Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Habakuk 3:1-16 Hierdie is een van daardie geleenthede waar ek in my voorbereiding half pad in die proses was en toe gedring voel na hierdie teks toe. Ek gaan die Woord laat sê wat die Woord wil sê in die volgorde wat die Woord dit wil sê. Mag die Here my hierin help. Habakuk 3: 1 – 16 onderverdeel mooi in drie dele: • Habakuk se gebed (3:1-2); • God verskyn op die toneel (teofanie) (3:3-15); • en die Profeet se reaksie daarop (3:16). 1. Habakuk se gebed. Habakuk is besig om te bid. Hy begin by wat Hy van God gehoor het. Dit wat hy gehoor het van God oorweldig hom. Hy is vervul met ontsag vir dit wat God gedoen het. As hier staan “hy het gehoor” dan is dit nie maar ‘n hoor en opsê van stukke geskiedenis nie. Asof dit mooi stories is oor die uittog uit Egipte, die woestyntyd en en nie. En dan niks verander aan sy lewe nie. Habakuk is verby die storie deel en die geskiedenis deel en hy “sien” God se mag en krag. Hy trek nou by ontsag. ‘n Heilige eerbied vir God. Dit skud sy lewe. Hy sien: God is ‘n God wat doen. God is ‘n God wat agter die spreekwoordelike skerms besig is in mense se lewens. In klein oomblikke en in die groottes. God is werklik. En God is hier en orals. Nog niks het verander nie. God is steeds so. God verwag steeds ons liefde en eerbied en ontsag. En ons gehoorsaamheid. En as dit nie kom nie? Lees dan Habakuk 1 en 2. Glo my maar, jy wil nie dit beleef nie. As ons bely dat God die Lewende God is, die Almagtige moet ons dit laat deursyfer na die besef dat God is altyd teenwoordig. Jy kan nêrens wees waar God nie is nie. God is nie magteloos of net ‘n waarnemer nie. God kyk vooruit en Hy reël vooruit en dikwels sê God vooruit wat kom en wat Hy gaan doen of gaan toelaat om te gebeur. God word nooit onkant betrap nie. Hy gee opdragte. Hy laat dinge gebeur. God is ‘n God wat jy nie in reels en metodes kan vasvang nie. Hy is lewend en aktief, Hy is betrokke en Hy is die mensdom ver vooruit. Vir my verander dit alles. Dit verander veral hoe ‘n mens bid. Jou gebed word verander in verwagting ... afwagting selfs ... afwagting om te sien hoe God verder gaan met dit wat jy voor Hom gebring het. En in Habakuk sien ons dat ons God nie kan voorsê of manipuleer of intrek om te doen wat ons wil hê nie. Hy alleen is God. Hy bestuur die heelal en Hy bestuur ons lewens. En diegene wat self hulle lewens wil bestuur ... veral God uit hul lewens uit bestuur het ... hulle ontdek God as Regter. ‘n Regter wat regverdig oordeel en straf. Habakuk sê: “Ek is vervul met ontsag!” Ek het op ‘n stadium gewonder of dit die antwoorde was wat hy gekry het en of dit sy bewus word van presies Wie God is wat die kalmte in sy gemoed gebring het. Toe besef ek ... maar hy het gehoor EN hy het gesien. God het hom ‘n ongelooflik beeld laat sien ... laat sien hoe dinge gebeur as God verskyn. Die probleme is nog alles daar. Die Galdeers is nog in die prentjie. Al wat verander het is die rustigheid wat die Here in Habakuk se hart gegee het. Hy vra nie meer ‘hoekom’ en ‘waarom’ vrae nie. Hy sê net “ek het gehoor (onthou) wat U gedoen het.” En nou bid hy anders: “Here, doen tog ook hierdie dade in ons tyd!” Sy vertroue in God is terug. Hy weet die uitkoms kom. Hy weet nog net nie wanneer nie. So sy gebed verander na ‘n pleit-gebed: “Doen dit tog in ons tyd al!” Habakuk is bereid om te wag op die Here. Maar dit wat hul beleef, is so sleg dat hy pleit dat die Here tog asseblief net die ‘wagtyd’ (2:3) moet korter maak. Kom ons stop net gou. Vertroue, hoop, is gegrond in God se reputasie. As jy God ken, nie net as die God in die Bybel nie, maar prakties in ons eie geskiedenis raaksien en in jou eie lewe ervaar, en dit onthou, dan is jy oortuig daar is hoop. Niks is verlore nie. Nuwe moontlikhede kom. Maar terselfdertyd, is jy ook okay as die vyebome nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde is nie. Want God is by jou. As jy begin besef hoe groot God is en hoe aangrypend Sy verskynings is, soms self ontwrigtend, dan hou jy aan met bid. Habakuk se onthou van dit wat God gedoen het en steeds