Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
DANIEL 3:1, 5, 6, 8-13, 16-27 1. Daniel is ‘n boek wat afskop met baie opwinding. In die eerste gedeelte beindruk Daniel vir Nebukadnesar deur te bly by sy dieet en God so te verheerlik. In hfst 2 verklaar Daniel Nebukadnesar se droom wat geen towenaar, goëllaar voorspeller of sterrekyker kon voorspel of verklaar nie. En in beide hierdie twee verhale vind ons een ding wat soos ‘n paal bo water staan: Dat God verhewe en superieur is teenoor Nebukadnesar en al sy afgode. En selfs Nebukadnesar begin dit erken. 2. En hierna volg ‘n verhaal wat seker elke kind een of ander tyd in Sondagskool leer. Die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond. Maar vandag gaan ons verby die Sondagskool weergawe strek en ek wil he ons moet probeer kyk wat het werklik hier gebeur. 3. Ek wil begin deur vir u ‘n agtergrond en konteks te gee oor die verhaal. Maar hier is ‘n uitdaging vir u: Wanneer ons vanoggend klaar is, wil ek he u moet teruggaan en die verhaal weer lees. Lees die hele verhaal weer deur met al hierdie agtergrond inligting en kyk hoe dit u gedagtes beinvloed teenoor dit wat u reeds weet en gehoor het oor die verhaal. 4. Vers 1 van Daniel 3 begin so: “Koning Nebukadnesar het 'n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babel.” Heel moontlik is dit wat Daniel hier beskryf ‘n groot steen waarop ‘n figuur uitgekerf is en waarop inskrywings gemaak is. Dit is hoe beelde in daardie tyd gemaak is. Maar let mooi op: Daar word nie uitdruklik gese dat dit ‘n beeld van Nebukadnesar is nie. Maar die indruk word gewek dat dit wel iets is wat hom verteenwoordig. 5. Nou is dit belangrik om te onthou dat toe Daniel Nebukadnesar se droom in hfst 2 verklaar het, het hy gese dat die kop van goud Nebukadnesar verteenwoordig. So dit lyk asof Nebukadnesar Daniel ernstig opgeneem het en ‘n beeld van homself van goud gemaak het. Maar steeds, ten spyte van alles vergeet Nebukadnesar dit wat hy van God geleer het in die insident in hfst 2. TSV sy sogenaamde “bekering” in hfst 2:47 het hy voortgegaan en ‘n afgodsbeeld laat maak. 6. So wat ookal die vorm van hierdie beeld was, kan ons glo dat dit baie groot en majestieus was. Hierdie beeld was 30 meter hoog en 3 meter breed, en dit was gemaak van goud. Dit was geweldig baie goud. Nou hou in gedagte dat die gehoor aan wie Daniel se boek gerig is was Jode in ongeveer die 2de eeu vC. 7. Alhoewel die verhale van Daniel vir jare in die omgang was, is alles eers op skrif gestel ongeveer 2 eeue voor Christus. En die Jode wat hierdie boek van Daniel lees is in baie moeilikheid op daardie stadium. Hulle is onder die mag van ‘n volk genaamd die Seleukiede. ‘n Nasie wat die Jode verbied het om die Joodse geloof te beoefen. Die Seleukiede het die tempel ontheilig en die Jode gedwing om hul kultuur te laat staan en die Griekse kultuur aan te neem. 8. En wanneer Daniel melding maak van goud sou dit hierdie 2de eeuse gehoor van Daniel herinner het aan die oorsprong van hul onderdrukking. Goud was die belangrikste edelsteen in die Seleukiede se ekonomie en dit sou die Jode herinner het aan dit wat hul onderdrukker soveel mag gegee het. Soos wat Nebukadnesar goud in sy beeld gebruik om sy mag aan te dui, so het die oorvloed goud ook in die 2de eeu vC die Seleukiede se mag verteenwoordig. En Daniel se gehoor sou dadelik hierdie konneksie gemaak het. 9. Maar dis nie net goud wat die Joodse gehoor se aandag sou aangryp nie. Daniel praat in vers 1 van die dal van Dura. Nou die Duradal was ‘n plek waar Antiogus die 3de en 4de, van wie albei Seleukiediese heersers was, baie tyd deurgebring het in afgodediens. Dit was gelee langs ‘n gewilde handelsroete en was die tuiste van ‘n tempel ter ere aan Zeus. 10. So net soos wat Nebukadnesar ‘n groot, valse afgod in die streek opgerig het wat vir almal sigbaar was, so het die Seleukiede jare later ook gedoen ter ere van die afgod Zeus