Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Efesiers 4: 13 – 16 Kan ek vanoggend sommer net gesels? Soms klou ons so vas aan hoe dinge behoort te wees want dis hoe dit altyd was, dat ons die Heilige Gees beperk. Ek haal die dinge op want Efesiërs 4 is nog altyd gesien as diѐ hoofstuk in die Bybel oor kerkwees. Hier is wat pla: In die volksmond praat ons van kerk toe gaan terwyl die Gees en die Woord ons elkeen tot kerk maak. Ons, die gelowiges weet dit. Tog leef ons ‘n ander storie. Een waar kerk daar bo in die hoofstraat is. Of waar ‘n sinode die kerk is. Nee. Ons is volledig kerk. Ons hier te saam is die samekoms van die gelowiges. Dis ook ‘n erediens waar dit oor God gaan en nie oor ons nie. En ons wat God saam kom aanbid en dien. Hiermee saam kom ‘n krisis soos gemeentes tans orals beleef. Teveel gelowiges het verbruikers geword. Hulle wil goed voel eredienste hê. Hulle wil versorg en bedien word. Ek blameer hulle nie. Die gemeente-strukture was so opgestel dat daar diakens en ouderlinge en ‘n dominie is wat ons moet dien. Lidmate werk rondom ‘n basaar. Dit is nie verkeerd nie maar dit is ook nie ‘n 100% korrek nie. Ons ander oorge-erfde siening is dat ons dink geloof is privaat. Dit is tussen my en God. Nee. Geloof vat ons met ons gawes om vir ander te gaan wys en selfs sê wat God in ons lewens doen. En nou, vandag, is die gemeentes in die moeilikheid. Wat sê die Bybel? Dit is tog ons maatstaf. Die Bybel sien ‘n gemeente as ‘n liggaam. Elkeen het gawes en elkeen dien mekaar en die Here met hulle gawes. 1 Korinthiers 12 is groot hierop. Ons baklei nie vanoggend nie. Ons bekyk ‘n probleem: Leë sitplekke. Afvalligheid van geloof in die sin van minder en minder mense leef nog werklik uit hulle geloof uit. Hulle word lou. En die Here het gesê as jy lou is spoeg ek jou uit. As ons redeneer dat ons produk verkeerd is. Ons bied nie vir mense, die verbruikers, dit wat hulle wil hê nie, dan bly hulle weg. Mense wil ‘n orkes hê. En mense wil dit of dat hê. Maar wat wil God hê? God wil liefde hê. En as jy dit sê dan sê jy ook God wil gehoorsaamheid hê want Johannes 14 sê met herhaling wie God lief het, gehoorsaam Hom. En Efesiërs sê ons moet mekaar in liefde verdra. En ons moet die vrede wat God tussen ons gee bewaar. Ons is vredemakers. Nie skeur-makers nie. God wil, soos enige ouer, groei sien. Hy wil vrug op Sy insette in jou en my in hê. Ons is God se kinders vir wie Hy baie lief is. En God belê ongelooflik baie in ons. God gee en gee en gee en gee. (Dis mos waarvoor NG staan ... God wat gee en gee en gee en gee). In die deel wat ons saam gelees het gee God vir elkeen van ons gawes. En as jy kyk na Efes 1 dan is ons ingestop met al die gawes van die Gees wat daar in die hemel is. Hoekom? Hoekom het God vir jou en my geseën met al Sy gawes van Sy Gees? God rus ons toe. Hy lei ons op om ons plek in Sy koninkryk vol te staan. Kan ek sê “om ons plek in Sy familiebesigheid vol te staan”? Die gawes wat God ons gee, kom nie van self nie. Dit is letterlik 'n geskenk van God aan jou en almal om jou. God gee hierdie gawes soos Hy wil. Sien maar Efesiers 4: 7 en 1 Korinthiers 12: 4- 11 met veral vers 11 wat sê die Gees gee die gawes soos Hy wil. Ons het nie 'n sê hierin nie. Ons ontvang net. God se bedoeling is dat ons met hierdie geskenke, ons gawes, ons plek sal kan volstaan in Sy liggaam. Let wel: Elke enkele een van ons moet sy of haar plek inneem volgens die gawes wat God vir jou gegee het. Sou ons weier om die plek vol te staan wat Jesus aan jou toewys, dan bly daardie plek leeg. Iemand anders kan dit nie namens jou doen nie. Kom ek verduidelik so: As ek die gebruik van my regterhand verloor dan gaan ek swaarder steun op my linkerhand. Ek het nog 'n regterhand, maar dis nutteloos. Dis gestremd. Dis daar ... jy kan dit sien ... maar ek kan nie meer skryf of teken of vat daarmee nie. En my linkerhand kan dalk vat maar die skryfdeel gaan regtig sukkel. Netso sukkel gemeentes dikwels omdat van die ledemate van daardie deel van die liggaam nie hulle kant bring nie. Hulle ignoreer hulle gawes en gooi dit as't ware terug na God. Hulle sal dit seker nooit