doen het gemaak dat hy kon aanhou bid. Vir my en jou is dit nie net om te onthou hoe die Here Jesus Sy lewe opgeoffer het om ons weer te kon laat deel in God se liefde en genade nie. Dit is ook die wonderwerkies, groot en klein wat ons al beleef het. Daarom kan ons hierdie kort gebed bid (3:2), ons kan dit keer op keer bid. 2 Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn. Habakkuk 3:2 Ons kan dit oor en oor bid. Bid dat die Here ook nou sal doen en uitkomste gee soos in die verlede. Uitkomste in jou en my se lewens. Uitkomste vir ons as gemeente: Herlewing. Uitkomste veral ook in die land. En as ons dit bid, laat ons maar onthou, ons verdien dit nie. Ons het regtig niks om vir God te bied nie. Dit is uit en uit genade. “Onthou tog die genade, Here, wat U nog van altyd af aan ons betoon het ... “ 2. Habakuk sien. Tot hiertoe het Habakuk nog net ‘gehoor’ wat die Here sê. Dit was genoeg vir hom om te bid dat God ook in sy tyd sal optreë. Nou laat God sy profeet iets “sien” ook. Wat jy vanoggend hier saam met my gelees het (3:3-15), is een van die volledigste beskrywings van God se verskynings in die hele Ou Testament. Boekmerk dit en lees dit weer en weer. Want dit is die Here ons God. Dit is hoe groot en magtig ons Vader is. Ons het nodig om dit te onthou. Om te onthou met Wie het ons te make en in Wie se hand ons lewens is. In 3:3-15 het ons met waarskynlik een van die volledigste en aangrypendste teofanië (Godsverskynings) in die hele Ou Testament te make. Of die profeet by die venster van sy binnekamer uitgekyk het en in geestesvervoering geraak het (soos Johannes op die eiland Patmos) weet ons nie. Wat ons aflei is dat hy dit duidelik gesien het. Sy beskrywing is skrikwekkend duidelik en aangrypend. Ek lig grepe uit ... God kom af! God kom nader! God raak (sigbaar) teenwoordig! Teman en Paran lê in die suide van die land – in die rigting van Sinai, waar God op ‘n keer in die geskiedenis Homself as die Heilige God bekend kom maak het. Sinai die plek / berg waar die verbond en wet gegee is. Dit is asof Habakuk wil sê: “Dáárdie selfde Heilige God – Hý is hier! Die oomblik om te kniel is nou!” God se verskyning bring aardbewings en ander natuurverskynsels mee. Die mooiste omskrywing hier vir my is… “Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde vol van sy roem. Hy kom met die glans van die lig, … Habakuk 3:3-4 God wil vir sy profeet sê: Kyk, Ek gryp in! Soos jy gehoor het in die verlede, so doen Ek nou weer. Ek gaan doen wat Ek gesê het. So groots en so bang maak soos die visioen is, soveel troos en hoop lê hierin vir ons. En ja, dit hang seker af van waar jy staan. “U het uitgegaan om U volk te red…” 3:13. Dit is hoekom God hierdie verskyning maak: om vir sy profeet te wys Hy sal Sy volk red. Voor ons wens ons kan so iets sien, kyk die effek wat dit op die profeet het. Dit alleen moet vir ons iets sê oor die God wat ons aanbid en Vader noem. En ons laat besef ons hoef nie te leef asof geloof en gebed geen krag het nie. In die Nuwe Testament verskyn God weer. Hierdie keer anders. As Sy Seun in die vorm van ‘n baba. Om te kom red. 3. Habakuk is oorweldig. Die visioen is verby. Habakuk is gedreineer oor wat hy gesien en gehoor het. Sy hele liggaam voel lam. Sy lippe bewe Sy bene ruk spasties. As dit die effek is wat die visioen op Habakuk gehad het ... dink jou in as God fisies voor jou kom staan ... daar sal niks oor wees van ons nie ... Habakuk se eie woorde word minder. Soos Job van ouds, word hy al stiller, soos die gesprek met sy Skepper vorder. Habakuk word al hoe dieper bewus van hoe groot die Heilige God is. Aan die begin het hy nog gebid, geroep: “Here, hoe lank nog? Waarom, Here? Hoekom dan, Here?” Nou word dit oorgawe ...: “Ek sal op U wag, Here …”. En dan word Habakuk tjoepstil. In 3:16 ... is dit net stilte, vrees en ‘n gesidder. Dit is ons God. Wees versigtig hoe jy oor Hom praat of dink. Of oor die toekoms. Kom ons sluit ons oë en ons word net stil ... stil voor Hom wat gesê het Ek is by julle tot aan die voleinding van die wêreld (Matt 28) en ook waar 2 of 3 in My Naam vergader is Hy by ons.