op dieselfde plek. En net soos hierdie Jode in die 2de eeu vC gedwing is om te besluit of hulle hul geloof gaan versaak en die valse gode van die Seleukiede aanbid, so moes Daniel se 3 vriende ook hierdie keuse maak. 11. Dit is voor die hand liggend dat Daniel se gehoor 2 eeue vC hulleself duidelik sou kon vereenselwig met Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle omstandighede was dieselfde en daarom sou die ervaringe van die 3 vriende vir hierdie Jode soveel beteken het. 12. Nou nadat Nebukadnesar die standbeeld opgerig het, gee hy opdrag aan al sy amptenare dat hulle die boodskap moet versprei dat almal hierdie goue beeld moet aanbid. Hy gee dan ‘n lys van instrumente en kondig aan dat sodra die mense hierdie instrumente hoor speel, hulle moet neerbuig en hierdie afgod aanbid. Maar hier is iets interessants omtrent die instrumente wat hy noem. 13. Hierdie instrumente was verteenwoordigend van sekere klasse of groepe mense. Bv die fluit is gebruik deur boere of die armes, die lier is weer gemaak van ivoor en duur metale wat net deur rykes besit en gebruik sou word, ens. MAW ALMAL moes Nebukadnesar se beeld aanbid. Maar dis hier waar dinge ‘n ander wending begin neem. 14. Direk nadat die dekreet uitgevaardig is lees ons dat astroloë na Nebukadnesar toe kom en Daniel se 3 vriende verkla dat hulle nie hou by Nebukadnesar se opdrag nie. So Nebukadnesar laat kom vir Sadrag, Mesag en Abednego en gee hulle duidelike instruksie dat hulle voor sy beeld moet buig as hulle die instrumente hoor speel, andersins sal hulle in die vuuroond gegooi word. 15. Maar net soos wat Daniel nie Nebukadnesar se kos in hfst 1 kon geeet het nie aangesien dit teen die wet was, net so weier sy 3 vriende om voor die beeld te buig. Want ook dit sou teen God se wet wees. In vers 18 se die 3 vriende vir Nebukadnesar: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” 16. En let mooi op. Net soos in die vorige hoofstuk toe Daniel Nebukadnesar genader het met beloftes dat hy sy droom sou uitle sonder enige bevestiging van God af dat Hy Daniel in staat sou stel om dit te doen, net so vind ons dat sy 3 vriende getrou bly aan God sonder enige bevestiging van God se kant af dat hulle ongeskonde hierdeur gaan kom. 17. In albei gevalle kon hierdie manne net op hulle geloof staatmaak. En hierdie is so ‘n kragtige herinnering van wat geloof is. Geloof is om in God te glo, nie net wanneer ons rede het om Hom te glo nie, maar juis wanneer ons geen rede of bevestiging het dat Hy dit wel sal doen nie. 18. Ons is getrou aan God nie omdat ons glo dat God sal doen wat ons wil he of vra nie. Ons is getrou aan God omrede ons Hom aanbid vir wie Hy is. Dis om God te aanbid en te dien selfs as dit voel asof ons geen rede het om dit te doen nie. Daardie tye wat God stil is, wat alles verkeerd loop, maar diep binne WEET jy net dat jy getrou moet bly aan God. DIS geloof. 19. En dis presies wat Daniel in die vorige hoofstuk gedoen het en wat sy 3 vriende nou doen. Luister na hulle reaksie teenoor Nebukadnesar: “……Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie,….”. Daar was geen versekering dat hulle lewend sou bly nie. Geen versekering dat hulle ongeskonde sou wees nie. Dis geloof in God dat wat ookal gebeur, Hy ‘n uitweg sal beredder, al is dit dan ook dat hulle Hom sal verheerlik deur hulle dood. 20. En kom ons wees eerlik. As ons kyk na wat volgende gebeur, is dit ‘n feit dat hulle geloof groot moes wees. In sy woede beveel Nebukadnesar dat die vuuroond nog 7 keer warmer gemaak moet word. Hierdie is natuurlik ‘n Aramese idioom wat beteken dat hulle die vuuroond so warm as moontlik gemaak het. Dit was so warm dat dit die manne wat die 3 vriende in die oond gegooi het, doodgebrand het. 21. En wat Daniel hier doen is om ons te laat verstaan dat daar letterlik GEEN hoop meer is nie, behalwe vir God! En Daniel gee vir ons detail wat ons soms mislees net om vir ons te verduidelik