Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Efesiërs 2: 11- 22 (en Romeine 3: 23, 24 en 1 Kor 15:10) Die ou Halleluja liedjie sing: Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet? Mense is opgetrek met wat gebeur na die dood. Ander sal vir jou vra maar wat word van jou as jy vannag dood gaan? Vir ander voel die dood vêr weg of hulle wil bloot nie daaraan dink nie. Dr Isak Burger het ‘n baie populêre boek gehad oor die 5 Minute voor en na jou dood. Mag ek vir jou vanoggend vra: Wat word van jou as jy nie vandag sterf nie? Leef jy of word jy geleef? Ons praat nie hogere kerktaal vanoggend nie. So, los maar die katkisasieboek antwoorde. Ek is ernstig: Wat word van jou as jy nie vandag doodgaan nie? Ek weet die werk druk jou. Ek weet jy is bekommerd oor baie dinge. Ek weet jy voel jy het nie meer tyd vir jouself nie. Jy voel soms of jy nie kan asemhaal nie. Of dalk voel dit net alewig of jy more ‘n groot toets skryf maar nie eers weet waaroor nie. So wat word van jou as jy nie vandag doodgaan nie? Die popgroep ABBA, het jare gelede ‘n liedjie gesing “The day before you came”. In daardie liedjie sing hulle “It’s funny, but I had no sense of living without aim The day before you came” Sy het sonder doel geleef. Elke dag dieselfde roetines slaafs uitgeleef: Werk toe, Huis toe. Eet. Slaap. Werk. Ek het al baie mense ontmoet wat nog nooit besef het dat hulle lewe soos ‘n vasgehaakte plaat, dieselfde ou selfde oor en oor afspeel nie. Hulle leef sonder sin of betekenis tot op die dag wat Jesus se genade skielik hulle oë oopgemaak het. Die dag waarop Jesus in hulle lewens ingestap het en alles skielik anders en mooi en wonderlik was. Ek bid so dat vandag vir jou so ‘n dag sal wees. Dat na die Heilige Gees met ons klaar is vanoggend ons sal sing, ook ek het geen gevoel van betekenis gehad tot voor die Gees van God my aangeraak het. Vat maar vir Paulus. Paulus het gedink sy lewe is vol betekenis en hy is goed oppad om hierdie begaafde rabbi te word. Tot die dag wat die Here vir Paulus met een woord uitgehaal en omgedop het. Nee. Dit staan nêrens so uitgespel in die Bybel nie. Maar as ek deur Paulus se skrywes lees dan is daar een woord wat baie, soos in baie, voorkom. Dit is een woord wat jou lewe kan verander. Soos Paulus s’n. En myne ook. ‘n Woord wat ek baie kosbaar vind want dit het vir my ‘n nuwe wêreld oopgemaak. Charis. Genade. Paulus gebruik hierdie woord 100 keer in sy briewe. Hier is twee voorbeelde: Romeine 3: 23, 24 23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Van nul tot 100 deur een woord. Van ter dood veroordeelde tot vrygespreekte deur God se genade alleen. 1 Kor 15: 10 10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. Hoe meer ek hierdie vers oor en oor lees hoe dieper sink dit by my in: Ek het niks bereik nie. Ek is nie spesiaal nie. Ek is op die heel beste in God se oë ‘n ter dood veroordeelde misdadiger. En dat die oordeel is meer seker as belasting en die dood. As dit nie vir Jesus was nie dan was dit klaar met my. Net Jesus staan tussen my en God se oordeel. En die woord wat beskryf dit wat Jesus gedoen het is genade. As jy nadink oor Paulus se bekering op die Damaskuspad en die dae daarna dan besef jy as Jesus nie vir Paulus genade bewys het nie dan was hy steeds die haatlike Saulus. Hy het dit nie verdien nie. Eintlik verdien hy die teenoorgestelde. Jesus moes hom daar en dan uitgehaal het. Hy het die kerk vervolg. Hy het mans en vrouens geweld aangedoen oor hulle geloof. Hy was fanaties. Charis. Genade. En Saulus word in Christus Paulus. ‘n Nuwe mens wat sy lewe toegewei het aan Jesus. Victor Kuligin reken dat Paulus vir ongeveer 30 jaar lank vir Jesus gewerk het. En dat hy in daardie 30 jaar ongeveer 24 000 km afgelê het, te voet en soms per boot. Geen luukshede. Baie lyding. Die genade het gemaak dat Paulus sy lewe gewy het om vir die hele wêreld te vertel waar genade gevind kan word. In Jesus. Bt God. Almal moes dit hoor. Of hulle dit verdien of werd is of nie ... daar is genade in Jesus te vind. Genade, as jy dit in jou laat insak en tuiskom soos God wil, dan verander dit jou hele lewe. Dan is jy nie meer verslaaf aan elke begeerte wat kop uitsteek in jou nie. Hier, reg aan die begin van hoofstuk 2, skryf Paulus: Ons is nes die wêreld gedryf deur dit wat ons begeer. En dan praat hy van sondige begeertes. Ons het eintlik nie deel het in Christus nie. Of, beter gestel, ons moet eintlik nie deel hê aan Jesus nie. Hy gebruik woorde soos: Uitgesluit; ver van God af. Sonder deel aan die verbond en die beloftes van God. Sonder hoop. Sonder God in die wêreld. Ons moet niks in die kerk en by God as vanselfsprekend beskou nie. Maar toe het Christus in ons lewens ingekom. En nou is alles omgeswaai. Dis anders. Nou is ons een met Christus Jesus. Hoor jy dit? Jy is een met Christus Jesus. Hy is die betekenis en die sin in ons lewens. Hy gee die sin. En Hy, Jesus, is die sin van ons lewe. Hy is hoekom ons hier is. Ons is hier vir Hom. Vir die Here. Ons is nie meer ver van God af nie. Jesus het ons naby aan God gebring. Elders lees ons net hoe naby: Ons liggame is tempels vir God. Dit het gebeur deur die bloed van Jesus wat vergiet is aan die kruis. Sy dood koop vir ons lewe. Sy dood en opstanding maak ons kinders van God … dws as jy glo in Jesus. Christus is ons vrede. Ek het hierdie week weer met iemand gesels wat sielsongelukkig is. En ek loop gereeld mense raak wat kwaad is. Hulle voel hulle het rede om kwaad te wees en rede om ongelukkig te wees. Hulle is gelowig en kwaad. Gelowig en siels ongelukkig. Dis hartseer: want Christus is ons vrede, skryf Paulus (vers 14). En Christus het vrede gebring waar dit ondenkbaar was: tussen Jood en heiden. Christus het ons versoen met God. Hy het die vyandskap tussen mense vernietig en ons oor grense heen saamgevoeg tot een liggaam. Vandag skree politici vyandskap en haat. Eks jammer: God het reeds vrede gebring. Die mensdom moet dit nog net begryp. Dalk moet ons ook begryp hoe belangrik dit vir God is. As die meisie van Abba sing oor die dag voor haar liefde opgedaag het, dan sing ons vanoggend vers 17: 17 Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18 Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Efesiërs 2:17-18 Vrede vir julle. Vrede vir jou ook. Vrede. Ek gee jou geleentheid om saam met my te bid vir genade.