Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
HAND 9: 36 – 43 God is op pad met Petrus. God is oppad met Sy kerk. En dit herinner ons skerp dat God vandag nog besig is om 'n pad te loop met elkeen van ons. Woensdag 9 Augustus vier ons Vrouedag. Ek vir een sal dink aan my ma en oumas, skoonmas, my dogters en vrou. Ek sal God dank vir hulle. Daar is ook die Emily Hobhouse en baie ander wie se name ons nie ken nie wat ‘n verskil gemaak het. Maar ek wil by die Bybel bly. So kom ons kyk na die lewe van ‘n vrou wat ‘n verskil gemaak het. Ons het verlede Sondag na haar verwys. As God Hom aan 'n mens verbind dan stap God die pad ent uit met jou. Sê die Skrif dan nie duidelik dat God laat vaar nie die werk van Sy hande nie en in Johannes 17 bid die Here Jesus dat nie een van die wat die Vader aan Hom gegee het het verlore gegaan nie behalwe Judas. Netso het nie een van ons se pad met God gestop nie. God het nie een van ons afgeskryf of weg gegooi op enige manier nie. Al het ons met tye dalk van God vergeet, het God nooit van ons vergeet nie. Trouens, jy en ek is almal op God se agenda. Ons is steeds projekte waarmee Hy besig is. En ons is steeds die mense wat Hy in die oog het om hierdie gemeenskap waarin ons leef en daar waar ons werk mee te wil verander. Kom ek verduidelik. Ons moet nie hier vaskyk teen Petrus of Tabita nie. Dit gaan in hierdie deel oor God wat besig is met Sy kerk. En as ek sê besig is met Sy kerk dan bedoel ek met elke indiwidu. Want sien die kerk is die gelowiges wat Hy uit Jerusalem uit moes dryf sodat hulle gehoorsaam kan raak en die evangelie die wye wêreld in kon vat. Soos die opdrag was. En die kerk is Fillipus wat orals moes preek. En op die Damaskus pad moes gaan loop sodat God vir Ethiopië kon bereik. En die kerk is Ennas en Dorkas en die vroue om haar wat afhanklik was van haar hulp. En die kerk is jy. En dis ek. En dis die ander gelowiges wat nie vanoggend hier sit nie. God se kerk is mense. Nie 'n instansie soos NG of AGS nie. God se kerk is soos Sy liggaam in 1 Kor 12 oa mense. Mense wat vir God werk en nie werk vir 'n “kerk” wat nie bestaan nie. God se kerk is ‘n liggaam in beweging na ander mense en dieper in God se koninkryk in. Gelowiges. Gelowiges wat geroep is om God te dien. En God is oppad met Sy gelowiges. Daarom gaan dit nie hier oor Dorkas nie. Ook nie oor Petrus nie. Dit gaan oor God wat die noodkreet van die arme vroue hoor en vir hul weer uitkoms bring. Dis God wat Petrus in die omgewing plaas. Hierdie deel is binne in 'n groter deel wat vertel hoe het God die gelowiges gebruik. • Die gelowiges wat deur die vervolging uitmekaar gejaag word en orals waar hulle gekom het oor Jesus gepraat het. • Fillipus – om wonders en tekens te doen (8:6); en hoe die Heilige Gees vir Fillipus langs die Gasa pad neersit om met die Ethiopier te praat (8: 26 ev) • Saulus se bekering vanaf die Joodse geloof tot Christus. • Ananias wat vir Saulus moet gaan bid sodat lg weer kan sien (9:10 ev) • Petrus wat vir Eneas sê: “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” En Eneas was gesond en mense het hulle tot die Here bekeer (9: 32 – 35) • Tabita wat altyd besig was om goed te doen en die armes te help. En in die verloop van die vertelling word gesê Tabita is dood. Hulle het Petrus laat kom. En hy het gebid. En God het haar lewend gemaak. Dit gaan oor God wat deur Sy mense ander mense bereik en help. Dit gaan oor God wat begaan is oor wat gaan nou van daardie arm weduwees sonder heenkome word. Dit gaan nie oor Tabita as sulks nie. Die hemel is 'n wonderlike plek. Dit gaan oor God wat omgee vir mense wie se enigste hoop God is. Maar kom ons kyk na Petrus se pad met God. God is in die boek Handelinge nog besig om Petrus te slyp. God is besig om Petrus te bevry van sy voooropgestelde idees oor heidene en nog wat. Al daardie ongeskrewe reels wat elke kultuurgroep het ... bv oor man wees en vrou wees. Oor leerlooiers wat jou onrein kan maak oor hulle met dooie diere werk ... so as jy 'n goeie Jood is dan vermy jy sulke mense. En oor heidene wat jou onrein kan maak. God was besig om Petrus vry te maak van dit. Hy laat Petrus tuisgaan by Simon ... die leerlooier. Hy bring hom in kontak met gelowiges van ander taalgroepe ... hier die Grieke. God is besig om Petrus te verander ... kyk maar na hoofstuk 10 oor die laken met onrein diere uit die hemel. .... Want God wil Petrus kan gebruik om Cornelius en sy huisgesin te red. Netso loop God met elkeen van ons 'n pad. 'n Pad wat nie eindig by die doop of by belydenisaflegging nie. Daar kom nie 'n tyd wat God soos ons sê “my kind jy's nou groot gaan krap jou eie potjie nie.” God bring jou nie tot bekering en skuif dan aan na die volgende persoon nie. Hy bly jou gebruik en Hy bly jou verander ... vernuwe. En ja, dit gebeur oor tyd. Kyk na Saulus .... wat Paulus word en drie jaar gevorm word voor hy kon begin preek. En Josef. En Petrus. En nee. God wag nie tot jy klaar verander is voor Hy jou begin gebruik nie. En nee, daar is niemand wat Hy nie wil gebruik nie. So, al is Hy besig om Petrus se kop verder te swaai, gebruik God hom solank om Eneas gesond te maak. En toe vir Tabita ... omdat God omgee vir die arme weerlose weduwees. God loop met jou reeds 'n pad. Hou op vasskop. Kom ons toets onsself ... nee, kom ons skud onsself wakker .... Wat gaan gebeur as ek al die name wat ek genoem het uit hierdie deel haal ... Fillipus, Paulus, Tabita en Petrus .... sou daardie gemeenskappe dit agter gekom het? Sou hulle gevoel het dis 'n geweldige slag? Vir die weduwees wat so stil stil deur Tabitha versorg is was dit baie sleg. Hier sit ons, 'n gebou “vol” van gedooptes ... mense van wie die Bybel sê die Heilige Gees woon in hulle ... en ek wonder .... as ons sou sterf – sou die gemeenskap regtig verlore voel sonder ons? Of as ons oornag sou verhuis, sou daar mense wees wat hardop huil want wie gaan nou vir hul sorg? Kom ons sien raak dat dit God is wat doen en dat Hy dit doen deur gewone mense heen. Nie perfekte mense nie, maar mense soos ons ... mense waaraan Hy nog vorm en slyp en vergewe. En kom ons wees beskikbaar. En mag Deneysville God alhoe meer kan dank oor jou.