hoe hopeloos die situasie was. Hy verduidelik in detail die klere wat die 3 aangehad het, en hy se vir ons dat hulle vasgebind is. Want selfs voordat hulle sou doodbrand sou hulle klere vernietig gewees het. 22. MAW Daniel wou he ons moes presies weet hoe hulle gelyk het toe hulle in die oond gegooi is. Want die oomblik wat hulle in die oond gegooi is, besef almal dat iets nie heeltemal lekker is nie. Nebukadnesar kyk in die oond in en sien dat hulle nie meer vasgebind is nie maar vrylik rondbeweeg. Later lees ons “……dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie.” 23. MAW die vuur wat Nebukadnesar se wagte doodgebrand het, doen absoluut niks aan S, M en A nie. En dan vertel Daniel vir ons hoekom dit so was. In vers 23 gee hy vir ons ‘n leidraad: “Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval.” En Daniel se hierdie woorde met opset. 24. Want die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir “val” is die woord “nepal”. Dis ‘n woord wat ook gebruik word vir iemand wat neerval in aanbidding en verering. Inteendeel, dis dieselfde woord wat in vers 6 gebruik word wanneer Nebukadnesar se dat almal moet buig en die beeld aanbid as hulle die instrumente hoor. Hierdie woord buig is eintlik ‘n swakkere vertaling. Want uit die Hebreeus word hier dieselfde idee geskep van neerval en aanbid of vereer as in vers 23. 25. Maar hierdie 3 manne val nie voor die koning se beeld in aanbidding neer nie, maar val in die vuur in aanbidding neer voor die God op wie hulle hulle hoop vestig. Selfs al word hulle uiteindelik in die vuur gegooi, bly hulle steeds getrou aan God. En wanneer Nebukadnesar in die vuur inkyk sien hy nie 3 persone nie, maar 4. En die 4de se hy, lyk soos ‘n hemelwese! 26. In die oorspronklike Hebreeus staan daar dat hierdie persoon soos ‘n seun van die gode lyk. Nou hierdie is “n Aramese frase wat verwys na geestelike wesens wat deur God gestuur is om hierdie persone te beskerm. Maar die frase seun van God is ook ‘n idioom in Hebreeus om te verwys na God self. 27. Hoe dit ookal sy, wat Daniel probeer om vir ons te vertel is dat God ook saam met S, M en A in die vuuroond was. Of dit in die vorm van ‘n engel was of selfs Jesus was, want dis mos wat ons as gelowiges aan dink as ons die woorde Seun van God hoor, of dalk bloot net God se teenwoordigheid wat so oorweldigend was dat dit byna onmoontlik was om dit in woorde om te sit. 28. Die punt is: God was daar, en geen vuur of afgod kan met Hom vergelyk word nie. En selfs Nebukadnesar besef dit aan die einde van die hoofstuk. Hyself verklaar dat God geen gelyke het nie. En vir gelowiges wat in die 2de eeu vC geleef het, wat vir hulle geloof vervolg is, mense wat gedreig is totdat hulle afgode aanbid het, vir hulle was S, M en A ‘n teken van hoe geloof moet lyk. 29. Hulle mag gevoel het asof alles verkeerd loop, dat hulle op die punt staan om te sterf. Kan u dink hoe desperaat hulle moes wees? Maar steeds kies S, M en A om getrou te bly aan God. En hulle bly beslis nie getrou aan God vir WAT Hy vir hulle kan doen nie. Nee, daarvan getuig hulle woorde in vers 18. Want hulle was nie seker of God hulle gaan help of nie. Maar dit was nie vir hulle relevant nie. Hy is God! Hulle bly getrou aan Hom vir WIE Hy is. Want dit gaan vir hulle oor God. 30. En daarvan getuig hulle woorde in vers 17 genoeg. Want Hy is die een wat mag het, Hy is die een wat kan red. En dan volg hulle woorde “maar selfs as Hy dit nie doen nie….”. Selfs al sou die vyeboom nie bot nie, selfs al sou daar nie druiwe aan die wingerde wees nie. 31. Selfs dan nog sal ons Hom dien. Want ons dien Hom nie vir WAT Hy kan doen nie, maar vir WIE Hy is. Dit is geloof! Geloof is nie ‘n gereedskapstuk waarmee ek God se arm kan draai om te doen wat EK wil he nie. Geloof is om te glo dat God is wie Hy se Hy is, ten spyte van wat ookal gebeur. Selfs al sou Hy nie doen wat ek vra nie, steeds sal ons geen ander god dien nie.