Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hebreërs 4: 12 – 16 Vandag 90 jaar gelede het die Bybel vir die eerste keer in Afrikaans uitgekom. Ons is dankbaar. Daar is min dinge so lekker as om God se Woord in jou eie taal te hoor nie. Baie mense misken die Bybel as die Woord van God. Vir baie is dit ‘n ou geskrif vol stories deur skaapwagters. Hulle mis iets groots. Iemand groots. Jesus die Christus, is die ware Woord van God. Johannes evangelie skop af met: 1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by God. 3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4 In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Joh 1:1-4. Jesus is die Woord van God. Hierdie bundel boeke, wat ons die Bybel noem, is in God se hand, kragtig. Hierdie boek in God se Hand is meer as net die ervarings, visioene, openbarings van God aan mense. Dit is meer as geskiedenis, meer as poësie, meer as wysheidsliteratuur of watter ander genre hierin voorkom. As ons die Bybel oopmaak dan bid ons dat die Helige Gees met krag deur die woorde in ons sal werk. Gelowiges sê al baie jare dat die Bybel is waar ‘n mens God die meeste hoor. Ek kyk nou onlangs, so twee weke terug, na ‘n video van Rightnowmedia, oor stil word. En die aanbieder asook ‘n non met wie hul gesels sê: Elke dag gewaarborg, kan jy die Here se stem hoor. Nou het jy my aandag: Elke dag, gewaarborg, kan jy God se stem hoor. Die Bybel, oop in jou hand, met jou hart oop vir die Heilige Gees, sal jou laat hoor wat God sê. In die 80tiger jare het ek met ‘n man gesels wat meen ek sal hom niks van die Bybel kan vertel nie. Hy was iewers in Afrika ‘n huursoldaat en is gevang en vir jare in die tronk gesit. Daar, vertel hy my, het hy die Bybel seker 15 keer deurgelees. Dalk was dit net die Nuwe Testament. Maar dis steeds ‘n klomp keer. Ek het egter die ideë gekry hy het dit gelees soos ‘n storieboek. En God gemis. Iemand het gesê: Daar is ‘n paar dinge in die lewe wat vir dit om te werk, moet dit oop wees. ‘n Valskerm. Jou sambreel. Jou verstand. Vanoggend wil ek byvoeg: Jou Bybel ook. Met ‘n geopenheid vir God gelees. Hierdie bundel boeke en briewe, in God se hand, word die Woord van God. Ek sê dit, bewus van klem verskille, goed wat mense as foute beskou, bewus van vertaal probleme en die hermeneutiek agter latere invoegings en wat is oorspronklik en wat later ingevoeg. Hierdie is in God se hand die Woord van God. Dit is al God se liefdesbrief genoem. En dis vir jou! Daar is iets belangriks wat ‘n mens moet besef. Die Woord in God se hand kan fyner sny, dissekteer, as wat die meeste mense besef. Die Woord kyk deur jou en breek deur al jou maskers en innerlike wegsteekplekke en dop jou om. Dit is met die Bybel in die hand en jou hart en verstand oop vir God wat die Woord jou diepste bedoelings en hartsake raakvat en omkeer. Kom ek gee jou ‘n voorbeeld: Dinsdag by die Bybelstudie het ek ‘n ander manier van Bybel-lees met die groep gedoen. Ek het ‘n vers opgebreek in enkel woorde, en of ‘n kort frase. Ek het dit op klein stukkies papier geskryf. Ek het die papiertjies lukraak uitgedeel sonder om te kyk vir wie gee ek wat. In God se hand, het iets meer gebeur as bloot ‘n groepie mense wat op ‘n ander manier ‘n vers gelees het. Een persoon het gesê: Dit strook met wat vanoggend in my lewe gebeur het. Hierdie ding het gebeur en nou praat hierdie deel met my daaroor. Iemand anders het gesê, hierdie woordjies op hierdie papiertjie, dit is my antwoord op iets waarmee ek van Sondag af mee geworstel