al baie oorloë. Hierdie is nie Israel se eerste een nie. Daar was al baie aardbewings, hierdie is nie die eerste keer wat mense van die geloof afvallig word nie. Elke geslag het sy tekens gehad. ‘n Meer gepaste reaksie is om na God te draai. Maar nie om God te beskuldig of te ondervra nie. Wie is ons in elk geval om te waag om God te beskuldig of te ondervra. Ons vra nie vanoggend: Hoekom Here? Of selfs net: Hoekom laat U dit toe?, nie. En as ons iets vra dan is dit: Waarheen Here? Wat is U wil? . Stilbly, soos Job toe hy uiteindelik met God kon praat, is meer gepas. Ons kan nie doen wat God doen nie. Ons kom oorweldig en stukkend oor wat ons sien en hoor, by God sit. Nie net stukkend oor die oorloë nie. Maar stukkend oor misdaad en die ekonomie van ons land, stukkend oor die pyn en hartseer van wat gesinne beleef. Mag ons vanoggend raaksien Wie God is. Mag ons hoor wat die Here sê, regtig hoor. 1. So sê die Here, die Almagtige. Kyk weer na wat ons gelees het? Wat staan uit? Dit word ses keer herhaal. Die Here die Almagtige. Wat sê dit vir ons? Die Here is in beheer. Alle mag is Syne. En dit wat mense dink is mag, is absoluut niks voor God nie. God is net in ‘n eie liga. Niks of niemand kom naby God se vermoëns nie. Dit is hoekom Paulus kan bid dat God groter is as enigiets wat ons kan bid of dink. Efes 3 vers 20 In Jesaja 1 lees ons dat God afreken met Sy teenstanders. Maw Hy reken af met mense wat dink hulle kan teen God in opstand kom. As ek soos ‘n kleuter mag klink: Ons hemelse Vader is die grootste, sterkste, magtigste wat daar is. Dit is niks nuuts nie. Hy het alles wat ons ken, die aarde, ons sterrestelsel en en geskep deur ‘n Woord te spreek. In Eksodus 3 vra Moses na God se naam. God se antwoord was: Ek is. Vir ons is dit belangrik om te besef, die Here sê nie Ek was of Ek sal wees nie. Ja, Hy is die Begin en die einde. Hy is alles en meer. Maar om te sê Ek is, Ek is, is my Naam, is om te sê Ek is die Een wat in hierdie oomblik doen. As ek Eksodus 3: 14 uit die Hebreeus letterlik kan oor vertaal: Ek sal handelend altyd weer as God teenwoordig wees. Ek tree weer en weer op as God en Ek is daar by julle in elke oomblik. Die Almagtige by ons. Wie Sagaria 1 lees moet weet met Wie hul te make het. Ons moet die erns van wat in hierdie hoofstuk uitspeel besef en ag slaan op. 2. Op Sy tyd. 3 En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige. Zechariah 1:3 Die profete het vir hulle gesê, julle sal 70 jaar in ballingskap wees. Die eerstes van hulle is reeds 16 jaar terug in Israel. Hulle is moedeloos. Die vyandige mense om hulle probeer keer op keer pogings tot heropbou tot niet maak. Hulle dreig. Hulle spot. Met die gevolg die bouers aan die tempel het terug gegaan na hul huise en net na hul eie lewens begin kyk. Die visioen van die perde help ons iets raaksien. Die Here het hulle uitgestuur regoor die wêreld. Hulle rapporteer terug: Die hele wêreld is rustig en stil. Dit klink vir ons dalk wonderlik, maar dit is nie. Die profeet Haggai, het so 2 maande van te vore gesê, God gaan die koninkryke van die wêreld op hul kop keer. Hy gaan die volke wat Israel so vertrap het straf. Jy lees dit in die Here se antwoord aan die engel in Sagaria 1: 15 ev. Die engel was ongelukkig oor die nuus dat die hele wêreld stil en rustig is. En ja dit was so want koning Darius het alle opstand vinnig onderdruk. Die wêreld was nie vry nie. Die engel bid: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!” Sagaria 1:12 Rustig en stil is nie wat hulle wou hoor nie. Hulle wou hoor God maak hulle vry van die onderdrukking. Die engel raak haastig vir God se belofte om vervul te word. Die Here antwoord en sê Hy is besorg oor hulle en Hy gaan iets doen. Wat sê dit? Dit sê op God se tyd sal die dinge gebeur. Sagaria se naam sê ook iets vir ons hieroor. Sagaria se naam beteken Die Here onthou; sy pa se naam beteken: die Here seën en sy oupa sin beteken: Sy tyd. Sagaria word aangespreek as Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo. Letterlik: Die Here onthou om te seën op Sy tyd. Ek hoop jy hoor dat die Here steeds in beheer is oor hierdie wêreld. Dat Hy vandag nog, op hierdie oomblik veral, die groot Ek-is is. God hier by ons, in ons, om ons. Jy is nêrens alleen op jou eie nie. God is by elkeen van Sy kinders. Selfs al is hulle ongehoorsaam gewees. Selfs al het Hy terug gestaan dat die gevolge van hulle lewens hulle kon inhaal. 3. Hoe moet ons op hierdie eeue oue teks reageer? (519VC). Die Here is baie duidelik hieroor. Hy sê: 3 En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige. Sagaria 1:3 Die 2002 Vertaling stel dit so: Keer terug na My, dan sal Ek na jullle terug keer. (2020 Vertaling) Die ding wat my gryp in Sagaria 1 en weier om te laat los, is juis die terugkeer, omdraai ding. Ek wil nooit ooit beleef dat God van ons af wegdraai en wegstap en sê Eks klaar met julle. Nie eers met die belofte dat Hy oor 70 jaar weer met ons sal betrokke raak nie, of 40 jaar woestyn toe en dan kan ons saam wees weer. Nie eers een dag nie. As jy deur die profete lees dan is die volk keer op keer verstom dat God kan dink hulle dien Hom nie. In Maleagi reageer hulle selfs met maar hoe eer ons nie die Here nie? En hoe het ons U met minagting behandel? Ons is blind vir onsself. Ons dink ons dien die Here maar ons kyk die hart en siel en volle verstand mis. God is nie tevrede met ‘n bietjie hier en bietjie liefde daar nie. Hele lewe! Die fout wat ons maak is om te dink God praat met ander mense hier. Ander mense moet bekeer en terugkom na God toe. Ons vergeet Romeine 3 se almal het gesondig en is vêr van God af. Draai dan om van hoe jy leef en kom leef nog nouer met die Here jou God op Sy terme. Moet nie bly waar jy is nie, moet nie vasgevang wees in jou denke nie, leer weer om God jou gedagtes te laat vernuwe. Na wie toe keer ons terug? Na die Here die Almagtige toe. Hy is die Een in Wie se genade ons wil bly en Wie se guns en seën ons wil hê. Ons wil hê ons hemelse Vader, die Almagtige, moet stil tevrede met ons wees. Maak ‘n omkeer terug na die Here. Hy sal onthou om op Sy tyd ons te seën.