so sien nie, maar in effek is hulle soos 'n broer of suster wat niks met die ander boeties en sussies uit te maak wil hê nie. En die ouer wat dit beleef se hart word verskeur. Vir my is die mees basiese om myself te bly vra: Hoe lief het ek vir God? Hoe gecommit is ek werklik aan die Here? In hoe 'n mate beheer Hy my hele lewe ... of het ek dele terug geneem ... as dit of dat gebeur sal jy met jou ou voor bekering maniere opdaag? Om wie gaan kerk wees vir my? Oor myself? Of werklik oor liggaam van Christus wees? Maw oor God. God se doel met jou lewe is dat jy met die gawes wat Hy jou gegee het mense en Hom dien soos en waar Hy jou wil gebruik. Die gawes is nie net vir gebruik in die “kerk” nie. As jy kyk na die gawes dan besef jy God het ongelowige mense en gelowige mense ook in die oog. God gee mense om ons op te lei. Apostels, profete, evangeliste, leraars en herders. Hy gee die mense met 'n doel en die doel is om ons toe te rus. So kom ons kyk hoe raak dit ons. God wil vir jou en my toerus vir ons diens. Dis God se eerste bedoeling. Hy wil jou toe rus. As ek so rofweg werk op 4 Sondae per maand, en dit vermenigvuldig met 12 dan kry ek so 48 preke wat iemand per jaar hoor. En as ek neem vanaf ouderdom 21 tot 60 en dit vermenigvuldig met die 48 preke per jaar, dan kom ek uit by 2112 preke wat jy in daardie 44 jaar gehoor het. 2112 “lesings” oor geloof. Dit is ‘n goeie opleiding. As ek dink hoeveel lesings luister 'n student na voor hulle graad vang, dan is u en ek waarskynlik met al ons eredienste bygewoon en bybelstudies gedoen seker al op 'n meestersvlak? God rus ons toe vir ons diens sodat die liggaam van Jesus opgebou kan word. Dit is slegte nuus vir die ou wat dink hy kan op sy eie kerk wees los van 'n gemeente af. Ons taak is om die liggaam van Christus te help opbou. Die gemeente is Sy liggaam. Dis die deel oa, waar ons die opbou werk moet doen. Gaan kyk nou weer na Handelinge. God gee geloof. God gee Sy Heilige Gees. En die gemeente werk met hulle gawes. Party soos Dorkas doen dienswerk. Sy maak klere en deel uit vir die armstes van armstes onder die weduwees. Ander getuig. Ander redeneer in die sinagoges met die Jode. Nog ander leer mense van Jesus. Party, soos Barnabas bemoedig mense. En God laat die kerk groei. Soms met 3000 mense per keer. God bevestig Sy woord met wonders en tekens en die mense kom tot geloof. Daar staan dat die mense die gemeente in Jerusalem goedgesind was. Hoekom? Want hulle het mekaar versorg en oor kultuurgrense mekaar ondersteun. Hulle het mekaar gedien. Elkeen met sy gawes het saam met God gewerk en die gemeente opgebou. Nie net in getalle nie, maar ook in geesvervuldheid en toeweiding. As ek my nou die prentjie moet indink dan het die mense opgemerk hierdie mense het verander. Hulle is anders. Hulle het die liefde vir mekaar gesien en begin vra om deel te wees. Hulle het huis toe gegaan en hulle liefde vir God gaan doen oral waar hulle gekom het. Is dit nie die kopskuif wat ons vandag in hierdie tye moet maak nie? Is ons nie dalk net so vasgevang in ou tradisies van kerkwees en ou maniere van groot word dat daar nie meer plek is vir die liefde van God as dit kom by die dinge nie. Die hele kerkstelsel was ingerig op die versorging van lidmate en nie, as ek na die resultate kyk, om lidmate te help om die vreugde van diens aan God te beleef nie. As ons dan dien en opbou, dan sal ons kom by die punt waar ons almal regtig een sal wees in ons geloof. Nie meer verdeeld nie. Maar besig om op te groei na Christus toe. Ons sal volgroeid in Christus wees. Gaan lees asb weer Efesiërs 4. Sit stil met die doel van die gawes. Met volgroeid word en groei na Christus toe. Na volwasse wees. Ek weet nie van jou nie, maar ekke wil nie meer ‘n kind wees nie. Ek wil ons roeping om soos Jesus te word in wat ons leef en is, vervul. Hy, Jesus, die Christus, is ons hoof. Ons het nodig om elkeen individueel te fokus op groei en gesamentlik op groei in Christus, na Christus toe. En elkeen van ons ons funksie te vervul sodat hierdie deel van Jesus se liggaam haarself kan opbou in liefde (vers 16) Kom ons begin deur saam te bid vir dit.