het. Nog 2 ander het soort gelyke belewenisse gehad. As vers 12 sê “Die woord van God is lewend en kragtig, asook “dit is skerper as enige swaard met twee snykante”, dan weet jy jy moet gereed wees want die Woord gaan jou onkant vang, jou gaan verras of gaan druk waar dit seer maak. Ander kere sal dit jou optel. Of jou aanmoedig. Ons het almal al beleef dat jy die Bybel lees en hier is ‘n antwoord op iets waarmee jy stoei. Ek is al ‘n paar keer daardeur. Die een keer was dit rondom ‘n tannie van 92 wat vra ek moet bid dat sy kan sterf. En ‘n ander dame van 48jr oud vra bid dat die aneurisme in my nek nie bars want ek wil lewe. Toe sterf sy en die tannie van 92 het nog geleef tot op 94. Ek het in die Psalm rondgeblaai, my oog getrek deur ‘n deel oor die krag van ‘n perd, terug geblaai om te kyk watter psalm dit is en in op die linkerkantste bladsy in Psalm 31 my antwoord gekry. Enige een wat ‘n bekende deel weer na ‘n tydperk lees, weet daardie selfde oorbekende deel kan jou verras met nuwe insigte, of bloot net jou aan die hart gryp en jou trek tot nuwe gehoorsaamheid. Want soms maak ‘n deel nie sin nie. Verstaan jy dit nie, net om ‘n maand of ‘n jaar later die selfde gedeelte te verstaan asof dit so eenvoudig is soos nog iets. Kom ons sê vir mekaar, sonder doekies om te draai, God weet alles. Alles! Vers 13: 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee. Hebrews 4:13 Dit is beter dat die Woord ons lees en dissekteer en ons donker dele belig en gesond maak, as om onder die oordeel van God te beland oor daardie goed wat ons juis probeer wegsteek of gedink het God sal nooit hiervan weet nie. Alles lê oop en bloot voor Hom. Ook jou en my se lewens. As ‘n mens dit besef dan bid jy Heer wees ons genadig. Dit bring ons by die tweede deel van Herbreers 4: 12 tot 16. Dit is die deel waar daar genade is. Waar Jesus self vir ons intree by God en om ons halwe pleit. Romeine 8 sê die Heilige Gees en die Here Jesus pleit vir ons. So kom ons werk saam met Hulle sodat Hulle nie tevergeefs pleit om ons onthalwe nie. Ons doen dit deur vas te hou aan ons geloof. Geloof soos ons dit bely. Ons bely dat ons sondaars is wat deur net die genade van God gered en nuut gemaak word. Nou hou ons hieraan vas deur te leef soos die nuwe mense wat Jesus ons gemaak het. Ja, ons val en sukkel en staan op en slaan neer by wyse van spreke. Ons kry dinge verkeerd en doen weer sonde. Ons raak moedeloos met onsself en met ander. Maar ons moet nie bly lê nie. Ons moet nie tou opgooi nie want Jesus het nooit tou opgegooi toe Hy aan die kruis in ons plek gehang het nie. Ek het in my diensplig dae op Grootfontein ‘n plakkaat gehad met ‘n Amerikaanse voetbalspeler wat moedeloos sit met sy helmet in die hand en sê: “I Quit.” In die hoek van die plakaat is die kruis en die woorde: I didn’t Quit. Vers 15: 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Hebrews 4:15-16 Jesus verstaan dis moeilik. Jesus verstaan van swakhede en versoekings. Ons kan na Hom toe gaan met dit alles. Wat ons nie kan doen nie is om op te gee. Want Jesus gee nie op op jou nie. Kom weg van die idee, niemand sal weet nie, en begin nee sê vir alles wat jy nie sal wil hê God en mense van moet weet nie. Verse 12 en 13 maak ons gereed om Jesus te “sien”. En ons sien Hom as Hoëpriester, as Iemand wat verstaan, al keur Hy dit wat ons gedoen het nie goed nie. As die Een wat ons by God se genade uitbring. En as jy vou, onthou, Jesus is ons Hoëpriester. Kom na Hom toe. Hy het jou lief. Jy het hoop.